Friday, December 4, 2015

Die Priester (Deel 1)

Image found on pinterest via ehow.com
Die kerkie staan eenkant op 'n heuwel, duidelik afgeëts teen die elektriese wit lig van die weerligstrale in die agtergrond.

Kerslig van binne verleen fantasie-lewe aan die tonele op die loodglasvensters en gooi spookagtige reenboog skadu’s op die deurdrenkte aarde buite die gewyde geboudjie.
    Binne die kerkie is die atmosfeer gesellig.  Die vriendelike teenwoordigheid van die Groot Vader van die kerk voelbaar in elke profane detail.
Voor in die kerk staar die eensame Priester na die ou, verweerde houtkruis wat ouer as hy is, al is dit met ‘n skamele honderd jaar of so. Die ou man glimlag op na die kruis en laat sy verrimpelde hand liefdevol oor die hout streel.  Sy gesig vertrek momenteel en hy laat sy hand sak. Pyn is sy daaglikse metgesel.
       Ek moet die Here om vergifnis vra... Ek het gesondig.
       Hy sug en draai geboë weg van die kruis en kerse. Vir jare worstel hy met hierdie skuldgevoel en verduur hy die geestelike pyn saam met die fisiese pyn geduldig.  Hy  kon homself nog nie een keer sover bring om sy sonde voor sy Skepper te bely nie.
       Dit is hoe Adam en Eva moes voel nadat hulle van die verbode vrugte geëet het. Skaam en verleë. Skugter vir die teenwoordigheid van die Almagtige Vader.
     Vader Niccòlo Castalani sak met sy kop tussen sy hande op die voorste bankie neer.  Hy is moeg gedink.  Moeg gesoek vir antwoorde wat hy nooit sal kry nie.
Moeg.
    Een van die kerse se vlammetjies verdrink in die kerswas en vrek met 'n dowwe sisgeluid. Vader Niccòlo kyk gesteurd op toe die dik houtdeur oopswaai. 'n Fletsende weerligstraal klief deur die storm hemel en word gevolg deur ‘n harde donderslag toe die jongman die gebou betree.
        "Vader Niccòlo?" Die nuweling frons vraend, sy  stem  eerbiedig.  'n Lang swart kapmantel hang in vol voue om sy liggaam.
          Die priester antwoord sonder om om te kyk.  "Ja."
         'n Oop glimlag breek om die jongman se mond.    
         "Herken u my nie, Vader Niccòlo?"
       Die ou man draai stadig om, ongeloof in sy oë.  "Sean? Is dit jy?" Hy staan bewerig op, gee huiwerig ‘n tree nader aan die lenige jongman.
            "Ja, dit is ek." Die jongman maak die mantel los en gooi dit oor die bank se ruglening. Vader Niccòlo staar verslae na die jongman se priestergewaad.
            "Jy...?" Hy gee nog 'n tree nader.
            "Ja, Vader Niccòlo. Ek is ook 'n priester. "  Vreugde straal uit Sean se stem en oë.
      Vader Niccòlo steek sy hand stadig uit na die jongman. "Ek het nie gedink ek gaan jou ooit weer sien nie!"
            Die jongman lag. "U was verkeerd, vader Niccòlo. U was die een wat my ingeneem en versorg het toe ek as baba op die kerk se drumpel gelaat is. U was vir my soos die vader wat ek nooit sal ken nie. Natuurlik het ek ook 'n priester geword!"  Hy gee een lang tree tot by die ou man en vou hom toe in sy sterk arms.
            Daar is trane in die ouman se oë. "Welkom terug my kind. Welkom! Kom, ek gaan maak vir ons tee terwyl jy uit hierdie nat klere kom."
            Voor die kaggelvuur, in die huisie aangrensend tot die kerkie,  dreun hul stemme gesellig.  
            Beide kyk verskrik na die deur, toe iemand dringend daarteen  hamer.   Sean lê die afstand na die deur in twee kragtige treë af en pluk dit oop. 'n Bekommerde man tree handewringend binne.  Water loop in straaltjies teen sy voorkop af.  Sy hemp en broek is vasgeplak teen sy liggaam.  Geen jas of hoed nie.  "Vader, dit is tyd! U moet gou kom. Dit is Molly. Sy vra  na u."  Sy stem is grof, sy oë pleitend.
            Vader Niccòlo draai na Sean. "Hou die vort hier, my kind." Hy drapeer 'n mantel om sy liggaam en saam verdwyn hy en die angstige man in die donker nag

Die huisie aan die onderpunt van die straat is bedompig na die koue in die reën.  ‘n Neerdrukkende atmosfeer omgeef die netjiese voorhuis, waar die dood in elke skaduwee skuil. Vader Niccoló se hand omklem die kruis om sy nek.
            Die priester kniel langs die siek vrou se bed.  Haar oë is toe en sy haal moeilik asem. Die ander mense in die siekekamer maak hul oë eerbiedig toe, toe Vader Niccòlo saggies begin bid, sy hande liefdevol oor die broos hande  van Molly, terwyl die swart skaduwee van die dood geduldig in die donker hoek van die kamer skuil.
            Haar oë fladder oop, sy maak haar hande los onder syne en klou dit krampagtig vas. "Vader ... ek moet alleen met u praat."  Die Priester beduie vir haar wagtende familielede om hul alleen te laat.
            Hy plaas sy oumens hand vertroostend oor haar koue hande. "Ek luister, Molly.  Praat maar."
            Sy skud haar kop, haar stem ‘n hees fluistering. "In daardie laai, Vader, daar in die kas by die venster. 'n Boek. Neem dit."  Sy beduie met ‘n bewende vinger.
            Vader Niccòlo staan stadig op en trek die laai oop.  Bo-op die paar stukke klere lê 'n boek, gebind in verouderde rooi leer.  Hy kom kniel weer langs haar bed, die boekie in sy hand, teen sy hart vasgedruk.  “Ek het die boek, Molly.  Rus nou.”
            'n Salige glimlag sprei om haar gekraakte lippe. "Daarin sal u al die antwoorde vind waarna u soek, Vader.  Nou moet u vir my bid...  My tyd hier op aarde is verby." En die dood se klouende vingers strek uit die donker na die lig, om vir ewig weg te neem wat geleen was aan die wêreld.

Molly se boek lê vir ses maande vergete in die laaikas in Vader Niccòlo se kamer. Met die oorgawe van ‘n man aan die einde van sy lewe, put hy genot uit elke oomblik van die jong priester se teenwoordigheid.  Nou is daar iemand om mee te gesels in die aand, om die Here se werke te bespreek.  Eensaamheid, sy konstante medewoner vir baie jare,  is verdryf deur die warm lag en kragtige lewenslustigheid van jeug.
            Die inwoners van die klein gemeenskappie hou  van die nuwe jong priester.  Natuurlik sal hy nooit die plek van hul geliefde Vader Niccòlo kan inneem nie, maar Sean is nog jonk.  Vader Niccòlo sal hom leer om net so geduldig, liefdevol en simpatiek soos hyself te wees.  Hy het immers self hier opgedaag, nie ‘n dag ouer as die nuweling nie,  baie jare gelede.
            Die ou priester se greep op die lewe, verswak elke dag.  Hy laat al meer van sy werk in die hande van die jongman.
            "Is u seker u sal regkom, so alleen hier, Vader Niccòlo?" Sean kyk bekommerd na die ou grysaard.  Hy lyk tenger en byna breekbaar op die bed met sy wit lakens.
            Die ou man glimlag. "Natuurlik my kind. Gaan doen jou plig."

Vader Niccoló staan sukkelend op om 'n warm baadjie uit die laaikas te haal.  Die boek wat Molly hom gegee het val uit.
            Met die boek onder sy arm stook hy die vuur in die sitkamertjie en maak homself tuis op die verslete stoel voor die kaggel. Sy gesigsuitdrukking is onleesbaar, terwyl sy oë oor die netjiese geskrewe woorde in die boek dwaal.
            Die woorde toor sy verlede op, so helder voor sy geestesoog, soos gister.  Hy sien homself vyf-en-dertig jaar gelede. En hy soek tussen die woorde na die antwoorde wat Molly hom in haar sterwensuur beloof het.

17 November 1750
Ek het my vandag na die dorp se priester gewend. Vader Niccòlo Castalani. Ek het na hom gegaan om my hart oop te maak en hom alles te vertel. Hoe kon my ouers my in die huwelik dwing met Wilbur? Hy stel net belang in erfgename. In elk geval, by Vader Niccòlo het ek vrede gekry. Al was dit net om na hom te kyk..
            Ek dink nie hy besef hoe aantreklik hy is nie. Hy het saffier-blou oë en pikswart hare. Selfs onder die bedekking van die priesterskleed kan ek die forsheid van sy gestalte sien. Dit moet wees van die hande-arbeid wat hy self verrig rondom die kerk. Hy het eiehandig nuwe banke gemaak en ingesit. Hy kap self hout vir die kerk en sy eie gebruik. Ek sien hom baie op sy perd.
            Sy blote teenwoordigheid het my kalmeer, en hy was aan die ander kant van die skermpie in die belydenis-hokkie. Ek kon as't ware sy kalmerende invloed aanvoel. Molly verskil egter van my en sê dit is bloot omdat ek in die huis van die Here was. Sy was egter nie daar nie.
            Ek kon voel hoe hy my stip aanstaar. Ek het hom alles vertel. Ek het hom vertel hoedat my ouers toegestem het dat ek met graaf Wilbur Radcliffe trou. Die heer van Radcliffe-Kasteel. Ek was nou die grafin Elizabeth Radcliffe. Dit is ook hoe ek behandel is.
            O ja, hy het op ons huweliksnag na my kamer gekom, en sonder om my gevoelens in ag te neem geneem wat hy wou hê. Dit was seer. Ek het gehuil, maar hy het net geglimlag en gesê dit sal beter wees die volgende keer. Die volgende keer was drie maande later, waarna ek uitgevind het dat hy in elk geval die bediendes gebruik vir dit waarvoor ek, sy vrou eintlik daar is.
            Hy behandel my nie sleg nie. Hy verwag dat ek vir hom 'n erfgenaam moet voortbring. Ek is eensaam. Ek verlang na my ouers, my vriende en die vrolike jongmans in London. Daar was my lewe sorgeloos. Wilbur belowe al die afgelope maande dat ons vir die Seisoen na London kan gaan. Ek vermoed egter dat hy sal kop uittrek voor dan.
            Hy rou nou nog oor sy eerste vrou. Catherine. Vir my is sy net die vrou in die skildery aan die bopunt van die trap.
            In elk geval, Vader Niccòlo het al my gevoelens verstaan en in 'n sagte stem my bemoedig.
            Wilbur het vanaand vroeg na aandete in sy studeerkamer verdwyn. Ek wens hy wil net eenkeer na my kyk met liefde in sy oë. Miskien kom hy vanaand na my kamer...
            By gedagte hieraan dink ek onwillekeurig aan die priester. Vader Niccòlo. Ek ken nie die gevoel wat onder in my maag brand en my rusteloos laat voel, wanneer ek hom voor my geestesoog sien nie. Die kers is egter nou byna uitgebrand.

Vader Niccòlo glimlag nostalgies. Ja, hy onthou goed die dag toe Elizabeth na hom gekom het. Sy was in trane. Deur die geruite afskorting tussen hulle het hy kalm met haar gepraat. Sy was 'n meisie wat haar sê gesê het. Hy vermoed ook waarom haar ouers haar so te sê in die huwelik met Wilbur gedwing het. Sy was reeds drie-en-twintig jaar oud. 'n Oujongnooi. Hulle was maar te bly dat 'n skatryk adelike hulle 'n aanbod vir haar hand gemaak het.
            Hy glimlag weer en vergeet van sy pyn. As hulle haar nie in die huwelik met Wilbur gedwing het nie, dan sou sy nou nog ongetroud gewees het...
            'n Skadu skuif oor sy blou oë. Sy was ‘n spontane, sterk vrou wat gesmag het na liefde en aanvaarding, nes enige ander.  Hy sug en lug die dagboek weer voor sy oë.

23 November 1750.
Ek en Vader Nicci (dit is hoe ek hom nou noem) het groot vriende geword. Ek besoek die siekes van die dorpie gereeld saam met hom en help maar waar ek kan. Ek mis nog steeds die joligheid van London, maar nie meer so erg nie. By Vader Nicci is ek tevrede en gelukkig.
            Vandag het ons die kerkie se solder reggepak. Ek kan gelukkig wees dat Vader Nicci so sterk persoon is. Die dak lek, reg bo die boonste drie trappe. Die water het veroorsaak dat die hout verrot het, en toe ek daarop trap het dit meegegee.
*
"Elizabeth! Pasop!" Vader Niccòlo draf die trappe twee-twee op toe hy sien hoedat die verotte hout onder die meisie se voete megee. Sy uiter 'n gil.
            Sy hande sluit stewig om haar middel en hy trek haar na die trap waarop hy staan. Sy gooi haar arms om sy nek om te voorkom dat sy weer gly.
            Haar bors dein op en af terwyl sy na die gat kyk.
            Vader Niccòlo staar saam met haar na die verotte stukke plank wat ver onder hulle, in die gang tussen die banke lê.
            Sy druk haar liggaam styf teen syne. Hy wonder terloops of sy dit opsetlik of onbewustelik doen, en besef eenklaps watter plesier dit aan hom verskaf. Haar liggaam is sag en goed versorg. Sy ruik lekker. Sy dra nie 'n pruik nie en haar blonde hare hang tot op haar heupe.
            Hy stoot haar effens weg. "Is jy reg?"
            Sy glimlag bewerig. "Ja. Nou sal jy die trap ook nog moet regmaak, Vader Nicci." Sy wriemel haarself losser uit sy beskermde greep en loer effens af in die opening gelaat deur die verrotte trap.
             Haar hart klop onbedaardelik en dit is nie van die skrik nie.   
            Sy kan die glimlag in sy stem hoor toe hy praat. "Miskien is dit lankal tyd dat die lek reggemaak word en die trappe vervang word. Ons kan die solder regpak wanneer die trappe reg is."
*
1 Desember 1705.
Ek kan elke dag hoor hoe timmer en werk vader Nicci aan die trappe. Ek waag dit egter nie naby die kerk nie. Ek het eergister daarlangs verbygegaan oppad na Molly se moeder wat ernstig siek is.
            Hy was geklee in net sy swart broek. Dit moet 'n sonde wees om so oor 'n priester te voel, maar ek kan dit nie help nie. Ek wonder of hy nie ook soms soos ek voel nie.
            Watteer gedagtes skuil daar agter daardie saffier-blou oë van hom?

12 Desember 1705.
Waarheen gaan 'n priester om sy sondes te bely? Na 'n ander priester of praat hy sommer reguit met God en stel sy saak? Word hy makliker vergewe as ons gewone mense?

            Meer tot die punt. Waarheen gaan 'n eensame vrou om haar sondes te bely, as sy nie meer na die priester kan gaan nie?

WORD VERVOLG

No comments:

Post a Comment