DeviantArt. Artist: Anne Stokes
Die
wind oor die see tel die skuim van die branders moeiteloos op en offer dit aan
haar. Die vrou op die strand, met die
wit rok wat om haar lenige bene fladder.
Sproei-druppels strek hul sensueel uit oor haar sonbruin liggaam en die
wind se vingers vleg gierig deur haar lang swart krulle, nadat dit die skuim
nonchalant aan haar voete gelê het.
Moeder Natuur donder haar jaloesie
luidkeels oor die wye oseaan en stuur ‘n verblindende silwer weerligstraal na
die aarde.
Die meisie pluk haar hare uit die
wind se liefkosing, swaai om en trippel ligvoets teen die nat duin op. Sy verdwyn in die verweerde houthuisie met
die blou hortjies wat skeef hang.
Binne die snoesige hut knetter ‘n
kaggelvuur vrolik teen die koue. Op die
houttafel staan ‘n besadigde antieke porselein teepot neffens ‘n baldadige
koppie en piering.
Sy stroop die nat klere in lui
bewegings van haar liggaam af, draai ‘n sagte groen kombers om haar naaktheid
en sak voor die kaggel neer, waar die oranje vlamme vergete wêrelde in haar oë
weerkaats.
Met ‘n siel wat oud is en ‘n liggaam
wat vibreer van jong lewenslus en soepelheid, staar die oë diep in die hart van
die vuur. Daar waar die verlede wedywer
om by die hede oor te neem.
‘n Wrang glimlag sprei om haar mooi
mond.
Die duiwel daag nooit op in ‘n rooi
mantel met ‘n skerp vurk in sy hand en ‘n weersinwekkende grynslag om sy mond
nie. Hy kom, gekamoefleer as alles wat jy nog ooit begeer het…[1]
Op daardie dag, toe alles begin het,
was sy ook geklee in wit. Haar siel was
toe ook jonk, soos haar liggaam. Die
bries vanaf die see, daar ver onder haar vader se klipkasteel, het haar hare
sagkuns liefkoos. Die son het die punt
van haar neus liefderik gesoen. Sy was
geliefd, gekoesterd en veilig.
Dit was ‘n glorieryke dag, gemaak
vir liefde, drome en wense.
Totdat die soldate gekom het.
Vreesaanjaende figure met streng
gesigte en wrede hande.
In haar knus huisie voor die
vriendelike vuur sluit sy haar oë, probeer die drogbeelde verjaag.
Tevergeefs.
Hul klouende hande trek die kleed
van vergeet dramaties weg en ontbloot die hele tragiese tafereel meedoënloos.
*
Bebloed,
bang en koud kruip sy uit vanonder die hoop seile op die hawe waar sy bevrees
ingeskarrel het, nadat die laaste soldaat van haar afgeklim het. Sy kan nog hul laggende stemme in die verte
hoor.
Sy kruip terug onder die seile en
deins verskrik weg toe dit opgelig word.
Die laaste roospienk strale van die son probeer om die ouvroufiguur beur
om die mooi jongvrou te streel.
“Ek was gelukkig te lelik en te oud
vir hulle.” Sy hou haar hand uit en die verinneweerde jongmeisie steek haar
hand stadig uit na redding. In die redder se oë skyn ‘n selftevrede lig van
genot en oorwinning oor haar lelikheid en oudheid.
“Jy is nie die enigste een nie. Baie het deurgeloop. Maar dit is die voorreg
van die triomfantlike soldate. Kom saam met my.”
Die ou vrou se huis is armoedig,
maar skoon. Sy gooi emmersvol water in die
houtbalie en beduie vir Rose om in die lawende warm water te klim. Sy voeg balmende olies en genesende kruie in
die water waarin die mooi jong meisie, met die seer in haar oë, stadig wegsak.
Die vrou se krakende stem voer haar
mee na ‘n verbode wêreld van towerkrag en mag. Bo alles – MAG. “So ek het gewens om oud en lelik te wees,
maar wys. So beskerm ek myself al vir jare.”
Rose se stem is sag. “Ek sal wens dat ek vir ewig jonk en
beeldskoon sal wees, om wraak te neem op elkeen van hulle en hul nageslagte
…” Dit is seer, vernedering en verlore
onskuld wat praat. Maar die duiwel se
handlangers tref nie onderskeid nie.
*
‘n
Stuk droë hout knars in die kaggel en Rose maak haar ou oë moeisaam oop. Dit was vyfhonderd-twee-en-dertig jaar en
drie maande gelede. Môre sal sy
haar Vyfhonderd-drie-en-dertigste
verjaardig vier. En die duiwel grynslag.
Hy het presies gegee waarvoor sy gevra het.
Sy staan moeisaam op en laat val die
sagte groen kombers op die grond. Haar
slanke vingers reik na ‘n elegante liggeel rok, oor die ruglening van ‘n
stoel. Daar is niks wat sy nie gesien
het, ervaar het of oorleef het nie.
Oorloë, dood, siekte en skande.
Haar liggaam toon geen letsel van haar buitengewone lewensreis nie.
Sy rol haar hare in ‘n los styl in
haar nek (bekwaamheid wat net deur tyd vervolmaak is) en trek die deur van die
houthut agter haar toe, toe die son se vingers die mistige wolke op ‘n hoop
agter die see jaag en sy haar vriendelike strale voel-voel oor die sand steek.
In
die klein dorpie, aan die voet van die berg, stap sy stadig met die klippaadjie,
wat tussen die huisies kronkel. Haar
hande, met bloed en dood bevlek, hang ontspanne langs haar sy.
“Goeiemôre!”
Sy kyk op.
Hy is aantreklik. Jonk, soos sy ook
eens was, met ‘n oop seunsglimlag en sagte oë. Sy siel is skoon, want deur die
vensters in sy gesig kan sy dit sien.
Sy gaan staan stil en staar
ingedagte na die Priester.
Hy kom nader. “Ek het jou al ‘n paar keer doelloos in die
strate sien dwaal. Altyd alleen. Mag ek ‘n entjie saam met jou stap?”
Sy draai haar kop skeef en laat haar
oë fronsend oor die man met die rein siel dwaal. “Hoekom?”
Hy trek sy skouers op. “Want jy het my nodig.”
Sy knik.
Hulle stap.
Oor haar lippe tuimel die woorde van
vyfhonderd jaar se geheimenisse moeiteloos.
Aan die einde van die kronkelpad van
woorde doem die kerkie se verweerde houtdeur voor hulle op. Hy maak dit woordeloos oop en nooi haar
binne.
Voor die altaar, onder die skildery
van Jesus se kruisiging, brand ‘n eensame kers, die vlammetjie fladderend in
die wind vanaf die oop deur.
Sy lig haar kop na die gesig van die
man in die skildery. Die priester volg haar oë. Sy stem is balsemend. “Hy het een keer vir ‘n vrou gesê dat haar
geloof haar gered het.”
Sy knik, want ‘n ou siel verstaan
heelwat meer geredelik as ‘n jong een.
Haar stem is egter doods. “Selfs
nie eens geloof kan die duiwel se handlangers red nie.” Sy draai weg van die
Redder op die Kruis en stap na die sonskyn, buite die kerk.
Die priester se sagte stem sweef op
die kalmte van die gewyde gebou na haar, voordat sy nog haar voet oor drumpel,
in die sonskyn kan neersit. “Die duiwel
was eens ‘n Engel.”
Sy
draai terug na die rein siel. “Ek was
ook eens onskuldig.”
“
Jesus het die dood oorwin. Vir Hom is niks ontmoontlik nie.” Hy steek sy hande
na haar uit. “As jy maar net glo.”
“Ek
weet nie hoe nie…”
“Dan
is jy verlore.”
“Ek
is al vir vyfhonderd-twee-en-dertig jaar verlore Priester.”
“Hy
KAN jou red.”
Sy
draai haar rug op hom, steek haar hande weg in die sagte voue van haar songeel
rok. “Weet jy dat ek vir ‘n paar jaar ‘n
prostituut en kampvolger was van daardie soldate wat my misbruik het? Ek het in daardie tyd wraak geneem – elke een
van hulle is gedood met my eie hande.” Sy lig haar hande uit die beskerming van
die rokvoue, asof sy die bloed daarop vir hom wil wys. Sy selff kyk verslae na haar skoon, slanke
hande. “Voor dit was ek ‘n prinses.
Vandag is ek ‘n gemartelde, verlore siel. ‘n Niemand.”
Die
priester neem haar hande sagkuns in syne.
“Niemand is ‘n niemand nie. Nie in Sy oë nie. Hy sal jou red, as jy net glo…”
“As
ek maar net kan glo…”
Hy
draai om en tel iets op die tafeltjie, wat in skadu gehul is, agter hom
op. Hy hou dit uit na haar.
Haar
slanke vingers vou om die verweerde leeromslag van dei boek. Sy kyk vraend op na die man van God. Dalk selfs ‘n engel.
“Dit
is ‘n bybel, wat net so bietjie jonger as jy is. Kan jy Grieks lees?”
Sy
glimlag wrang. “En Latyn, Frans, Engels
…”
Hy
vou sy hande oor hare wat die antieke boek van Wysheid vashou. “Gaan lees dit. Ek bid vir jou.” Hy draai om en verdwyn in die skemer van die
kerk.
Buite
het die wolke weer voor die son in beweeg. Teen die tyd dat sy by haar huisie
agter die duin kom, het die ligte somersreën haar behoorlik deurdrenk. Sy sit die boekie nadenkend langs die koppie
en teepot neer.
Minute
later, droog aangetrek en toegewikkel in die kombers, voor die kaggel, sak sy
neer met die Griekse Bybel. In die kerk
sak die priester op sy knieë voor die altaar neer. Sy hande reik krampagtig na sy gesig. “Vyfhonderd jaar terug was ek een van daardie
soldate. Here red haar asseblief.”
*
Sy
snak in verwondering na haar asem toe Sy hande haar liefderik, sonder verwyt,
verwelkom in Sy vesting.
“Jou geloof het jou gered.”
Sy glimlag stralend en vyfhonderd-drie-en-dertig
jaar se siellose, klakkelose bestaan val soos ou vodde van haar slanke
liggaam. Sy sit haar hande oor mekaar op
haar bors en voel hoe haar siel vlerke kry.
Vandag is die eerste dag van haar
nuwe lewe.
*
Die
seun stamp die kerkie se deur oop. Die
priester kom vinnig nader.
“Wat is dit Gregor?”
“Daai meisie in die hut op die
strand. Sy is dood!”
Die priester begin hardloop.
Op die strand, sak hy snikkend neer
langs die lewelose lyk van die vrou. Krampagtig in haar hande vasgeklem is ‘n
verslete Griekse bybel. Hy vee die nat
slierte hare weg en druk haar starende oë sagkuns toe. Van ver, oor horisonne,
wolke en grasvelde sweef die stem waarvoor hy wag. “Haar geloof het haar gered.”
Hy laat sy liggaam ontspan, onbewus
van die nuuskierige dorpinwoners wat stadigaan begin saamdrom. Sy het haarself vir die see gegee en die
magtige oseaan het haar uitgespoeg. Hy
kom stadig orent en tel haar op.
Dit is hoe die priester die kerkie
binnestap. Met die lewelose liggaam van
die vrou in sy arms. Hy lê haar op die
altaar onder Jesus se wakende oog neer.
Dit is waar die polisie haar vind.
Die priester is nooit weer gesien
nie.
[1] Hierdie paragraaf, effens gewysig, is bekom vanaf ‘n anonieme
skrywer. Die paragraaf is uitgegee as ‘n
“writing prompt”.
|
Monday, July 25, 2016
Die duiwel daag nooit op in 'n rooi mantel met 'n vurk nie ...
Tuesday, June 21, 2016
VREDE
www.londongreeneafrica.com (From a book depicting scenes from the Anglo Boer War) |
"Solitudinem faciunt, pacem appellant."
(Hulle skep 'n woesteny en noem dit vrede.)
Cornelius Tacitus (c. 55 - c.120 n.C.)
Agricola
Die
Afrika-hemel se ysblou kontrasteer skerp met die gloeiende goue bal van die
son, wat met matelose hel neerbrand op die groepie krygers in die dorre
veld. Die vertrapte plante smag na reën
om te groei, die soldate om die dood af te was, wat in vuil bloedspore oor hul
gesigte en in rou smart in hul harte skommel.
Die leier op sy uitgeteerde merrie
kyk strak op na die genadelose hemel.
Geen wolk is in sig om verligting te bring op hierdie warm somersdag, in
‘n oorlog om stof so gloeiend en geel soos die genadelose son, nie.
Goud.
Oorlog.
Mag.
Hy vee sy gesig met ‘n vuil sakdoek
af. “Kom manne. Ons moet die rivier voor vanaand bereik. Ons
kan daar kamp maak.” Die perde lig hul swaar
hoewe teësinnig. Onder die Afrika-son
beweeg die bedremmelde groepie ruiters sloom oor die bar landskap, terwyl daar
in die kamp, nie ver van hulle nie, ‘n beteurde ry vroue en kinders stap terwyl
die klanke van hul droefgeestige lied teen die klipkoppie vasslaan.
Tussen ander getimmerde, skewe en
verrotte houtkruise is ‘n ou man besig om ‘n graf uit die klipperige landskap
te kap.
Nog ‘n graf.
Nog ‘n sterfte.
Nog ‘n offer aan goud en mag.
Net ‘n kind. Haar gewig niks meer as haar ouderdom nie.
Die vrou wat voor stap val gillend,
met hande opgehef na die hemel. Haar
hartseer te groot vir een snik of enkele trane.
Sy wil haar verlies uitkots, skree of in bloed krap.
In my kop klink die refrein van
Jesus se woorde: “My God! My God! Waarom het u my verlaat?” Sy het nag na nag met die kind in haar arms
gesit, gebukkend in ‘n dun tent, met een bed en na die roggelende hoesgeluide
geluister, totdat dit een oggend stil geraak het, saam met die dun asempie en
die lewenslig in die ogies.
Net ‘n kind.
Die warm grond val met dowwe
finaliteit op die liggaampie, toegebind in ‘n verslete wit laken. Die emosioneel vernielde vrou se rou snikke
komponeer ‘n droefgeestige lied in harmonie met die grond en graaf wat
meëdoenloos haar kind vir ewig begrawe – onder vreemde grond, ver van hul
familieplaas. Onder ‘n son wat nie meer goedhartig neerkyk op die Boere nie.
My
God! My God! Waarom het U hulle verlaat?
Ek swaai my perd weg van my
uitkykpos op die koppie. Ek wil nie meer
die groep bittereinders sien nie.
Ek wil nie die vrou se hartseer proe
op die sanderige wind wat sy klaende stem toevoeg tot die melancholiese lied
daar onder nie.
Ek wil op my plaas wees, saam met my
vrou en my kind.
My perd drentel doelloos teen die
klipkoppie af na benede, waar die Kakie vir my wag. Die toue om my gewrigte skuur vel en vleis rou.
Rooi.
So anders as goud.
Bloed vir goud.
Ek word hardhandig afgehelp en
staangemaak teen die skelwit muur van ‘n verlate stal. Iemand het teen die muur met swart uitgekrap
– Johnny was hier.
Ek
slaan my oë op na die Hemel. Waar sal my hulp vandaan kom?
Ek wonder of iemand ook gehuil het
langs my vrou en kind se graf. In die
verte trek ‘n swart rookwolk op in die lig.
Nog ‘n opstal sneuwel onder die
verskroeide aarde beleid van Lord Kitchener. ‘n Grootse man, sê die Britte.
‘n Land in rou.
Die eerste koeël van die fusillade
tref my bobeen. Die pyn is uitmergelend
en ek struikel. Genadiglik is dit my
laaste sinvolle gedagte.
“Iemand
is nounet gefusilleer.” Die jong seun
trap-trap rond in die stof voor hul tent.
Die vrou lig haar groen oë na die kind, haar enigste.
“’n Rebel? Verraaier?”
“Net’n Boer.”
Hy
lê met sy oë starend na die hemel, sy lippe vertrek in ‘n ewige grynslag van
pyn en verlies.
Die vrou en seun, saam met ander
kampinwoners, probeer verby stap sonder om hom te sien, om hul gehawende
rantsoene te gaan opeis.
En dan val die goue geel van die son
uit die hemel en breek in splinters van glas om die vrou en kind. “Pa…?” Sy gryp haar kind vas en draai haar oë
na die afgryslike toneel. Sy pluk haar
kind weg van die starende gelaat van dit wat eens sy trotse pa en held was.
Haar bene gee in onder haar en sy
val stil op die grond langs die Boer neer, haar seun in haar arms. Haar oë is droog. Haar hart ‘n stuk klip in
haar bors. In sy baadjiesak die skrywe wat meedeel dat sy vrou en kind gesterf
het in ‘n kamp.
‘n Leuen om hom uit te lok.
‘n Baasspioen. ‘n Doring in die
vyand se vlees.
Iemand dra die vrou na haar tent.
Die kind sit verslae langs sy
moeder.
‘n Dag later is die oorlog verby met
die Vrede van Vereniging.
Vrede.
Stilte om uitgebrande huise en
vrekgemaakte diere.
Stilte in halfleeg kampe waar
enkeles wag op vervoer terug na hul wonings, waarvan die mure nou in stil swart
vingers die lig insteek, smekend na genade.
Stilte op die vlaktes na gewere en
liddiet bomme neergelê is.
Stilte van stemme wat nooit weer sal
praat nie.
Dit is die einde van die oorlog.
Vrede.
Friday, April 8, 2016
WHO IS THE ENEMY?
It was silent in the bush. As silent as it
can be in the African Bush, where a war was raging. The silent walk of death
could be heard loudly - it was there in the body of the nineteen-year-old boy
with a fissure in his stomach, the mismatched, scattered shoes and the radio in
tatters. That radio, their salvation - shot to pieces by the
enemy.
But who is the enemy? This is surely a matter of
perspective. The definition of who the enemy is can be found in lies, half-truths
and pre-supposed beliefs. Political words charged with emotion and fed to the
people for breakfast, lunch and dinner, so that they would send their beloved
children to war, with a smile on their faces and a proud pat on their
backs.
Generals with shiny medals, decorous uniforms and
broken hearts, minds and souls will walk the earth afterward - hand in hand
with the surviving soldiers, without medals, but similarly with broken hearts,
minds and souls. And in the end they all possess a second shadow - that
of their lost comrades (fellow soldiers, wifes and children), who will forever be a presence at their shoulder and in
their broken souls. Dead eyes, begging to be saved - decisions to be
regretted, re-evaluated after the bloody combat, when leaves and body parts are
scattered under the trees, as if a hailstorm devastated the fighting terrain.
But alas, it was not a vis major - it was merely another fight in a
big war. We lost only two soldiers, five wounded. It was the enemy who caused this havoc. Or was it? And what if one of the lost soldiers were your father, brother, husband or boyfriend?
But who is the enemy?
Is our side not also the enemy to the other side?
Do they not also send their children with a proud smile and a pat on their
backs to a war that has been rationalized by provocative propaganda and
emotionally charged words? Does their nineteen-year-old boy not also lie
beneath a tree in Africa, with a hole in his stomach and questions in his
eyes?
Yet - this is the way of the world, and it has been
the same since time began.
Wars are fought by politicians in boardrooms, which
will eventually spill over to the bush, desert or other god-forsaken terrain
where the sound of death will silently stalk the proud soldiers with their
broken souls and impeccable training. In the boardrooms the Leaders of
the Nation will shake hands on their victory. While the soldiers will
have their medals and memories - and the shadows of comrades proudly offered to
the demon god called Victory. The enemy has lost. We are the victors.
But are we really?
And who is the Enemy?
Does it matter?
Patriotism, or the protection of
a country's borders or freedom is a matter of ideology and there will always be
proud, brave and fierce soldiers who will unselfishly step forward and take up
arms on behalf of those who cannot or will not.
We salute you, the soldiers.
(A special word of thanks to the soldier who shared some of his stories with me. You know who you are.)
Cuban soldier, Angolan War 1980's (not sure of origin) Might also have been a propaganda tool. |
Subscribe to:
Posts (Atom)