Sunday, December 6, 2015

Die Priester (Slot)

www.pagannights.tumblr.com
Vader Niccòlo staan terug en bekyk sy handewerk tevrede. Ja, hy weet die trappe is veel deftiger as wat nodig is, maar hy het gevind dat harde werk sy gedagtes in die veilige sfeer van godsdiens hou.
            Sedert gister pak die donderwolke saam. Hy kyk na die grys lug buite die soldervenster. Dit gaan enige oomblik begin reën. Hy glimlag tevrede. Dit sal goed wees. Dan kan hy sien of die dak nog lek.
            Hy drafstap die trappe na onder, en gaan deur die sydeur na sy huis, aangrensend tot die kerk. Hy stroop sy stowwerige klere sonder seremonie van sy liggaam nadat hy water oor die vuurherd warm gemaak het.
            Hy gooi dit in 'n groot skottel en begin homself was.
            Binne minute nadat die laaste weerligstraal die grou nag verlig het, tuimel strome water uit die hemel en kletter gesellig op die dak van sy huis. Tydsaam droog hy homself af en trek 'n skoon broek aan.
Hy kyk vraend na die deur toe daar hard geklop word en tree verbaas terug toe 'n bedremmelde Elizabeth voor die deur staan.

"Elizabeth! Kom in. Jy is papnat!"
Haar lippe is blou van die koue. "D...d...dankie." Sy glip verby hom
en hy trek die deur toe.
            "Wat op dees aarde maak jy buite in hierdie weer?"
            Sy bibber onbedaardelik, haar oë twee poele hartseer en kry nie 'n woord uit nie. Hy draai haar aan haar skouers in die rigting van sy kamertjie. "Goed. Gaan trek onmiddelik daardie nat klere uit terwyl ek vir jou tee maak. Ek het hier êrens 'n dik woljas."
            Eizabeth se vingers is dom van die koue en sy sukkel om uit die deurdrenkte klere te kom sonder die hulp van haar diensmeisie, Molly.
            "Elizabeth, draai solank 'n kombers om jou liggaam. Ek los die skinkbord met tee hier voor die deur. Ek gaan gou die jas soek." Die Priester staar ‘n oomblik perpleks na die toe deur.
Elizabeth verwens haarself. Hoe kon sy so dom wees! Hoe kon sy ooit dink dat Wilbur miskien eendag lief sal wees vir haar? Sy draai die kombers om haar liggaam en maak die deur oop. Sy tel die koppie tee op en drentel na die sitkamertjie. Daar staan een verflenterde stoel voor die kaggel. Sy gaan staan reg voor die kaggel op die mat en geniet die hitte wat haar omgeef. Probeer haar hartseer verloor in die dansende geel vlamme.
            Hy staan agter haar en teug haar skoonheid en weerloosheid gierig in, voordat hy praat. "Ek het die jas gekry." Hy hou dit uit na haar.
            Toe sy omdraai is daar trane op haar wange en Vader Niccòlo voel hoe sy weerstand verkrummel.
            "Wat het gebeur, Elizabeth?"
            Rou snikke ruk deur haar lyf en hy vou sy arms om haar liggaam. Hy ignoreer die een sagte roomwit skouer wat onder die kombers uitloer waar dit afgegly het.
            En hy besef opeens dat hy nogsteeds geklee is in net sy broek.
            Hy probeer wegtree van haar, maar sy klou net stywer vas aan hom, soos ‘n drenkeling aan ‘ stuk dryfhout.
            "Elizabeth... Ek..."
            Sy hou op met snik en kyk skielik baie ersntig na hom. Voordat hy besef wat sy gaan doen kom haar sagte lippe vol op sy mond neer.
            Hy ruk terug. "Elizabeth!"
            Sy tree terug, en staar hom stil aan, wysheid in haar oë, onvanpas vir haar jong ouderdom.
Vader Niccòlo staar verslae terug.
            Voor sy verbaasde oë laat sak sy die kombers stadig, todat sy voor hom staan, nakend.
            "Dit kan nie verkeerd wees nie, kan dit? " Haar oë is vraend op hom gerig.
            Vader Niccòlo gee 'n tree terug. "Ek is getroud met die kerk ... Die gevoelens wat jy in my ontketen..."
            Sy stap tot by hom en laat haar warm liggaam teen sy kaal bolyf rus. Haar hande liefkoos sy gespierde rug en borskas. Hy staan versteen. Te geskok om te beweeg. Te bang om asem te haal.
Sagte vrouehande op sy liggaam.
            Terwyl hy hom nog verlustig in die hemelse gevoel van haar naak vel teen syne en haar hande op sy bolyf maak sy sy broek behendig los en dit gly tot op die vloer.
            Haar sagte laggie breek die stilte toe sy afkyk na hom. "So ... priesters is ook maar net mense!"
            Sy moet die duiwel self wees! Waarom wil die Here hom so toets? O Vader! Hoekom voel hy so lam?
            Haar mond is weer op syne en dit is waar wat sy gesê het. Priesters is ook maar net mense, en sy leer hom die kuns van die liefde, op die kombers voor die kaggel in die sy huisie langs die kerk.  Terwyl die aardse storm buite woed, woed ‘n ander storm hom binne die huisie uit.
            Uiteindelik, toe beide lomerig na die dak staar, praat sy weer.
            "Ek is jammer ... Ek weet ek sal hiervoor gestraf word, maar dit was die moeite werd..."
            "Waar was jy? Ek bedoel ... hoekom was jy buite in hierdie storm?" Hy probeer sy stem so normaal as moontlik hou. Hy probeer die aanraking van haar vel teen syne ignoreer.  Hy probeer die hele voorval voor die kaggel ignoreer.
            "Ek... Gisternag het Wilbur na my kamer gekom. Toe hy gekry het wat hy kom haal het, het hy sonder 'n woord opgestaan en geloop. Ek kon sien iets is fout en het opgestaan en na sy kamer gestap. Hy het op sy bed gesit, met sy kop tussen sy hande. O Nicci! Ek het hom so jammer gekry! Ek het langs hom gaan sit en my arms om hom geslaan." Hy kan voel hoe sy langs hom bewe en trek haar onbewustelik stywer teen hom aan. "Hy ... hy het meteens opgekyk en sy oë... Sy oë was verskriklik! Hy het net na my gekyk en gesê ek moet sy kamer verlaat. Ek het verduidelik dat ek ... dat ek daar is vir hom. As daar iets is wat hom pla... Hy het nie geluister nie. Hy het my opgepluk van die bed en geskree dat daar net een vrou vir hom is en sal wees. Catherine en sy is dood! Ek moet my nie dinge aanmatig nie en weer na sy kamer kom nie. As hy behoefte aan ... aan my het sal hy na my kom! Ek kon net sit. Hy het my aan my klere opgepluk en letterlik by sy kamer uitgegooi! Ek het gaan aantrek en 'n ent gaan stap. Ek moes aan die slaap raak langs die rivier, want toe wakker word het dit so vreeslik gereën."
            "My arme, arme meisie... Jy kon verkluim het!" Hy trek haar nader.
            "Hoe kan ek hom ooit weer in die oë kyk?" Sy wriemel los en haar snikke hou meteens op. "O liewe hemel! Hoe ... hoe gaan ek jou ooit weer in die oë kyk! Ek is so jammer Nicci! So jammer!" Sy het opgespring en in sy kamer verdwyn. 'n Halfuur later is sy ten volle geklee en verlaat die huis sonder 'n woord. 'n Eensame, bleek figuurtjie.
            Vader Niccòlo draai op sy rug. Vader, vergewe my want ek het gesondig ... ek het my belofte aan U verbreek... Hy gee moed op. Hy bedoel dit nie. Hy voel nie berou nie. Sy gedagtes sweef nog in die fantasiewêreld van sagte vrouwees en die unieke ervaring van so pas.  Vader, vergewe my, maar ek voel nie skuldig nie …



30 Januarie 1706.
Ek is swanger. Dit is Wilbur se kind, want ek ... ek het eerste met hom gemeenskap gehad. O liewe hemel! Hoe kon ek vader Nicci so uitlok? Wat het ek gedoen? Ek gaan nie meer af na die dorpie nie. Ek bly die heeldag in die kasteel. Wilbur het my om verskoning gevra en ons gesels af en toe met mekaar.
            Ek het nog nie weer vir Vader Nicci gesien nie, en kan dit nie help om vir Wilbur te haat vir wat hy aan my gedoen het nie. As hy net nie so ongenaakbaare, liefdelose mens was nie! Hoekom het ek nie maar die staljong, of die wildjagter uigtelok nie?
           
26 Februarie 1706.
Wilbur het gesê ons kan die Seisoen na London gaan. Ons gaan egter reeds middel Maart vertrek sodat ek nie hoef te reis as my swangerskap verder gevorder is nie.
*
Molly staan handegevou in sy kombuis. "Vader Niccòlo, ek het net kom groet."
            Die priester kyk verbaas na Elizabeht se kamermeisie. "Waarheen gaan jy, Molly?"
            "Die Graaf en Grafin gaan na London vir die seisoen. Ek moet saamgaan."
            "Maar die Seisoen begin eers oor twee maande, Molly!"
            "Ek weet, Vader, maar die graaf wil vroeg vertrek sodat die Grafin nie hoef te reis wanneer sy verder swanger is nie."
            Dit voel vir die priester asof die hele wêreld om hom in duie stort. Swanger? Elizabeth is swanger?
            Molly tree bekommerd vorentoe. "Is iets fout, vader?"
            Hy ruk homself reg. "Nee... net 'n bietjie duiseligheid, Molly. " Hy probeer sy stem so normaal as moontlik hou. "Ek het nie geweet die grafin is swanger nie."
            "O ja. Die graaf is baie opgewonde! Ek is egter baie bekommerd oor die grafin. Sy lyk nie vir my baie sterk nie."
            "Kyk mooi na haar, Molly. "
            "Ek sal, totsiens, Vader."
*
15 September 1706.
Ek was nog nooit in my hele lewe so siek nie! Ek en Wilbur is nog steeds hier by my ouers in London. Dit is vir my baie ongemaklik om rond te beweeg. Molly en moeder verwag dat ek nou enige dag kan geboorte skenk.
            Ek mis Vader Nicci verskriklik. Hoe moet hy my nie verafsku nie?
*
Elizabeth se gille dawer deur die herewoning. Sy is al vir meer as agt ure in kraam.
            "Molly ... stuur almal weg! Ek wil alleen met jou praat."
            "Maar mevrou! U het...."
            "Molly nou!" Pyn skeur deur haar tenger liggaam.
            "Julle het haar gehoor." Gedwee verlaat die twee vroedvroue die kamer. Sy is dankbaar vir die feit dat haar moeder nog nooit met veel warmte tenoor haar opgetree het nie, en dit veel eerder verkies om saam met die mans in die biblioteek te wag.
            "Wat is dit, wat ek vir u doen, mevroutjie?"
            "Molly ... luister mooi. Hierdie boek, hier op die leestafel. Bewaar dit asof dit goud is ... Jy sal eendag verstaan, wanneer jy dit lees." Pyn skeur deur haar liggaam. Vir byna ‘n halfuur vind sy dit onmoontlik om te praat. Sy keer vir Molly toe sy die vroedvroue wil gaan haal.
            "Nee. Jy moet alleen hier wees. Ek gaan dit nie maak nie, Molly. " Molly skud haar kop, maar Elizabeth gryp haar hand toe pyn haar liggaam kromtrek. "Luister Molly. Doen asseblief wat ek sê!" En in hees stemtoon prewel sy haar laaste opdrag aan ‘n geskokte Molly.
            Vyf ure later skenk sy geboorte aan 'n seuntjie... Molly lê die kleintjie sag in haar meesteres se arms. "Dit is 'n seuntjie, mevroutjie."
            Elizabeth het nie eens die krag om te glimlag nie. "Gaan hy leef?"
            Molly trek haar skouers op en Elizabeth blaas haar laaste asem sag uit. Die kleintjie se babageluidjies raak byna terselftertyd stil.  

"Albei is dood. Gaan vertel vir haar ouers en die graaf." Die een vroedvrou gehoorsaam sonder teenstribbeling, toe Molly die kamerdeur op ‘n skrefie oopmaak. Die ander wil die kamer binne gaan.
            "Nee! Niemand sien haar so nie! Ek sal skoonmaak." Sy grendel die deur en begin opruim. 
            Twee dae later word Elizabeth Radcliffe en 'n klein bondeltjie, toegerol van kop tot toon in dieselfde graf begrawe. Niemand het eens die ou kleintjie gesien nie…
*
Vader Niccòlo laat sak die boek stadig. Trane blink op sy perkament wange. Hoe helder is alles nie skielik weer voor sy geestesoog nie. Sy groot sonde, soveel jare terug.
            Hy onthou daardie jaar so goed. Op 16 September is Sean op die kerk se stoep gelaat. Die graaf en Molly het twee weke later teruggekeer na die kasteel. Die graaf was stil en teruggetrokke. 'n Paar weke later het hulle hom dood in sy studeerkmaer aangetref. 'n Botteltjie gif is in sy lessenaar se laaie gevind.
            Niccòlo skud sy kop.
            Daar is nog een laaste bladsy geskryf in die boekie. Dit is nie in dieselfde handskrif as dié van Elizabeth nie.

23 Maart 1741
Vader Niccòlo, u sal hierdie woorde eers na my dood lees. Ek, Molly Higgins, beloof egter dat wat ek hier skryf die waarheid is, en u verdien om dit te weet.
            Sean is Elizabeth se seun. Haar seun het nooit gesterf nie. Ek het die klomp bebloede lakens toegevou binne 'n skone en daarop aangedring om self die bondeltjie langs haar in die kis te lê.  U sien, haar wraak was soet. Sy wou nie hê dat Wilbur ooit sy seun behandel soos hy haar behandel het nie. Sy het geglo dat die kind wat sy  in die lewe gebring het Wilbur s'n is en dat u die beste na hom sou omsien. Sy was lief vir u.
            Dit is nie vir my om te oordeel nie. Dit kom slegs ons Hemelse Vader toe, daarom het ek niks te sê oor dit wat daardie dag tussen u en Elizabeth gebeur het nie. Ek het egter my bedenkinge oor Sean se vader. Ek is van mening dat Wilbur die een was wat nooit kinders kon verwek nie. U sien, hy het my eie niggie gebruik om sy luste te bevredig. Sy het nie swanger geraak nie. 'n Maand hierna is sy egter getroud waarna sy spoedig swanger geraak het.
            Ou Laetitia se dogter is ook op hierdie manier deur hom behandel, en sy het ook nie swanger geraak nie, hoewel sy kort na haar eskapades met 'n ander jong man van die dorp, wel swanger geraak het.
            Wilbur se eerste vrou, Catherine het ook nooit swanger geraak nie, en in die tyd voor daardie dag by u, het ook Elizabeth nie swanger geraak nie.
            Ek het nie meer bewyse as dit nie, en u is geregtig om tot u eie gevoltrekking te kom.
            Naas my, wat nou al oorlede sal wees wanneer u hierdie bladsy lees, is dit net u wat die hele verhaal ken.

Vader Niccòlo laat sak die boek verstom. Sy gesig is spierwit en asem kom in hortende snikke oor sy lippe. Kan dit wees? Kan dit wees dat Sean sy kind is? O die sonde! Hy is die naam priester nie werd nie! Hy het 'n belofte teenoor die Here verbreek ...
            Niccòlo staan op. Sy hande bewe en hy klou krampagtig die boekie, soos Eizabeth hom daardie dag vasgeklou het.  Hy struikel en kom met 'n harde slag op die vloer te lande. Hy voel nie sleg oor sy sonde nie, en die skrif sê duidelik dat jou sonde vergewe sal word as jy jou verootmoedig voor die Vader. Jy moet sleg voel en vergifnis vra ...
            Maar hoe kan hy? Dit wat tussen hom en Elizabeth gebeur het was 'n stukkie hemel. En as Sean sy seun is, hoe kan hy ooit jammer voel daaroor?
            Hy sukkel om asem te kry. Sy longe wil nie meer nie en uiteindelik gee sy ou hart ook in.
            Vader Niccòlo sterf met die rooi boekie in sy vingers vasgeklem sonder antwoorde op sy vrae. Molly het verkeerde antwoorde beloof.

Dit is hoe die jong priester vir vader Niccòlo kry daardie aand. Hy maak die boekie sag los uit die ou man se doodsgreep en sit dit versigtig op die tafel neer. Hy dra Niccoló na sy bed en gooi 'n laken bo-oor sy lewelose gelaat.
            Die boekie word versigtig in sy eie laaikas weggebêre. Hy sal dit lees sodra hy die lek in die dak bo die trappe in die kerk herstel het. Dit is so stil hier sonder vader Niccòlo. Hy sal baie tyd hê in die aand om die boekie te lees…
www.etsy.com


            

2 comments: