Thursday, January 7, 2016

DIE KUNSTENAAR

JH Pierneef: The Baobab Tree.
This painting holds the record for the most expensive South African
painting ever sold at R 11.8 million
Image found on babodski.wordpress.com

Die Kremetartboom se blare gooi donker skadukolle op die sketsboek wat op die ou man se knieë rus.  Die tienjarige seun se oë volg die sekure handbewegings van die swart hand, waarin ‘n stuk steenkool uit gisteraand se vuur, liggies tussen duim en voorvinger vasgehou word.
   Voor die twee paar oë verplaas die ou man se behendige hand die natuurtoneel in malse groen en ryk bruin na swart op wit.  ‘n Meesterstuk, soos al sy ander werke.
    Die seun se blonde kop lig teësinnig op van die sketsboek toe die gebrul van ‘n diesel Landrover die stilte hier onder die ou Afrika-boom langs die rivier, versteur.
         Toeriste.
         Buitelanders.
        Daar word stilgehou en uitgeklim, bene gerek, koffie gedrink en oor en weer geskerts, terwyl die paar onder die boom alles met kenmerkende Afrika vrede en aanvaarding gadeslaan.
       ‘n Middeljarige dame met ‘n swaar Britse aksent kom nuuskierig nader.  Haar woorde is goedgesind, maar onwillekeurig neerhalend.  Die ou Sotho man knik sy kop en glimlag breed vir die vroutjie wat selftevrede wegskarrel, die ou man se skets stewig onder haar arm vasgeklem.  Hy trek die seun se wit hand nader en laat die enkele muntstukke tot in die jong handpalm gly.  “Lekkergoed geld.”
       “Hoekom het jy dit vir so min aan haar verkoop, Oupa Samuel? Sy was disrespekvol.”
        Die ou man lag saggies en staan op van die droë boomstomp.  Hy druk die sketsboek onder sy arm in en gooi die stuk steenkool op die grond neer.  “Sy sou my nie glo nie as ek vir haar gesê het wie ek is nie.  Kom, ek het ‘n vlug om te haal. Jou pa wonder seker waar ons so lank bly.”
        “Maar …” Dit is duidelik dat die voorval die seun ontstel het.
            Samuel draai na die kind.  “Dit is wat hier binne is wat saak maak, Simon.  Nie die kleur van jou vel of jou nasionalitiet nie.  Ons is Afrikane. Sy het nie my waardigheid aangetas nie, net haar eie.”
          “Maar is ek ook ‘n Afrikaan?”
          “Is jy hier hier gebore?”
          “Ja.”
          “Dan is jy ‘n Afrikaan. Afrika is in jou bloed en Haar vingers in jou siel verstrengel.  Sy is in jou oë en hart met sonsopkoms en sonsondergang, met elke wind wat die wolke oor ons hemel aanblaas en in elke reëndruppel wat Afrika-stof in lewe omtoor. Jy is ‘n Afrikaan Simon.”
         “Wanneer kom jy weer kuier?  Ek moet nog baie leer voordat ek soos jy kan skets.”
      Die ou man se droë laggie fluister liefde vir die kind aan sy sy, terwyl hul stadig aanstap.  “Ek het ‘n groot uitstalling in New York volgende week en die week daarna in London.  Dan kom ek vir lank terug en dan gaan ons elke dag skets.”
        Die seun knik, vou sy hand oop en kyk na die munte.  “Dit is seker die minste wat iemand jou nog vir een van jou sketse betaal het, Oupa Samuel.”
        Die wyse ou bruin oë vonkel lewenslustig.  “Dit is so.  Maar jy moet nooit jou liefde en passie vir kuns laat dooddruk deur geld nie.  Vergeet van die toeriste. Kom ons gaan koop lekkers met ons geld.”