Kunstenaar se voorstelling van 'n Persiese Koningin. Sien die NOTA aan die einde van die stuk vir meer oor die prent. |
“Ons het hierdie skat
egter maar net in kleipotte – die allesoortreffende krag kom van God en nie van
ons nie.”
2 Korinthiërs 4:7
Mens en dier ding raserig mee om gebruik van die besige
roete uit Susan na die res van die magtige Persiese Ryk. Dit was nog altyd so,
veral daardie dag meer as drie jaar gelede, toe die honderd-en-tagtig dae fees
tot ‘n einde gekom het, op die sewende dag van die spesiale fees in die
paleistuin. Ek het op daardie dag ook my lewensmoë . oë by die venster van my
kamers uit laat dwaal na die vrolike wit
en karmosyn lappe wat met purper koord gedrapeer was, aan skitterende goue
ringe, onder in die tuine. Die koning
was tussen sy raadgewers aan tafel, luidrugtig na ‘n week se
onophoudelike feesvieringe. Goue bekers in elke vorm en grote tot oorlopens
gevul met die beste wyn uit die koninklike kelders. En Xerxes se oë was dof met
die toorkuns van die druif en sy dawerende lag het waansinnig in my ore
weergalm. Ek het in weersin weggedraai, na die sewe knielende eunugs agter my.
Sandelolie en muskus het dapper meegeding met die reuk
van sweet, maar sonder sukses. Bewend het hulle daar voor my gekniel, marionette
aan onsigbare toutjies van hul meester met sy alkohol deurdrenkte brein en
onstabiele humeur. ‘n Koning, gebore en gemaak.
Mehu’man, die geskastreerde wat effens voor die ander,
nader aan my voete, gekniel het, se hande het bewerig op die pienk marmervloer
voor my uitgesprei gelê,
sy vingers soos opgestopte worse ingeperk deur ‘n enorme juweel aan ‘n goue band om elke vinger. Die toonbeeld van nederigheid, weerspreek deur die ringe aan sy vet hande. Elkeen ‘n geskenk van my man aan sy getroue dienskneg.
sy vingers soos opgestopte worse ingeperk deur ‘n enorme juweel aan ‘n goue band om elke vinger. Die toonbeeld van nederigheid, weerspreek deur die ringe aan sy vet hande. Elkeen ‘n geskenk van my man aan sy getroue dienskneg.
Ek het weer gesluk aan die glas wyn wat ek voor hul koms
afgesluk het, my maag het gedreig om die hele purpermengsel summier op te
bring, by aanhoor van sy smalende versoek. Bizta, Harbo’ana, Bigtha, Abag’tha,
Zethar en Karkas, my man se gekastreerde persoonlike lyfknegte, het met hul voorkoppe teen die koue vloer
gelê, aanbidders van plesier, eerder as hul koninging en buitendien, dit was
drukkend warm in my kamers, die marmervloer koel.
Ek het die swaar, juweel
bedekte sleep van my hemelsblou rok gelig, my oë gerig op die houtdeure, waar
ek gestop het, dankbaar dat ek daar moes wag dat my lyfwagte die deure oopmaak.
Sonder om terug na die veelkleurige gespuis, steeds knielend op die
marmervloer, te draai, het my stem sag en hees, saam met die warm wind uit die
woestyn, oor hul koppe gesweef.
“Julle kan vir my heer
en meester sê dat ek nie aan sy versoek sal voldoen nie.” Binne my het my bloed
en asem begin kolk en draai en borrel – Ek
is ‘n koning se dogter, ‘n koning se kleindogter en ‘n koning se vrou – waaghalsig
in my weiering, trots in my herkoms. Die nasmaak van goeie wyn, het ek gedink
terwyl ek stadig deur die oop deure gesweef het, verskil sekerlik nie veel van
die nasmaak van goedkoop wyn nie. Dit het nou suur geword in my maag en die
walglike walms het na buite gebeer.
Ek het die gewig van die
kroon op my kop en die onskatbare waarde van die halssnoer om my nek gevoel toe
ek deur die oop deure gestap het, wat stadig agter my en die skaamtelose
versoek toegegaan het. Die goud van my
lang turkoois en saffier oorbelle het vlugtig koud en verdoemend aan my nek
geraak, toe ek my kop effens knik vir ‘n glimlaggende gas, en die swaar
houtdeure uiteindelik bymekaar kom en die laaste skrefie van die
toneel daaragter uitwis.
Ek het ‘n glimlag om my granaatrooi lippe forseer, my
wimpers toegelaat om sagkuns op my hoë wangbene te rus, om my oë te
bedek, voordat ek plaasgeneem het, op die ereplek. Ek het my oë stadig
oopgemaak toe ek ‘n diep asemteug geneem het en die oordaad op die tafel voor
my ingeneem het. Disse berei om te beïndruk. Nie om ‘n koningin te vereer nie.
Koningin.
Nie my man se vrou nie. Sy besitting.
Wat hy vir my gevoel het was niks meer as wat hy vir
enige van sy ander kosbare besittings gevoel het nie.
My titel was leeg.
My posisie was netelig.
Geen vrede en vervulling
in my posisie as koningin en vrou nie.
Ek onthou hoe die gebraaide vleis voor my op die tafel se
geur walglik gemeng het met die swaar soet parfuum van die vrou oorkant my en
hoe onaptykweklik sweet en selfbelang gemeng met jogurt, room en groente enige
versigtig voorbereide fees kon maak.
Ek is die dogter van ‘n
koning, die kleindogter van ‘n koning en die vrou van ‘n koning. Niemand het my
nog ooit gevra wat ek wil hê nie. Ek spring in my gedagtes, hier waar ek op die
dak van my nederige huisie sit en na die besige stukkie pad tuur, weg van
daardie fees, meer as drie jaar gelede, na ‘n tyd lank voor my lewe as Xerxes
se vrou.
Ek gooi my kop agteroor, sluit my digte wimpers oor die
kamers van my siel, toe dieselfde vrees my momenteel oorval, wat my daardie nag
so lank gelede oorval het, toe Darius, my man se vader, ons paleis binnegestorm
het en my pa doodgemaak het.
Die paleis, my huis, het van soldate gewemel en ek het die veiligheid van my vader, en koning van Babilonië, se teenwoordigheid gaan opsoek. Veiligheid.
‘n Wrang glimlag sprei om my lippe. Ek sien hoe my hand, wat reik na die vergulde beker, gevul met bloedrooi granaatsap, bewe.
Die paleis, my huis, het van soldate gewemel en ek het die veiligheid van my vader, en koning van Babilonië, se teenwoordigheid gaan opsoek. Veiligheid.
‘n Wrang glimlag sprei om my lippe. Ek sien hoe my hand, wat reik na die vergulde beker, gevul met bloedrooi granaatsap, bewe.
Die eens magtige Belsásar het so half dwars oor sy skryftafel gelê.
Ek staar geskok na die deinende rooi vloeistof in die beker en sit dit hard op die tafel langs my neer, ongedrink. Die rooi sap spat moedswillig oor die rand en land in vet rooi druppels op die wit ivoortafel. Soos bloed.
Daar was baie bloed.
Ek was daardie aand kaalvoet en my pa se bloed onder my voete was nog warm. En
glibberig. Soos warm vet het dit my voetsole gesmeer en ek het gegly, geval.
Die soet reuk van bloed, mensvet wat brand en sweet het aan alles om my
gekleef. My eens trotse vader se starende oë het hulpeloos na my gekyk. Ek wou
gil, maar instede van ‘n gil het ‘n vet stroom geel gal en die bitter
oorblyfsels van my laaste maaltyd as ‘n prinses in my vader se paleis oor my
lippe gespuit en sieklik gemeng met die bloederige gemors onder my liggaam. Die
koning kon nie meer sy kind beskerm nie.
Dit is waar my aanstaande skoonpa my gekry het.
Sy hande was ongenaakbaar, groot en koud, toe hulle om my
bo-arms sluit, sy lippe in ‘n grynslag vertrek oor die sig wat ek moes maak en
die reuk wat aan my gekleef het – die reuk van sy oorwinning oor die Babiloniese
Ryk. Hy het my regop getel uit die
gemors, toe my oppasser se bevreesde uitroep vanaf die deur opklink. “Prinses!”
Die naaste aan ‘n moeder wat ek ooit gehad het. Ek het rukkend begin huil, my
hande na haar uitgesteek maar sy is voor my in ‘n koplose plas bloed omgetoor
deur ‘n Persiese soldaat met ‘n magtige silwer swaard.
“Bélsasar se dogter?” Darius het sy oë vraend na my
gedraai, weersin vir my kots- en bloedbesmette wit nagjurk, wilde hare en stank
duidelik in die frons op sy voorkop en die strak lyne om sy mond. Wel, ek sou jou graag in my posisie wou sien,
het ek weerbarstig gedink, die eerste welgevormde gedagte deur newels van
vrees. Hoop was opgesluit in sy vraag – as prinses was ek vir hom iets werd. En
ek het my kop gelig en in sy oë gekyk met die oë van ‘n prinses en nie ‘n bang
kind nie. Die dogter van ‘n koning. Die kleindogter van ‘n koning.
“Ek is.”
Hy het geknik en my lewe was gered. Omdat ek die dogter
van’n koning was. Min het ek toe geweet…
Die soldaat wat my oppasser tot ‘n plas bloed en hoop
beendere omskep het, het disrespekvol
op haar los grys hare getrap, wat wild om haar kop gestaan het, voordat hy dit
van haar liggaam verwyder het met die swaai van sy magtige lem, gereed vir
verdere bevele van sy heerser. “Beskerm haar met jou lewe. Vat haar na my harem
toe met instruksies aan die eunugs om haar as vrou vir Xerxes voor te berei.”
In ‘n oogwenk, met die kap van swaard en die bevel van ‘n koning was ek ‘n politieke pion, uitgekies as 'n koningin in 'n vuil wit nagjurk vol kots en bloed. ‘n Besitting wat twee magtige ryke sou saamsnoer tot eer van die een ryk wat in daardie nag van bloed en vuur getriomfeer het. En op daardie oomblik, in die ru hande van die bevelvoerder van Darius se leermag, het ek onverklaarbaar daardie feestelike dag nog langer terug onthou toe die Jode se God woorde teen die paleismuur in Sy eie hand geskryf het en hierdie nag van oorwinning deur Meders en Perse voorspel het.
Ek leun nadenkend met my ken in my hand. In die laaste
paar maande het ek al meermale oor Hom gewonder. En ek vermoed dat hierdie ook
nie die laaste keer sal wees nie. Daardie laaste dag van die fees, met die
geure van vet, sous, vleis en soet gebak
en klanke van dronk uitbundige feesgangers, wat deur die groot oop vensters
ongehinderd van onder in die tuin opgesweef het na die beskutte binnehof van
die koninging se kamers in die paleis, was nooit aan my voorspel, soos my pa se
ondergang voorspel is nie. Hierdie God van die Jode is ‘n raaisel vir my. My wispelturige gedagtes spring terug na meer onlangs, en in die kamers van my brein sit ek weer aan daardie feestafel, nadat die swaar houtdeure my sig van die sewe eunugs versper het, nadat Memu'han sy koning se skokkende versoek aan my oorgedra het.
Ek het daardie feesdag gedwee aan die tafel bly sit met die walglike geure van ‘n sewedae ou fees om my totdat die laaste vroulike gas haar vertrek geneem het en aan my eer betoon het. Ek het nadenkend terug na my privaat vertrekke beweeg, gevolg deur giggelende en fluisterende diensmeisies in fladderende rokke van die fynste linne. Ek het toe geril en ril nou ook, toe ek die grynslag op Meres se gesig onthou, die laaste keer toe ek Xerxes se kamers verlaat het en hy oppad na binne was. Ek was geklee in my vleiende wit en roos kamermantel van linne, my hare lank en los tot op my heupe, my lippe geswel en rooi van Xerxes se soene en my borste gevoelig na sy liefkosings. Ek was nog besig om my sluier om my hare en gesig te drapeer toe hy ongenooid binnegekom het, gevolg deur Memúkan en Admáta. Die paleis was, en is seker steeds, ‘n maalkolk van intrige, sameswering en gekonkel om mag en najaag van eie belang en rykdom.
Ek het vir dae niks van
die koning of sy sewe getroue raadgewers, die prinse van Mede en Persië gehoor
nie, nadat ek sy belaglike versoek om voor hom en sy drinkeboers te verskyn, in
die publiek, van die hand gewys het. Soos ‘n trofee. Ek onthou hoedat ek moedeloos, daagliks, na die
afbeelding van Ahura
Mazda gestap het, hande omhoog, net om weer onverrigter sake weg te draai van
die beeld van die wyse man met die groot vlerke agter hom. Noudat ek terugdink,
wens ek ek het toe meer geweet van die God van die Jode.
My vertroueling en persoonlike eunug, Hegai, het saam met
my daardie dae in my kamers deurgebring, sy toekoms was op die spel, nes myne. Sy
gesig, hele liggaam het slap geword en op die hoop kussings naaste aan hom
neergesyg, net soos my ou oppasser van lank gelede, toe sy onthoof is, toe
Memukan uiteindelik die tyding bring. Meres was saam met hom en hul triomfantlike glimlagte en arrogante houdings het die tyding voor die woorde oorgedra. Hierdie was hul segetog - die uiteinde van samesweerdery en manipulasie van hul
heerser.
‘n Enkele groot robyn,
die kleur van my vader se bloed, bonkig geset in glinsterende goud, die
kleur van die Persiese Ryk, het aan Memukan se wysvinger gepryk toe hy sonder
ommehaal en met groot vertoon ‘n boekrol ooprol. “Die koning het ‘n wet van
Mede en Perse uitgevaardig. U mag nooit weer voor hom verskyn nie, aangesien u
deur u weiering om voor hom te verskyn, geen respek aan hom, u heer en meester
betoon het nie en dit u nie beskore is om as sy koninging te regeer nie.” ‘n
Histeriese borrellag het byna deur my lippe geglip voordat ek dit met mening
onderdruk het en my kop ‘n fraksie gelig het, sodat ek die pretensieuse
raadgewer vanuit die hoogte kon aankyk. Ek het geen respek teenoor my man getoon
deur te weier om voor hom en sy dronk vriende en staatshoofde te verskyn nie.
Dit was, is steeds, lagwekkend. Daar word niks in hierdie wet vermeld van sy
disrespek teenoor my nie en wat die politieke gevolge van so verskyning wel vir
hom sou inhou nie. Nee, wyslik was dit verswyg.
Te regeer. Hierdie woord het wel ‘n fyn glimlag om my sensuele lippe
ontlok en ek kon die verbasing op Memukan se gesig lees voordat hy dit
meesterlik verberg het. Was dit hoe hulle my netelige posisie as weggevoerde
weeskind van ‘n vermoorde koning en toe as besitting van ‘n ander koning
beskryf. Regeer.
“Is dit al?” Ek het die fyn, snobistiese glimlag wat om
my lippe gehuiwer het, versigtig in plek gehou, my hande ontspanne langs my
sye, my rug regop en het gehoop die sonstrale weerkaats verblindend op die
saffiere en pêrels in my kroon, wat Hegai inderhaas in my hande gestop het toe
hy verneem het dat Memukan en Meres oppad was na my toe.
In sy hopie ellende op die kussings agter die twee
raadgewers het Hegai se kop verbaas opgeruk. Memukan kon nie weer sy
verbasing weggesteek nie. “Majesteit? Dit beteken u is nie meer koninging nie,
dat u …”
Ek het my rug op hom gedraai sodat hy nie die glimlag wat
my oë laat skitter het soos die kosbare stene in my kroon, kon aanskou nie. Ek
moes eers ‘n paar tellings neem om my stem te dwing om gematigd en vry van
verligting te laat vloei, soos balsemende water oor warm voete wat ver op ‘n
grondpad gestap het.
“Dankie Memukan.” My laaste daad as koningin. Hy was
verdaag en dit het my onbeperkte genot verskaf om die verslaentheid op sy gesig
te lees.
Hegai het kreunend orent gekom toe die deure agter die twee
amptenare toegeswaai het. Met hande oor sy vet
maag saamgevou het hy my skreefoog benader, die enigste mens wat sedert my
aankoms as weeskind in hierdie paleis hom oor my ontferm het “Majesteit?”
Ek het glimlaggend my hande na hom uitgesteek. “Vashti.
My naam is Vashti. Het jy nie gehoor wat Memukan lees nie? Ek is nie meer ‘n
koninging nie.”
Ek het sy hande gelos en in in die rondte getol in die
sonstreep wat deur die venster op die marmervloer geval het. My rok van geel
linne het die son se vriendelike straal in fladderende linnehande gegryp en
gedans saam met my hart en liggaam. “Ek is nie ter dood veroordeel nie en ek is
ook nie verban nie. Ek is vry.”
Hegai het sy kop geskud. “Vry? U gaan geskuif word na een
of ander klein agterkamer van die harem met geen luukse nie. Geen diensmeisies
nie, niks.”
‘n Borrellag bollemakiesie holderstebolder uit my mond.
“En ek gaan nie meer bang hoef te wees dat my kos vergiftig word nie. Ek gaan
van geen belang vir niemand wees nie. Uit die weg van hul omvattende
sameswerings en konkelary. Vry Hegai. Vry! Vir die heel eerste keer in my hele
lewe.” En vry van Xerxes se hande en mond
en liggam. Vry.
Hegai het net sy kop geskud.
Ek sien die Hebreeuse
diensmeisie van ver aankom en trippel die trappe na onder, gretig om die deur
vir haar oop te maak. Gesprekke met die vrou oor haar God is vervullend en
inspirerend. Ek skud my kop. Hy kan nie vergelyk word met Zahura Mazda nie. Sy
verwys na Hom as koning. Hy klink vir my so anders as die konings wat ek ken,
geken het, waarvan ek afstam.
Haar glimlag is opreg en
stralend toe ek die deur oopmaak.
“Die koningin sal baie
bly wees om te hoor dat die materiaal wat sy vir u
gestuur het se kleur u so mooi pas. Daardie linne is dieselfde skakering as U Hoogheid se oë. ”
gestuur het se kleur u so mooi pas. Daardie linne is dieselfde skakering as U Hoogheid se oë. ”
Ek glilmlag ingenome. “Dankie. Kom in. Vertel my al die
nuus van die paleis.”
Sommige van die amptenare waarvan sy praat is vir my ou bekendes en ander is bekendes wat nie in die magstruwelinge deel gehad het toe ek daar was nie, maar nou hoogty vier. Mordegai, die koningin se oom, se naam word baie genoem en Hegai. Haman klink na iemand wat ek bly is ek nie mee te doen gehad het nie. Intriges in die harem vier steeds hoogty. Daar is ‘n nuwe meisie, Amestris wat klink asof sy die lewe vir enige koningin soos taai dadels in warm stroop kan maak.
Sommige van die amptenare waarvan sy praat is vir my ou bekendes en ander is bekendes wat nie in die magstruwelinge deel gehad het toe ek daar was nie, maar nou hoogty vier. Mordegai, die koningin se oom, se naam word baie genoem en Hegai. Haman klink na iemand wat ek bly is ek nie mee te doen gehad het nie. Intriges in die harem vier steeds hoogty. Daar is ‘n nuwe meisie, Amestris wat klink asof sy die lewe vir enige koningin soos taai dadels in warm stroop kan maak.
Ek leun nadenkend terug teen die songebakte muur agter my
en verlustig my aan die hitte wat deur my linnerok sypel om teen my rug af elke
ledemaat te liefkoos, amper soos hierdie God van Hadassah. Ek maak my oë
momenteel toe – in die twee jaar wat sy koningin is in my plek het sy baie
vermag. “Sy is ‘n besonderse meisie, hierdie Hadassah wat Hegai Esther gedoop
het.”
Die Joodse diensmeisie, lag saggies, rig haar oë na die lawende blou
van die hemel. “Dit is nie sy nie, meesteres. Dit is Jahweh. As Hy in jou hart
lewe en jy plaas jou bestaan en voortbestaan onverwaardelik in Sy Hande, erken
vrywillig en met oorgawe dat jy niks is sonder Hom nie en dat jy alle beheer
aan Hom oorgee, dan gebeur daar goed in jou lewe.”
‘n Ligte wind uit die woestyn veeg warm oor die dak van
my eenvoudige woning en laat die dadelboom wat langs die huis groei se blare
ritselrig beweeg en hul swart skadus soos Xerxes se persoonlike lyfwag oor die
klipvloer sluip. Beheer oorlaat aan ‘n
onsigbare god.
“En wat as Hy kies om jou lewe in chaos te verander? Ek
verstaan nie hoe ‘n mens so lukraak kan besluit om jou lewe in iemand anders se
hande te plaas nie, Meira. Ek was my hele lewe net ‘n pion, ek gaan nie weer
beheer daarvan oorgee aan iemand anders nie, veral nie ‘n god wat nie myne is
nie.”
Haar hand is sag en warm toe sy dit op my arm sit. Soveel
liefde en geduld straal uit haar oë en ‘n rustige vrede - ’n vrede wat ek nog
nooit ervaar het nie. “Maar Hy is u God meesteres. Hy beloof dat as u Hom soek
sal hy na u toe kom. As u dors is mag u kom drink.”
“Hy is Esther se God, nie myne nie. As wat jy sê korrek
is, dan het hy my as koningin verwyder om haar in my plek aan te stel, om die
Jode te red. Vir Hom is ek ook net ‘n pion.”
Ek voel die angs in my opbou – Hy is nie my God nie. Is daar
enige kans dat Hy dalk my God ook kan wees? Onverwags duik beelde uit die
laaste drie jaar op voor my geestesoog. Daardie eerste paar maande nadat Die
Wet uitgevaardig is, was ek tot groot vermaak en genoegdoening van verskeie
byvroue, slawe en raadgewers geskuif na ‘n klein agterkamer in die harem, presies
soos Hegai voorspel het. As dit ook nie vir hom was nie, sou ek die gevaar
geloop het om van hongerte om te kom. Dit was dae wat my wil om aan te hou leef
tot die uiterste beproef het. Ek het al Zarathushtra se geskrifte gelees – dit
het my geen vrede gebring nie. Net kennis.
Hegai het my van die Joodse meisie vertel wat vir hom
uitgestaan het tussen die honderd nuwe vroue wat in die harem ingebring is. Sy
het dieselfde vrede as hierdie slavin van haar uitgestraal. Nadat sy koningin
geword het, het sy haar oor my ontferm, en my saak by die koning, wat steeds
sommige dae sy spyt oor sy ondeurdagte optrede uitgespreek het, bepleit.
Uiteindelik het Mordegai, met Xerxes, of Ahasveros, soos
die Jode hom noem, se goedkeuring, vir my hierdie huis bekom en ‘n jaarlikse
toelaag. My vreugde daardie dag toe ek verneem het ek is nie verban of ter dood
veroordeel nie, is nog elke dag vars in my geheue. Ek herkou nog elke dag
daaraan soos ‘n kameel aan ‘n dadel, verlustig my elke dag aan die vreugde van ‘n
ongebonde lewe, aan die idee dat my LEWE MY EIE IS, en nou sit hierdie Jodin
hier en verklaar dit ‘n wanopvatting.
Die Jodin staan op. “Die sleutel tot hierdie raaisel is
vertroue Meesteres. U sal sien. Hy wag reeds vir U om na Hom te kom, Hy wag met
ope arms. Ek sal weer volgende week kom. Koninging Esther het gemeld dat sy ook
graag wil kom, maar u weet hoe dit is.”
Ek knik ingedagte, haar woorde tegelyk swaar en lig in my
hart. Hy wag vir my. Ek gly van die kussings af tot op my knieë,
kop in my hande, slegs vaagweg bewus daarvan dat die Jodin die dak verlaat. Vertroue. Oorgawe. Alles waaraan ek
ontkom het. Ek sien weer daardie hand wat teen die muur by my vader se fees
skryf. Almagtig en Majesteus. Kan dit
wees dat Hy wat my pa, ‘n koning, se ondergang voorspel het, vir my wag?
Die woorde borrel uit my hart – woorde vir Zahura Mazda
het uit my mond soos klippe rondom my voete geval. Hierdie woorde, hierdie
woorde wat uit my siel losgeskeur word en by mond uittuimel sweef soos die
manna waarvan Meira my vertel het, oor die klipmuur, word een met die warm wind
en sondeurdrenkte hemel in sy glorieryke majesteit. Woorde wat smeek om
erkenning, vergifnis en die moed om daardie vertroue te hê waarvan Meiria praat
en wat uiteindelik vrede bring.
Toe ek daar opstaan, ure later, het die son soos ‘n goue
bal vol beloftes aan die hemelruim gehang. Ek het nader aan die God van
Hadassah beweeg en Hy het nader aan my gekom.[1]
In die week wat daarop gevolg het, het ek die vrede wat ek in Meira se oë
gesien het, gevoel. God het met my, Vashti, dogter van ‘n koning, kleindogter
van ‘n koning en gewese koningin van die magtige Persiese Ryk gepraat. En Hy is
nie meer net Koningin Esther en Meira of die Jode se God nie. Hy is nou ook my
God. ‘n Heer en Meester voor wie ek juigend en gewillig buig en my lewe in Sy
getroue Hande vertrou.
Hadassah is nie geklee
soos ‘n koningin, soos ek geklee sou wees toe ék haar posisie beklee het nie, toe sy aan Meira se
sy, gevolg deur ‘n formidabele lyfwag, by my huisie opdaag. Ek steek my hande uit en haar goedversorgde
hande vou om myne. “Ons het vir jou gebid. Ek sien God se vrede in jou hart.”
Ek knip my oë om die trane te keer, maar ek voel hoe die
warm nektar van my siel oor my wange rol in vreugdevolle erkenning van hul
gebedshulp. “Dankie – dankie…”
“Kom, vertel ons alles.” Sy steek haar arm deur myne en
ingehaak stap ons met die smal trappe na my dak, gevolg deur Meira.
“Julle weet reeds meer as ek, U Majesteit.” Haar titel,
my titel, vloei moeiteloos oor my lippe. Ek is steeds die dogter van ‘n koning,
hierdie keer ‘n Groter Koning as enige van my voorouers.
Ek is Vashti, ‘n vrou in diens van God. My God.
Vry.
Veilig in Sy Hande.
NOTA
Waarom ek juis oor
Vashti moes skryf, was vir my van die begin af ‘n raaisel. Ek het, soos die
Vashti in my storie, geskop teen die uitdruklike roepstem. Daar is soveel ander, meer gepaste vroue om oor te skryf, het ek
gedink. Maar hierdie storie is op my hart gedruk met die woorde wat oor en oor
in my kop refrein het – skryf net, die storie sal kom.
Soos met elke stuk
skryfwerk, het hierdie een ook by navorsing begin. In enkele historiese
geskrifte word vermeld dat Vashti en Esther nooit werklik bestaan het nie. In
ander bronne word hul bestaan erken, maar kan hul nie geplaas word in konteks
en tydgleuf nie. Sommige skrywers poog om Vashti en Esther as die tweede en
derde koninginne van Xerxes 1 (Ahasveros) te vestig, met Amestris as die
eerste.
Daar is ook geen
eenstemmigheid dat Vashti en Esther wel Xerxes 1 se vroue was nie en daar word
in ‘n bron hier en daar vermeld dat hulle dalk eerder Axterxes 1 se vroue was
(dit blyk dat daar wel eenstemmigheid bestaan dat Axterxes 1 die seun van
Amestris en Xerxes 1 was). Indien ek my berus by hierdie opvatting, sou Vashti
natuurlik nie die dogter van Belsásar kon wees, soos ek in my verhaal hierbo
beskryf nie.
Sommige bronne is van
mening dat Darius III die seun van Esther was en dat Axterxes I die seun van
Vashti was. Ek is nie ‘n geskiedkundige nie, maar ek betwyfel hierdie teorie.
Daar is ook bronne (en
selfs romans) waar die rede vir Vashti se weiering om voor die koning te
verskyn daaraan toegeskryf word dat hy vereis het dat sy naak, met net haar
kroon op, voor hom moes verskyn. Ek stem saam met die skrywers welke hierdie
weergawe ten sterkste repudieër en as hoogs onwaarskynlik afmaak. Ons het hier te doen met ‘n kulturele bestel
waar slegs ‘n man geregtig was om sy eie vrou se skoonheid te bewonder, vandaar
die sluiers wat vroue gedra het. Geen
man is selfs in die koning se harem toegelaat nie, behalwe die eunugs. Dit is
heelwat meer waarskynlik, dat sy bloot geweier het om enigsins voor hulle te
verskyn omdat sy in haar eer gekrenk was, in ag genome dat sy (indien dit wel
is soos ek veronderstel) vanuit ‘n lang geslag adelikes stam. Sy was ‘n
politieke pion en hierdie honderd-en-tagtig dae fees, met die sewe dae fees in
die paleistuin het juis ten doel gehad, om die koning se groot rykdom en mag
ten toon te stel. Vashti was die
verpersoonliking van Darius I se oorwinning oor die Babiloniese Ryk en as sulks
moes sy verskyn het. In my opinie ‘n baie slinkse en suksevol uitgevoerde
sameswering deur diegene wat hul eie belange in die dwaalgange van konkelary
wou bevorder.
Ek glo dat hierdie
gebeure wel plaasgevind het. Xerxes I het onder meer as een naam bekend
gestaan. Dit is moontlik dat Vashti ook ‘n ander naam gehad het ( sommige menings leun na die naam Stateira en meen Vashti is ‘n verkorting daarvan.
Stateira beteken na bewering “skepping van sterre” en sy was die tweede vrou
van Alexander die Grote, ‘n dogter van Darius III (wie sommige meen is Esther se
seun). Wat natuurlik tydsgewys onmoontlik is.)
In my nederige opinie
sou ek die historiese tydlyn as volg uitlê – naamlik dat Vashti Xerxes I se eerste
koningin was. Sy was maar drie jaar sy koningin, voordat sy as koningin
verwyder is, dit word uitdruklik in die Bybel vermeld dat hierdie fees in sy derde regeringsjaar gehou is. Na my mening was hul
kinderloos. Esther (of Hadassah soos sy onder die Jode bekend gestaan het – sien, ook twee name), se huwelik met
Xerxes was waarskynlik ook kinderloos en dat die vier kinders welke hy wel gehad
het, almal die kinders van hom en sy derde koningin Amestris was. Dit blyk
algemeen aanvaarde feite dat Axterxes I wel Amestris en Xerxes se seun was. Dit
kan dalk dan ook die rede wees waarom Vashti en Esther se name nie luidkeels in
geskiedkundige geskrifte vermeld word nie, aangesien Amestris dié een was wat
vir hom vier kinders gegee het en met welke vrou hy vir baie jare as sy
koningin regeer het. Daar word in verskeie bronne vermeld dat sy wreed en koud
was. (Welke natuurlik ook moontlik onakkuraat kan wees, om dieselfde redes as
wat die magsbeheptes gepoog het om van Vashti ontslae te raak.)
Daar is ook weergawes
waar skrywers van mening is dat Vashti verban is of ter dood veroordeel is. Die
Bybel vermeld bloot dat sy nooit weer voor die koning mag verskyn het nie. Dit
volg dus natuurlik dat sy bloot uit haar posisie van voorkeur verwyder is,
welke ‘n bitter pil vir ‘n vrou met haar geskiedenis en herkoms sou wees en
ongeëwenaarde genot tot gevolg sou hê vir haar politieke vyande en mededingers
vir die kroon.
Ek kan nie help om te
glimlag as ek dink aan die teleurstelling van vele hoopvolle byvroue en belangrike
raadgewers, toe die koning se keuse op Esther geval het nie (met Hegai se hulp
natuurlik – en almal soos marionette in God se Hand om Sy planne te
verwesenlik).
Sonder dat die Here se
naam een keer in die boek Ester vermeld word, is dit duidelik hoe Hy te werk
gaan om Sy Wil deur te voer. Sy tyd is die regte tyd en die boodskap vir ons
uit hierdie verhaal van Ester is duidelik – God is in beheer en daaraan hoef
ons nie te twyfel nie. Ons kan op Hom vertrou om vir ons alles ten goede te
laat meerwerk, soos Hy inderdaad in sy Woord aan ons belowe.
Soos die psalmdigter in
Psalm 78:1 – 4 sing: “Luister na wat ek jou leer, my volk, luister aandagtig na
wat ek sê. 2 Ek gaan ‘n gedig voordra, ek gaan julle inlei in geheimenisse uit
die verre verlede. 3 Wat ons gehoor het en wat ons weet, wat ons vaders ons
vertel het, 4 sal ons vir ons kinders nie verswyg nie. Ons sal aan die volgende
geslag vertel van die roemryke dade van die Here en van Sy mag, van die wonderdade wat Hy gedoen het.”
Die verhaal van Vashti
kan gevind word in Ester 1. Lees egter ook die res van die verhaal aandagtig
deur.
Vir meer inligting en historiese feite oor die Antieke Persiese Mag en die koninginne en militêre leiers, besoek gerus http://apranik.blogspot.co.za/2009/10/persian-female-warriors.html
vir 'n baie bondige opsomming en uiteensetting van die vroue in die Antieke
Persiese Ryk, met pragtige kunstenaar-voorstellings van die vroue ter sprake. Let
veral op die beskrywings vir Esther, Sissy Cambis en Amestris.
Die prent hierbo
is ‘n kunstenaarsvoorstelling van Mandana, die moeder van Kores (Cyrus) die Grote (na
wie ook in die Bybel verwys word – sien ondermeer Jesaja 45:1,4, 44:28; 2
Kronieke 36:22-23; Esra 1:4-11; 6:4-5).
Die aanvaarde Afrikaanse
spelvorm van Vashti en Esther is Vasti en Ester. Dit is ‘n persoonlike voorkeur
dat ek die “h” in elke naam aanwend.
Ek hoop dat Vashti ook
met jou gepraat het, soos met my. Dankie vir die saamlees.