Wednesday, October 14, 2015

Goue Sonskyn (with apologies to my English readers.)

found on www.fineartamerica.com (via Pinterest)
Angelique staar deur traanbenewelde oë na die pragtuin.
            Die dokter sê dat haar ma nie meer kan veg teen die VIRUS nie. Hy weet nie of sy nog 'n nag sal maak nie ... Die HIV virus het haar ma se liggaam afgebreek.
            Haar oë rek verbaas toe sy die swart meisie hier reg voor haar sien staan. 'n Pikante wese met wilde hare, skerp ore en sagte oë.
            "Hoekom huil jy?" Sy is kaalvoet.
            Angelique staar na die kind-vrou wat vanuit die nuut verskyn het.
            "Ek wil alleen wees."
            Die swart meisie kyk ernstig op in Angelique se oë. "Ek het net vir jou iets gebring." Sy hou die toe vuisie uit na Angelique. "Toe jong, hou jou hand!"
            Angelique maak haar hand oop en kyk verbaas hoe niks uit die swart handjie val nie. " Ek hoop dit help! " En agter die pixie se rug maak twee groot geel vlerke oop en sy vlieg weg.
            Angelique klik haar tong en hardloop na die huis.
            "Kan ek iets vir Mamma bring?"
            Die pragtige vrou in die bed glimlag liefdevol in haar dogter se oë. "Jy kan my geselskap hou. Moenie huil nie my skat ..."
            "Ek haat Pappa! Ek haat hom!"
            Die vrou in die bed se oë rek verskrik. "Waarom?"
            "Dit is sy skuld! As dit nie vir hom was nie dan was Mamma nie nou siek nie! Ek haat hom!"
            Die siek vrou beur orent net toe Angelique se pa by deur inkom. Die jongmeisie swaai om en hardloop na buite.
            "Wat is fout ?" Hy probeer haar keer maar sy wriemel uit sy greep.
            "Los my! "
*
In die tuin, langs die eendedammetjie wag die kind-vroutjie weer vir haar. Angelique sug vies. "Wat soek jy nou weer? My ma is vandag begrawe!"
            Die meisietjie kom nader. "Hou jou hand."
            Angelique skud haar kop. "Ek het nie lus vir jou speletjies nie!"
            Die mensie glimlag. "Maak oop jou hand en kyk mooi ... "
            Angelique hou haar hand vir die kind-vrou. Haar oë rek.
            "Wat was dit?"
            "Sonskyn, goue sonskyn vir die donker dae! Almal het dit soms nodig, maar jy moet mooi kyk om dit te sien! "
            Angelique staar oopmond na die vreemde wese.
            "Ek het maar vir jou bietjie ekstra gebring."
            "Waarvan praat jy?"
            Sy wriemel haar klein skouertjies. " Slegte goed gebeur met goeie mense - dit is hoe jy dit hanteer wat saak maak!"
            Angelique sluk aan die knop in haar keel. "Sy het nie gekies nie- my pa het vir haar gekies ..."
            Sonskyn trek haar skouertjies op en trippel haastig oor die grasperk, voordat haar vlerke haar wegdra na wie weet waar.
            Angelique stap vasberade na haar pa se studeerkamer. Die deur is op 'n skrefie.  Hy praat op die telefoon met iemand.
            "Nee Kaptein - ek is jammer. My vrou is vandag begrawe. Jul sloer al so lank met die ondersoek na haar verkragting - ek het gedink dit het doodgeloop!"
            Angelique stoot die deur stadig oop toe hy die telefoon neersit.
            "Angelique ...."
            "Hoekom het julle my nooit vertel nie?"
            Stilte.
            Sy sien die traan  op sy wimpers en neem sy sterk hand in hare. "Hierso - iemand het dit nou net vir my gegee."
            Sy vou sy hand vinnig toe. "Moenie laat dit wegraak nie. Hou pa se hand so bietjie toe."
            "Wat is dit?" Hy kyk verbaas na haar.
            "Sonskyn pappa, goue sonskyn vir donker dae."
            Die groot man sak snikkend op die leunstoel neer - hy kyk met nuwe oë die jong vrou voor hom - die kind van die verkragter - en hy dank die Here wat nooit neem sonder om te gee nie, vir die sonskyn wat sy in sy lewe bring ...


           
            

1 comment:

  1. Net so mooi soos toe ek dit die eerste keer gelees het.

    ReplyDelete