Friday, October 30, 2015

Uittreksel uit VERRAAD

I have been asked if I woud consider providing a brief “teaser” from each of the short stories in my short story bundle “VERRAAD.”  I would be delighted to provide same.

Die boekie is gebore uit navorsing vir die Roman waaraan ek tans werk en elke storie is vergesel van ‘n nota wat die verhaal en gebeure in konteks plaas.  Elke verhaal is heelwat langer as die aanvaarde standaarde vir ‘n gewone kortverhaal, met die uitsondering van een. Hieronder volg 'n kort uittreksel uit elkeen van die verhale.

Die eerste verhaal in die boekie, dra ook dieselfde titel as die bundel. Geniet die uittreksel uit VERHAAL 1.

VERRAAD
I am justly killed with my own treachery.”
William Shakespeare
Hamlet (1601), act 5, sc.2, I.[320]

Die laatmiddagson skyn verblindend op die lope van die Lee Metfords, wat sonder ophou en sonder voorbehoud, dood spoeg.  Verwoesting word gesaai onder die groepie Boere.
Jurgen Greeff ruk sy perd om.  Rondom hom klap die skote en Boere skree verbouereerd op mekaar.
"Lokval!"
Die jongman leun vorentoe op die hings se nek.  Die wind fluit verby die ore van mens en dier.  Jurgen se grys-blou oë is vasberade gerig op die klompie bome en klipperige koppie 'n ent voor hom.  Nie meer ver nie!  Hou uit Pronk ou maat!
Die jongman bereik die skuiling veilig en spring van die perd af voordat diè nog behoorlik tot stilstand kom.  Agter 'n groot klip gaan lê hy, Martini-Henry gereed.  Sy wakker grys-blou oë fynkam die terrein.  Sowaar!  Die lafhaards vlug!  'n Loesing in hul eie lokval!
Rondom Jurgen begin die manne in veldkornet Boshoff se kommando deurmekaar lag en praat.  Gemoedelike houe op skouers word uitgedeel,  verlig dat hulle oorleef het.
Jurgen kom stadig orent vanagter sy klip en kyk grootoog rond.  "Pa ...?  Paul ...?”

*  *  *

Uittreksel uit VERHAAL 2.

NIE NET SOLDATE GAAN OORLOG TOE NIE
“Dit is nie net soldate wat oorlog toe gaan nie.”
Spaanse spreekwoord

Cornelia draai met geboë skouers weg van die swart, stinkende murasie, die plek, wat tot ‘n paar uur gelede haar woning was.  Dié tuiste van haar gesin!  Nou is dit niks.  Net spookagtige mure, waaruit die rook nog trek.
Die diere is almal vrek gemaak.  Vir die Engelse om te eet.  Sy gaan hurk, haar hande krampagtig op haar maag ineengestrengel.  Sy wil die gevoel in haar binneste uitkots, maar dit sal fataal wees.  Konsentrasiekamp toe sal hulle gaan.
Die meisie is beeldskoon.  Haar oë, die kleur van die hemel op ‘n helder dag in hierdie Afrika-land, wanneer dit nie verdof is deur die verstikkende rook van die Engelse vure nie.  Verskroeide aarde beleid, noem hulle dit.
‘n Hand op haar skouer, laat haar verstyf, stadig omkyk.  “Moeder.”  Vuil traanspore lê oor haar ma se wange.
“Kom Cornelia.  Hulle wag dat ons opklim.  Hulle wil ry.”  Sy kom stadig orent, sien oor haar ma se skouer dat Truida reeds op die wa sit, haar lappop krampagtig in haar dogtertjiehandjies vasgeklem.
*  *  *

Uittreksel uit VERHAAL 3 (‘n Spookstorie)

DIE WIT ROOS
“Each morn a thousand roses brings, you say;
Yes, but where leaves the rose of yesterday?”
Edward Fitzgerald
(The Rubáiyát of Omar Khayyám, 4th ed., 1879, st. 9)

Buite dreun die stormsterk Augustus wind om die hoeke van die ou Boere-opstal in die hartjie van die Vrystaat.  David kan nie slaap nie.
Hy maak die venster oop. Die groot ou peperboom in die tuin se takke gooi groteske skadu's op die grasperk - daar is iemand! Hy skreef sy oë.
'n Meisie staan met haar rug na hom, geklee in 'n lang wit nagrok.  Die wind pluk-pluk arrogant aan haar goue haarslierte.  Hy haas hom na buite.
"My ouma het nie gesê sy het 'n ander gas nie ..."
Die meisie draai stadig om, geen uitdrukking op die wasbleek, beeldskone gelaat nie. Leë oë.  "Jy is seker David?"  'n Pragtige melodieuse stem met 'n swaar Engelse aksent.
Hy steek sy hand na haar uit.  "Ja."  Sy ignoreer sy hand, glimlag weemoedig en draai weer haar rug op hom. "Ek is Sarah."
"Dit is 'n plesier om jou te ontmoet Sarah. Kon jy ook nie slaap nie?"
"Ek kan nooit slaap nie ... Die boom ..."  Sy draai haar kop skeef.  Vir die eerste keer merk hy die enkele wit roos in haar slanke hande.
"Ek gaan kry gou vir ons koffie - kom ons sit op die stoep.  Ek bring ‘n kombers vir jou."
Toe hy weer buite kom is die wind stil en die meisie skoonveld.

*  *  *
Uittreksel uit VERHAAL 4.
Illusie van Verraad

“Soldatestewels knars op die gruis,
gewere word so flink soos blits gerig,
sekondes en eeue gaan verby …
die skietbevel bly uit.”
Ernst van Heerden
“Fusillade”
Uit: Weerlose uur, 1942.



Die tuin is lowergroen na die onlangse reënbui.  Die majesteuse huis se wit mure word swart en grys gevlek deur die groot bome se blare wat vanoggend rustig beweeg op die maat van die eng windjie.  Die son het maar sopas sy kop huiwerig en flou oor die oosterkim gesteek. 
Bella kyk skreefoë na die weste, waar die wolke reeds weer saampak.  Die sonskyn gaan van korte duur wees.  Die donkerkop meisie trek die tjalie stuiwer om haar skraal skouers en stap die huis binne.
Die geelhoutvloere blink onder die gebreide koedoevelle, wat as matte ingespan word. Vanuit die kombuis kom vroegoggend plaasgeluide.  Melkkanne wat leeggemaak word, Anna wat vir Sampie gebied wat om te doen sodat sy botter kan karring.  Die geur van varsgebakte brood en sterk swart koffie vul die gange van die luukse woning.
In die eetkamer is die groot ou geelhouttafel netjies gedek vir ontbyt.
Een plek.
Bella neem swaarmoedig plaas en staar nikssiende na die wit linnetafeldoek. En die leë sitplekke langs en oorkant haar.
Die Rebelle se plekke.
Sy sluk aan die knop in haar keel.
Die honde op die werf raak aan die blaf.  Dan hoor sy die perdepote op die klipplaveisel voor die stalle.  Sy spring op toe Vytjie met ‘n silwerskottel ingestap kom.  Beide vroue staar grootoog na mekaar voordat vrees en hoop vlerke aan Isabella se voete verleen.
Twee van die vier honde kom sterswaaiend aangestap stoep toe en trane van verligting rol onbeheersd oor haar wange.  Sy lig die soom van haar dienlike bruin romp hoog en hardloop om die huis na die stalle.
Phineas is besig om twee perde af te saal.  Sy herken Weerlig, haar broer se merrie onmiddelik.  Twee mans, een word regop gehou deur die ander, kom te voorskyn van agter die ander perd.  Sy steek vas, haar hand teen haar keel.
“Albert!”  Die donkerkopman wat haar broer regop hou, verstewig sy greep.
“Hy het baie bloed verloor.  Waar kan ek hom neerlê?”  Sy staalgrys oë, die bloedstreep op sy wang en ‘n kreun vanuit haar broer se mond ruk haar uit haar skok. 
“Phineas los die perde! Help die meneer met Albert.  Volg my.”
Sy pluk die kombuisdeur oop.  “Anna!  Kom help my gou om Albert se bed reg te kry.”
Albert kreun swak toe die vreemde man hom sagkuns op die bed laat sak en dan self struikel.  Isabella se hand sluit om sy elmboog. “Kom saam met my.”  Oor haar skouer beveel sy Anna om Albert se vuil klere te verwyder. “Ek gaan nou sy wond kom skoonmaak.”
Sy begelei die man in stilte na die gastekamer, verder af in die gang, langs haar eie kamer.  Hy gaan sit op die bed en buk vooroor om sy stewels los te maak, toe Bella sien dat hy stadig begin kantel.  Sy breek sy val met haar liggaam en help hom met moeite om op die bed te lê.  “Rus. Ek sal jou stewels uittrek.” Maar hy hoor haar nie meer nie.
Sy tel sy voete op die bed en trek sy skoene uit. Hy is haar broer se ouderdom. Groot. Wasbleek.  Dan sien sy die nat, donker kol op sy swart baadjie en pluk die kledingstuk eenkant toe.  Die hemp is vol bloed!    
Sy hardloop kombuis toe.  “Anna!  Kom jy reg met Albert?”
“Ja Juffrou.”
“Jy sal sy wond vir my moet skoonmaak.  Die ander meneer is ook gewond en het nou sy bewussyn verloor!  Vytjie – kom help my hier!” Die jong bruinvrou kom gedweë nader.  “Kook vir ons water en skeur ‘n laken in lang repe. Bring vir my en Anna as jy klaar is.”

DIE BOEK IS BESKIKBAAR BY:




No comments:

Post a Comment