Tuesday, June 21, 2016

VREDE

www.londongreeneafrica.com
(From a book depicting scenes from the Anglo Boer War)

"Solitudinem faciunt, pacem appellant."
(Hulle skep 'n woesteny en noem dit vrede.)
Cornelius Tacitus (c. 55 - c.120 n.C.)
Agricola

Die Afrika-hemel se ysblou kontrasteer skerp met die gloeiende goue bal van die son, wat met matelose hel neerbrand op die groepie krygers in die dorre veld.  Die vertrapte plante smag na reën om te groei, die soldate om die dood af te was, wat in vuil bloedspore oor hul gesigte en in rou smart in hul harte skommel.
            Die leier op sy uitgeteerde merrie kyk strak op na die genadelose hemel.  Geen wolk is in sig om verligting te bring op hierdie warm somersdag, in ‘n oorlog om stof so gloeiend en geel soos die genadelose son, nie. 
            Goud.
            Oorlog.
            Mag.
            Hy vee sy gesig met ‘n vuil sakdoek af.  “Kom manne.  Ons moet die rivier voor vanaand bereik. Ons kan daar kamp maak.”  Die perde lig hul swaar hoewe teësinnig.  Onder die Afrika-son beweeg die bedremmelde groepie ruiters sloom oor die bar landskap, terwyl daar in die kamp, nie ver van hulle nie, ‘n beteurde ry vroue en kinders stap terwyl die klanke van hul droefgeestige lied teen die klipkoppie vasslaan. 
            Tussen ander getimmerde, skewe en verrotte houtkruise is ‘n ou man besig om ‘n graf uit die klipperige landskap te kap.
            Nog ‘n graf.
            Nog ‘n sterfte.
            Nog ‘n offer aan goud en mag.
            Net ‘n kind.  Haar gewig niks meer as haar ouderdom nie.
            Die vrou wat voor stap val gillend, met hande opgehef na die hemel.  Haar hartseer te groot vir een snik of enkele trane.  Sy wil haar verlies uitkots, skree of in bloed krap.
            In my kop klink die refrein van Jesus se woorde: “My God! My God! Waarom het u my verlaat?”  Sy het nag na nag met die kind in haar arms gesit, gebukkend in ‘n dun tent, met een bed en na die roggelende hoesgeluide geluister, totdat dit een oggend stil geraak het, saam met die dun asempie en die lewenslig in die ogies.
            Net ‘n kind.
            Die warm grond val met dowwe finaliteit op die liggaampie, toegebind in ‘n verslete wit laken.  Die emosioneel vernielde vrou se rou snikke komponeer ‘n droefgeestige lied in harmonie met die grond en graaf wat meëdoenloos haar kind vir ewig begrawe – onder vreemde grond, ver van hul familieplaas. Onder ‘n son wat nie meer goedhartig neerkyk op die Boere nie.
            My God! My God! Waarom het U hulle verlaat?
            Ek swaai my perd weg van my uitkykpos op die koppie.  Ek wil nie meer die groep bittereinders sien nie.
            Ek wil nie die vrou se hartseer proe op die sanderige wind wat sy klaende stem toevoeg tot die melancholiese lied daar onder nie.
            Ek wil op my plaas wees, saam met my vrou en my kind.
            My perd drentel doelloos teen die klipkoppie af na benede, waar die Kakie vir my wag.  Die toue om my gewrigte skuur vel en vleis rou.
            Rooi.
            So anders as goud.
            Bloed vir goud.
            Ek word hardhandig afgehelp en staangemaak teen die skelwit muur van ‘n verlate stal.  Iemand het teen die muur met swart uitgekrap – Johnny was hier.
            Ek slaan my oë op na die Hemel. Waar sal my hulp vandaan kom?
            Ek wonder of iemand ook gehuil het langs my vrou en kind se graf.  In die verte trek ‘n swart rookwolk op in die lig.
            Nog ‘n opstal sneuwel onder die verskroeide aarde beleid van Lord Kitchener. ‘n Grootse man, sê die Britte. 
            ‘n Land in rou.
            Die eerste koeël van die fusillade tref my bobeen.  Die pyn is uitmergelend en ek struikel.  Genadiglik is dit my laaste sinvolle gedagte.

“Iemand is nounet gefusilleer.”  Die jong seun trap-trap rond in die stof voor hul tent.  Die vrou lig haar groen oë na die kind, haar enigste.
            “’n Rebel? Verraaier?”
            “Net’n Boer.”

Hy lê met sy oë starend na die hemel, sy lippe vertrek in ‘n ewige grynslag van pyn en verlies.
            Die vrou en seun, saam met ander kampinwoners, probeer verby stap sonder om hom te sien, om hul gehawende rantsoene te gaan opeis.
            En dan val die goue geel van die son uit die hemel en breek in splinters van glas om die vrou en kind.  “Pa…?” Sy gryp haar kind vas en draai haar oë na die afgryslike toneel.  Sy pluk haar kind weg van die starende gelaat van dit wat eens sy trotse pa en held was.
            Haar bene gee in onder haar en sy val stil op die grond langs die Boer neer, haar seun in haar arms.  Haar oë is droog. Haar hart ‘n stuk klip in haar bors. In sy baadjiesak die skrywe wat meedeel dat sy vrou en kind gesterf het in ‘n kamp.
            ‘n Leuen om hom uit te lok.
            ‘n Baasspioen. ‘n Doring in die vyand se vlees.
            Iemand dra die vrou na haar tent.
            Die kind sit verslae langs sy moeder.
            ‘n Dag later is die oorlog verby met die Vrede van Vereniging.
            Vrede.
            Stilte om uitgebrande huise en vrekgemaakte diere.
            Stilte in halfleeg kampe waar enkeles wag op vervoer terug na hul wonings, waarvan die mure nou in stil swart vingers die lig insteek, smekend na genade.
            Stilte op die vlaktes na gewere en liddiet bomme neergelê is.
            Stilte van stemme wat nooit weer sal praat nie.
            Dit is die einde van die oorlog.
            Vrede.