JH Pierneef: The Baobab Tree. This painting holds the record for the most expensive South African painting ever sold at R 11.8 million Image found on babodski.wordpress.com |
Die
Kremetartboom se blare gooi donker skadukolle op die sketsboek wat op die ou
man se knieë rus. Die tienjarige seun se
oë volg die sekure handbewegings van die swart hand, waarin ‘n stuk steenkool
uit gisteraand se vuur, liggies tussen duim en voorvinger vasgehou word.
Voor die twee paar oë verplaas die
ou man se behendige hand die natuurtoneel in malse groen en ryk bruin na swart
op wit. ‘n Meesterstuk, soos al sy ander
werke.
Die seun se blonde kop lig teësinnig
op van die sketsboek toe die gebrul van ‘n diesel Landrover die stilte hier
onder die ou Afrika-boom langs die rivier, versteur.
Toeriste.
Buitelanders.
Daar word stilgehou en uitgeklim,
bene gerek, koffie gedrink en oor en weer geskerts, terwyl die paar onder die
boom alles met kenmerkende Afrika vrede en aanvaarding gadeslaan.
‘n Middeljarige dame met ‘n swaar
Britse aksent kom nuuskierig nader. Haar
woorde is goedgesind, maar onwillekeurig neerhalend. Die ou Sotho man knik sy kop en glimlag breed
vir die vroutjie wat selftevrede wegskarrel, die ou man se skets stewig onder
haar arm vasgeklem. Hy trek die seun se
wit hand nader en laat die enkele muntstukke tot in die jong handpalm gly. “Lekkergoed geld.”
“Hoekom het jy dit vir so min aan
haar verkoop, Oupa Samuel? Sy was disrespekvol.”
Die ou man lag saggies en staan op
van die droë boomstomp. Hy druk die
sketsboek onder sy arm in en gooi die stuk steenkool op die grond neer. “Sy sou my nie glo nie as ek vir haar gesê
het wie ek is nie. Kom, ek het ‘n vlug
om te haal. Jou pa wonder seker waar ons so lank bly.”
“Maar …” Dit is duidelik dat die
voorval die seun ontstel het.
Samuel draai na die kind. “Dit is wat hier binne is wat saak maak,
Simon. Nie die kleur van jou vel of jou
nasionalitiet nie. Ons is Afrikane. Sy het
nie my waardigheid aangetas nie, net haar eie.”
“Maar is ek ook ‘n Afrikaan?”
“Is jy hier hier gebore?”
“Ja.”
“Dan is jy ‘n Afrikaan. Afrika is in
jou bloed en Haar vingers in jou siel verstrengel. Sy is in jou oë en hart met sonsopkoms en
sonsondergang, met elke wind wat die wolke oor ons hemel aanblaas en in elke
reëndruppel wat Afrika-stof in lewe omtoor. Jy is ‘n Afrikaan Simon.”
“Wanneer kom jy weer kuier? Ek moet nog baie leer voordat ek soos jy kan
skets.”
Die ou man se droë laggie fluister
liefde vir die kind aan sy sy, terwyl hul stadig aanstap. “Ek het ‘n groot uitstalling in New York
volgende week en die week daarna in London.
Dan kom ek vir lank terug en dan gaan ons elke dag skets.”
Die seun knik, vou sy hand oop en
kyk na die munte. “Dit is seker die
minste wat iemand jou nog vir een van jou sketse betaal het, Oupa Samuel.”
Die wyse ou bruin oë vonkel
lewenslustig. “Dit is so. Maar jy moet nooit jou liefde en passie vir
kuns laat dooddruk deur geld nie. Vergeet
van die toeriste. Kom ons gaan koop lekkers met ons geld.”
No comments:
Post a Comment