Tuesday, July 4, 2017

Geneviéve


Gedurende Augustus 2015 het ek die mini-roman oor tydperk van etlike weke, in dele gepubliseer op my blog. Die mini-roman was aanvanklik voorberei as bemarkingsinstrument vir 'n ander roman en as sulks op Amazon en op Kindle SA gepubliseer, en as sodanig gratis aangebied.  Onlangs het ek weer navrae ontvang aangaande die beskikbaarheid van die mini-roman en ek plaas dit derhalwe vandag as 'n totale eenheid op my blog. Geniet die lees daarvan, want dit is wat skryf vir my die moeite werd maak.  Tydens 2014, toe dit nog maar slegs vir 'n maand of twee beskikbaar was, het my uitgewer die volgende nota aan my gestuur aangaande dié Kindle-boek: "Genevieve is currently our 9th most downloaded book of all time. " (KBA - February 2014)      Aangesien die titel gratis beskikbaar gestel was en ook nie meer sedert begin 2015 beskikbaar is nie, en ek versoeke ontvang het vir die beskikbaarstel daarvan, het ek dit goed gedink om die novella te publiseer op my blog.

Geneviéve
Genevieve is lid van die Franse Weerstand Beweging gedurende die Tweede Wêreldoorlog, in die Franse dorpie Arromanches en later St. Mere Eglise. As radio-operateur vir die  maquis, en later SOE agent,  is sy een van die sleutelpersone in die weerstand se aktiwiteite wat opbou tot D-dag.
Die haat en wraak van n verraaier stuur Genevieve se lewe in n onverwagte rigting. Sal die liefde van twee mans, n Duitse SS offissier en n SOE agent vir die geallieerdes, genoeg wees om haar lewe weer op koers te bring? Of sal die wraak en verraad van n verraaier haar beroof van liefde en geluk vir die res van haar lewe?
 GENEVIEVE is n storie teen die agtergrond van die Tweede Wêreldoorlog. Mense na aan haar en haar eie lewe word gevorm deur onverwagse liefde, haat, wraak en verraad asook die menslike vermoë om te vergeef en die genesing wat vergewing bring.





“Daar sal ‘n einde kom aan oorloë
en sware tye sal verbygaan...
die bose oorlogpoorte sal gesluit word
met ystergrendels stewig vas, en binne-in
sal Waansin, die vervloekte, op wrede wapens sit
en aaklig gil met bloedbevlekte muil
en hande vas agter sy rug geboei
met honderd koperknope.”
Publius Vergilius Maro, 70-19v.C.
Aeneïs
(Vertaling deur N.A. Blanckenberg)

Die Ontmoeting
“Hoeveel keer moet ek sê dat liefde selde doodgaan van honger, maar gereeld van versadiging?”
Ninon de Lenclos (1778)
(Franse courtesan se brief aan die Markies de Sevigne)

Die vrou kyk bewonderend en miskien selfs met 'n tikkie vrees, na die man oorkant haar.  Sy hare is so swart soos steenkool en sy oë dieselfde blou as die hemel van Afrika, die land waar hy vandaan kom, om hier vir die Geallieerdes te kom oorlog maak in haar land.
            Sy leun droomverlore teen die deurkosyn en streel liefderik met haar hand oor haar nek. Sy skrik effens toe hy opkyk en haar in die deur gewaar.
“Ek is jammer, ek ... wou jou nie steur nie.”  Sy draai om. 
“Jy hoef nie te gaan nie. Ek kan doen met ‘n bietjie geselskap.”  Hy is moeg gewag vir nuus, vir voorraad, op die bevel om terug te keer na Engeland!
Met haar rug steeds na hom gekeer, antwoord sy. Haar stem sag. “Eerder nie. Goeienag.”  Hierdie keer verlaat sy die vertrek voordat hy iets  kan sê en hy luister na haar haastige voetstappe in die houtgang, hoor hoe dit, soos altyd, huiwer voor die portret van haar eggenoot in die gang en dan weer vinnig voortstap.
Vervlakste vroumens!  Hy skop die deur toe en stap na die venster, wat oor die straat uitkyk.  Sy tree  vreemd op!  Hy trek sy skouers traak-my-nie-agtig op.  Sy het nog nooit vandat hy hier gearriveer het rasioneel opgetree nie!  Hy glimlag wrang toe hy onthou dat Generaal Montgomery by El Alamein gesê het dat daar in ‘n oorlog dikwels plek is vir mal mense.
Iets moet  gebeur, anders sal hy gek word!
Hy skreef sy oë. ‘n Vrou stap stadig oor die straat, na die huis. 
Haar lang swart krulle beweeg liggies in die aandwind. Hy herken haar dadelik en sy hart se ritme versnel.  Geneviéve La Rouchefoult.  Haar netjiese postuur is gespanne.  Dit kan hy selfs oor die afstand en in die maanlig raaksien.  Sy vuiste bal. 
Hy wag.  Wat is aan die gang?  Waarom kom Geneviéve na die huis? Sy is die maquis in die area se radio operateur.   Hy verwag ‘n  seun met terugvoer oor die sabotasie … Nie hierdie beeldskone Franse meisie met haar weerlose oë nie!
Hy draai in afwagting weg van die venster toe die vrou van vroeër haar  blonde kop om die deur steek.  “Conrad, Geneviéve is hier. Sy sê sy  het belangrike nuus.”
Geneviéve stap stadig die vertrek binne. Die feit dat sy beedskoon is betrap hom elke keer  waar hy oor die afgelope ses maande met haar te doen het, ontkant. Haar gesig vertoon bleek teen die ebbehout swart van haar hare en haar oë lyk te groot in haar gesig.  Hy druk sy hande in sy broeksakke en maak sy keel skoon.
“Goeienaand  …”
            “Bonsoir M’sieur Dupont.  Ek is bevrees dat ek die draer van slegte nuus is.”
"Wat het gebeur, Geneviéve? "  Hy skrik vir die skorheid van sy stem en gee 'n tree nader aan die vrou, sy vuiste gebal in sy broeksakke.
            “Die sabotasie van die wapenfabriek was onsuksesvol.  Meer as die helfte van die maquis is dood en die res is ingeneem vir ondervraging. ”  Die woorde rol tonloos van haar tong, haar vingers pynlik inmekaar gevleg.  Die maquis wat vanaand dood is, was vriende, bure, winkeleienaars en bekendes in die klein gemeenskap van Arromanches.  Die hele dorpie se inwonerstal is niks meer as tweehonderd en sewentig nie!  Vir die man voor haar is dit maar net nog oorlog ongevalle. Vir haar is dit mense wat haar ouers voor hul dood geken het, mense wat haar aan haar verlede bind, mense wat vir haar belangrik is ... was.  Soos die erfgrond, wat sy kort na haar ouers se afsterwe verloor het ... Dit is nog ‘n skakel wat haar aan realiteit gebind het, wat weggeval het.  Verlore, om nooit weer herwin te word nie.  Behalwe vir ou Pierre, is sy alleen. So alleen!
Conrad kners op sy kake en draai sy rug op haar.  “Vervlakste verraaiers!” Hy trek sy hand moedeloos deur sy hare en laat sy oë oor die stil straat, in maanlig gebaai, voor die venster veeg.
Sy gee verbaas ‘n treë nader aan hom, haar hand effens gelig, so asof sy hom wil troos.  “Dink jy iemand, ... een van ons...,  is ‘n verraaier?”
Conrad se kristalblou oë is staalhard en genadeloos toe hy omdraai.  “Ek kan jou verseker dat dit nié te wyte is aan die Gestapo of SS in dié omgewing se uitmuntende spioenasiewerk dat van ons operasies oor die laaste vier maande gefnuik is nie!”
            “Jy is reg …” Sy knibbel ingedagte die onderkant van haar lip terwyl sy terugdink.
Conrad beteuel met moeite sy emosies. Al die maande se harde werk, gewaagde kanse en dit vir niks! Verraad is ‘n vieslike ding! 
Geneviéve laat sak haar oë beskermend voor sy koue, harde blik.  Haar linkerhand streel ingedagte oor die rugkant van die stoel voor haar.  "Ek moet nou gaan ... Dit is al lank na ligte-uit." 
"Ek stap saam."  Hy maak die deur oop, verwens die botheid van sy stem.
Sy vermy sy oë.  "Dis nie nodig nie... Ek ..."  Weer verstrengel die slanke vingers, oë afgewend.
Hy wys vir haar dat sy moet stap en sy houding van ingetoë woede weerhou haar van verdere kapsie. "Waar woon jy?"  Hy trek die buitedeur toe.  Die naglug is koel.
"Nie ver nie ... Dis regtig nie nodig ..."  Sy vou haar arms beskermend voor haar liggaam. Dit is koel, en haar hande voel, met hom so naby haar, oorbodig.
Conrad trek sy hande uit sy broeksakke en strek sy vingers.  Hy gooi sy kop agteroor en blaas stadig maande se ingehoue spanning uit in asem. Wat gaan aan met hom? 
Die windjie liefkoos haar weelderige hare en waai dit sag aan teen sy wang. Haar vroulikheid hier langs hom, in die donker, bedwelm sy sinne.  Hy skud sy kop geïrriteerd en weet hy oortree alle reëls, moreel en militêr.
"Dit is nie veilig nie ..." Regverdig hy homself.  Of soek hy net geselskap? Of meer?
            Die klipstraatjie kronkel, onaangeraak deur die oorlog,  dof tussen die huisies deur.
"Halt daar! Dit is na ligte uit! " 
Conrad gryp haar elmboog en pluk haar styf teen sy liggaam.  Sy snak effens na haar asem en hy voel hoe die vingers van haar hand na syne soek in die donker en dan krampagtig daarom vou.  Sy hart klop in sy keel, laat dit voel of sy kop met elke slag uitsit en weer krimp.  
Die Duitse troep kom opgeblase nader, sy wapen nonchalant oor sy skouer. 
Conrad trek ‘n diep teug van die laventelgegeurde naglug in sy longe.  Joviaal begroet hy die vyand in Duits. "My goeie vriend! Goeienaand! Vergewe ons asseblief? Jy weet tog hoe dit is ..."  Hy knipoog vir die soldaat en knik sy kop veelseggend in Geneviéve se rigting.  "Ons het alle tred met tyd verloor!"  Sy arm gly om haar rug en trek haar veelseggend nader.  As dit nie was vir haar liggaamshitte wat hom brand deur sy hemp nie, sou hy homself maklik kon oortuig dat sy ‘n lyk is in gevorderde stadium van rigor mortis.
Die soldaat gluur hulle wantrouig aan.  Daar was immers 'n mislukte poging tot sabotasie vroeër die aand.  Elke tweede inwoner is 'n lid van die maquis ...
Hy buig ondersoekend nader, sy gesig etlike sentimeters van Geneviéve s’n.  Sy rem weg van hom, druk haar kop styf teen Conrad se borskas.  "Ja ... sy is 'n pragtige klein dingetjie ... Ek kan seker hierdie een keer oorsien ... Jy behoort van beter te weet! Wat is jou rang?"  Geneviéve sluk rukkerig.  Conrad se spiere bondel vol antisipasie in sy voorarms.  “Let op jou toon, troep! Ek weet jy doen net jou werk.  My rang is vir jou van geen belang.  Ek wil nie hê dit moet môre oral rondlê dat ‘n SS offisier na ligte uit met ‘n Franse slet betrap is nie.  Gaan jou gang en vergeet wat jy gesien het!” Hy stu Geneviéve se stokstywe liggaam in die rigting waar sy haar woonplek aangedui het. 
Die oorblufte Duitse troep kap sy hakke teenmekaar, stoot sy borskas uit en salueer verbouereerd.  “Jawol!”
Conrad voel hoe die meisie se spiere ontspan.  Adrenalien stuur ‘n tinteling teen sy ruggraat op en hy ervaar ‘n allesoorheersende behoefte om haar te soen.  Nie die eerste keer in die ses maande nie, maar nog nooit was die geleentheid so gul nie.  Hy stoot haar effens weg van hom en stu haar voort.  “Jammer hieroor, speel saam.”  Hy pluk haar aan haar arm agter hom aan en vra dan sag,   "Hoe ver nog?"
"Dit is die tweede huis, daar voor regs." 
Die Duitse troep staar hul kopskuddend agterna.  Die SS offisiere kan ook doen net wat hul wil en wegkom daarmee!  
Hy kyk hoedat die vrou 'n deur aan die regterkant van die straat oopsluit en die twee mense na binne verdwyn.
Conrad druk die deur verlig toe en sluit dit.  Sy staan voor hom, haar arms langs haar sye, haar lippe effens oop.
En toe  stap sy spontaan in sy omhelsing in.  Haar lippe is sag en sy proe na kaneel en suiker. Hy trek haar stywer teen hom vas en laat sy hande stadig oor haar rug gly totdat sy hande met gemak om haar dun middel span. Hy druk haar effens weg van hom, en toe hy afkyk in haar oë weet hy dat hy nie nou meer kan stop nie. Hy het dit nodig. Hel, hy het haar nodig!
Die passie wat elke dag oor die laaste paar maande gestook is, vat vlam en brand hoog en warm vir etlike minute voordat dit uitbrand. Hulle sak uitgeput langs mekaar op die verslete mat in die voorkamer neer, hul klere oor die hele vloer verstrooi.
"Jy is baie mooi ..."  Hy leun op sy elmboog en laat sy oë gulsig oor haar pragtige liggaam speel.
“Waar het jy Duits en Frans leer praat?”
Hy streel met sy vinger oor haar lippe.  “Hier en daar ...”  Genoeg reëls is vanaand oortree.
Haar lang wimpers gooi sensuele skadu’soor haar wang toe sy afkyk.  
"Wil jy vannag hier bly?" Die sweet op haar liggaam is besig om af te koel en hoendervleis slaan  op haar maag en borste uit.  
Die uitdrukking op sy gesig is verlore en weemoedig toe sy opkyk  vir ‘n antwoord.
‘n Koue hand omklem haar hart. "Of wag daar êrens 'n Mevrou Dupont op jou?"
Hy grinnik verleë.  "Nee. Niemand wag vir my nie.  Maar deur hier saam met jou te wees oortreë ek talle reëls, en stel ek waarskynlik jou lewe in gevaar." 
“As jy nie vanaand saam met my gestap het nie, het ek myself op hierdie oomblik waarskynlik in ‘n uiters benarde posisie bevind – soos in Gestapo hoofkwartiere of veel erger...  Jy kan bly as jy wil...”  Sy staan op, kyk af na hom.
"Ek kan ja ... maar dit sal net wees oor die oorlog, en omdat ek dit nodig het.  Sodat ek weer soos 'n mens, 'n man kan voel ..." Hy kom ook orent, neem haar hand in syne.
Haar oë rus vir ‘n stonde op sy mond en dan kyk sy hom vol in die oë. “Ek verstaan Conrad.”  Sy vou haar vingers om syne en trek hom agter haar die trappe op, na haar slaapkamer.
Die maanlig gooi ‘n enkele silwer straal  oor die verweerde houtvloer, waar die dik gordyne nie mooi toe is nie. Sy verjaag die maanlig met ‘n elegante swiep van haar gewrig toe sy die gordyn dig trek. Die inkswart vertrek word ‘n stonde later in die goue lig van ‘n eensame kers gebaai. Hy lê die twee treë na haar af en trek haar teen hom vas. Hierdie keer, miskien die laaste keer wat hy die geleentheid sal hê, wil hy elke aanraking bewaar.  Die reuk van haar vel, haar hare en haar mond.
Op die groot bed in die middel van die vertrek, smelt hul liggame saam in die oeroue dans van die liefde.

Die kamer is skemer toe hy wakker word. Êrens voor die huis  kondig ‘n haan skel dagbreek aan.  Haar donker krulle lê in wanorde verstrooi oor die wit kussing. Lang wimpers rus vlindersag op porseleinwange.  Hy klim versigtig van die bed af, om haar nie wakker te maak nie, maar  haar oê vlieg oop toe hy langs die bed staan.
"Ek moet gaan."  Verskonend.
Sy knik.  En strek haarself lui, soos ‘n kat uit.  Conrad draai vinnig weg en haas hom met die trappe na onder om sy klere te kry.
Toe hy klaar aangetrek is, raak hy bewus van haar teenwoordigheid aan die bopunt van die trappe.
Die wit laken is om haar liggaam gedraai en haar hare hang verleidelik oor haar regterskouer. 
Conrad maak sy oë toe en hy weet dat hy die betowerende prentjie vir altyd in sy geheue sal bewaar.
"Dankie Geneviéve ... dat jy my herinner het ... aan alles wat was voor die oorlog.  Wie ek was, voor ek ‘n soldaat geword het."
Sy glimlag treurig.  "Jy weet nou waar ek woon.  Jy is enige tyd welkom, wanneer jy vergeet wie jy was..."
Hy laat sak sy kop en stap na buite. Huistoe ... of eerder hoofkwartier toe.  Hy grinnik toe hy besef dat hy al aan Michelle se huis begin dink as 'n woning.  Toe hy as deel van die Suid-Afrikaanse korps in Noord-Afrika diens gedoen het, het hoofkwartier iets veel anders beteken as dit wat hy nou hoofkwartier noem!
Gisteraand se swartgalligheid het verdamp.  Hy voel opgeruimd, vir die eerste keer sedert hy hier aangeland het.




Verraad
“Om te verraai, moet jy eers behoort.”
Kim Philby, Britse Intelligensie Offisier en Soviet Spioen (1912 – 1988)

Michelle, die blonde vrou,  is in die kombuis toe Conrad by die agterdeur instap. "Waar was jy?  Die storie loop dat tientalle gisternag gedood is! Ek was bekommerd ... "  Sy tree nader aan hom.
"Ek was besig, Michelle. Ek kan na myself omsien."  Hy tel ‘n varsgebakte broodrolletjie van die warm bakplaat op, maar sy hand verstar oppad na sy mond.
"Jy was by Geneviéve, die heelnag... "  Groot bruin oë is verwytend op hom gerig.  
"Dit het niks met jou te doen nie, Michelle."  Hy keer sy rug op haar, maar stop in sy spore toe hy 'n kabaal agter hom hoor.  Die porselein mengbak wat sy in haar hande gehou het spat aan skerwe teen die deurkosyn langs hom.  Hoe weet sy waar ek heelnag was?
            “Hoekom sy? Hoekom nie ek nie?”
Hy draai verbysterd om, bedink homself en draf die trappe na die badkamer twee-twee op.  
Michelle sak snikkend op die stoel by die kombuistafel neer, ‘n verfrommelde brief, ses maande vantevore gedateer, fladder vergete vloer toe.  
Conrad pluk die stortgordyn met mening toe en draai die yskoue water oop. Michelle se optrede is verrassend en kommerwekkend. Irrasioneel is miskien 'n beter beskrywing.  Hy skud die water uit sy oë en draai die warm water oop.
Hy het geweet dat hierdie een van sy mees uitdagende missies sou wees. Dit is waarom die SOE hulle nooit vir langer as vier maande in so siviele opset ontplooi nie.  Langer en dit raak menslik onmoontlik om nie betrokke te raak nie. Al wat hy kan doen is om te wag dat sy bevelvoerders voorraad en bevele stuur. Daarsonder is al sy opleiding en ondersteuning niks werd nie! Ergste van alles is die feit dat die maquis nie opgeleide soldate is nie. Hy mis die samesyn met sy mede-soldate. 
Terwyl hy afdroog dwaal sy gedagtes na die vorige nag se mislukte operasie.  'n Groep spesiale eenheid soldate sou nie so gemors van die hele operasie gemaak het nie!
En onbepland kruip die donkerkop bondeltjie vrou ook sy gedagtes binne.  Ek is te lank hier.  Hy weet dat gisternag nooit moes gebeur nie. Maar hoe kon hy nie? En hy weet hy moet hom losskeur van die mense. Sy lewe, hulle lewe en die missie waarop hy is se sukses hang daarvan af. En binnekort gaan hy herroep word.

Hy bereik die Weerstandsbeweging se hoofkwartiere sonder om in 'n Duitser vas te loop.  Pierre se groet is ingetoë, maar vriendelik, soos altyd. Waarom voel alles dan vanoggend vir hom anders?
            “Daar is ‘n verraaier in ons midde, Pierre.”
            Die ou man trek sy skouers op. “Is daar nie maar nie altyd nie?”      
Pierre se gesig helder op toe hy Geneviéve aangestap sien kom. "Geneviéve! Bonjour ma cheri! Jy is veilig!"  Hy neem haar hande in syne. 
            En Conrad staal homself vir haar optrede na gisternag. 
            Sy kyk op na hom, ‘n sweempie van ‘n glimlg om haar mooi lippe. En niks anders nie. Niks. Geen suggestiewe glimlag of aanraking nie.
Bonjour M’sieur Dupont.”
“Goeiemôre Geneviéve.  Ek sal vanaand  net na jou roetine radio kontak met London, my bevelvoerders moet kontak.”
Sy knik haar kop. “Vanaand se geskeduleerde tyd is middernag.”

Teen nege-uur daardie aand lê hy, hande gevou agter sy kop, op die bed.  Hy hoor Michelle in die badkamer en is dankbaar dat hy haar nog nie met 'n oog gesien het na vanoggend se debakel nie.  Sy verligting is egter van korte duur toe hy haar sagte voetstappe in die gang voor sy kamer hoor.
Sy kamerdeur gaan tellings later stadig oop.  “Michelle?”  Haar wasige wit nagrok laat nie veel aan die verbeelding oor nie.
"Slaap jy?" Sy laat haar wimpers skamerig oor haar bruin oë sak. 
            “Nee. Kom binne.”  Hy gooi sy bene van die bed af en kom in ‘n sittende posisie, sy oë waaksaam op die bedeesde wese gerig – so anders as vanoggend.
            Sy gaan sit op die bed.  “Ek is jammer oor vanoggend.”
            Sy oë rek ongelowig en hy leun effens terug teen die bed se kopstuk.
"Jy hoef niks te sê nie."  Sy leun stadig oor na hom, sodat die rok se lae hals verleidelik wegtrek van haar borste. 
            En hy onthou gisternag.
            En hy onthou Geneviéve se kalmte vanoggend.  En ek het haar laat verstaan dat ek haar net nodig het gisternag. Niks meer nie. Hier, nou, in die teenwoordigheid van hierdie vrou, wie se hele wese ‘n ope uitnodiging aan hom rig, NOU weet hy gisternag was meer. Baie meer...
“Houvas my net, asseblief?” Sy oë vlieg verstom na haar gesig. Hy vee vinnig 
met sy hand oor sy kort hare, breek oogkontak met haar, staan op en stap tot voor die venster met die dig getrekte gordyne.
"Nee, Michelle. Jy is getroud."  
Sy laat sak haar oë, haar vingers is verstrengel in die wit satyn lint wat ‘n onskuldige strikkie maak by die sensuele kurwes van haar borste.  Sy ontknoop een vinger haastig om ‘n lastige traan, wat oor haar wang kruip weg te vee. "Ek het maande laas 'n brief gehad.  Ses maande..."
Hy wil vir haar sê dat dit geen verskil maak aan die status quo nie.  Hy wil homself wysmaak dat gisternag niks meer as seks was nie.  Gemeenskap sonder gevoel. En hy KAN dit weer doen. Maklik. Hy is maar net ‘n man...
Hy trek ‘n diep teug lug in sy longe en neem die een tree na haar, wat die 
delikate balans van mag  tussen aanbod en aanname, sal versteur. Want hy verstaan hoe sy voel. 
Hy plaas sy hande op haar skouers  Hy verban alle gedagtes, moreel, militêr en sentimenteel, uit sy brein en sy donker kop sak stadig oor haar blonde een...

Kort voor middernag trek hy versigtig die beddegoed van hom af en rol stadig uit die bed, sodat sy nie wakker word nie.
            Dit was glad nie soos gisternag nie. Geen onblusbare passie nie.  Dit was maar net seks ...
            En Conrad Dupont weet dat hy sy hart in hierdie oorlog verloor het op ‘n petite donkerkop bondeltjie mens, met groot hartseer oë.

Hy bereik Pierre se huis sonder voorval. Geneviéve is besig om op te staan voor die radio.  Hy vermy haar oë. 
Sy kyk glimlaggend op na hom.  "Ek het gedink jy kom nie meer nie."  Sy maak plek vir hom voor die radio.
"Sal jy my asseblief alleen laat?"  Sy staan woordeloos op en verdwyn af in die gang terwyl sy ‘n opgewekte Franse deuntjie neurie.
Dit neem hom 'n paar minute om die boodskap te versend aangaande die verraad en ander sleutelinligitng welke die Geallieerde Opperbevel sal kan benut in hul besluitnemingstrategieë. 
Hy vind Geneviéve  in die kombuis.  "Jy kan maar wegpak, dankie."  Sy oorhandig 'n beker tee aan hom. 
"Pierre sal wegpak. Ek moet by die huis kom."
Hy neem ‘n sluk van die té soet tee en sit die beker op die tafel neer. "Ek stap saam." Hy kan nie nou teruggaan na die huis waar Michelle vir hom wag nie.  En hoe kan hy nie saam met haar stap nie, as sy met sy hart in haar hande wegstap?
"Dis nie nodig nie, ek is gewoond daaraan om alleen te stap." 
Hy glimlag veelseggend vir haar en saam stap hulle in stilte na haar huisie. 
Hy staan ongemaklik op die verslete mat waar hy haar gisteraand so passievol in sy arms gehou het. "Tee?"
"Nee ... nee dankie."  Hy vermy haar oë.
"Wil jy solank vir my in die kamer wag?"
Dit is nie waarom ek saam met jou gestap het nie!, kreet sy hart, maar hardop sê hy.  "Nee, ek dink dit is beter as ek nou gaan."  Hy voeg woord by daad en stap na die deur. 
"Jy hoef nie skuldig te voel omdat jy saam met Michelle geslaap het nie... "  
Dit voel of ‘n vuishou hom reg in sy maag tref, daar waar dit die seerste maak.  Hy kyk stadig op na haar.  “Hoe het jy geweet?”
Sy glimlag treurig.  “Ek het geraai.  Jy is heeltemal ontuis in my geselskap vanaand.”
Hy knik. Skaam. Maak sy keel skoon.  “Daar kon baie ander redes wees.”
Sy lag sag.  “Ek ken jou beter as wat jy dink, Conrad... Waarom het jy saam 
met my gestap?"
Hy gaan sit op die bank, sy kop in sy hande. Omdat ek jou bo haar verkies! Maar hy kan dit nie sê nie, kan hy? Omdat ek my hart op JOU verloor het!  Maar onder die omstandighede kan hy dit ook nie sê nie.  "Ek weet nie ..." Die maklike uitweg.
Sy kom sit langs hom. "Jy vertrou my nie?"
Hy kyk stadig op, en hy weet sy oë smeek. "Ek vertrou niemand nie. Enigeen kan die verraaier wees.  Jy, Pierre, Michelle, enige van die tientalle saboteurs..."
Sy sit haar hand op sy been. "Dit is vir jou moeilik hier?"
'n Harde klop aan die deur laat beide verskrik opkyk.  Duitse stemme klink van buite op.  
"Mach auf! Maak oop!"
"Die Gestapo." Haar oë is groot in haar gesig.  Die teerheid van flussies weggeraap deur angs.
Conrad reageer instinktief. "Trek uit jou klere! Skink tee in twee koppies en 
roep my, hard sodat hulle kan hoor. Dit moet nie lyk asof ons nou net hier ingestap het nie! Trek aan my hemp."  Hy pluk die kledingstuk uit en hardloop met die trappe op, waar  hy wag dat sy hom roep.
            "Conrad!" 
            Sy hemp hang tot by haar knieë en sy lyk verwese, waar sy in die middel van die voorvertrek se vloer staan. Hy glimlag bemoedigend.
            En toe maak hy die deur oop.

"Ons wil vir Mamselle Geneviéve la Rouchefoult sien."  Die Duitser se stem is bars.
Conrad frons vies.  "Hierdie tyd van die aand.  Dit is al lank na ligte-uit!"
"Waar is sy!? Of is sy weer besig om sabotasie-planne te smee!"
Conrad se hart mis ‘n slag en dwing hy 'n nonchalante lag oor sy lippe. "Wat? Geneviéve 'n maquis?"  Hy draai effens om.  "Het jy gehoor ma cherie? Hulle dink ..." 
Die Duitser stoot hom ru weg voor die deur en stap binne.  "Mamselle la Rouchefoult , u moet onmiddellik saam met ons kom."
Sy staar vasgenael na die twee mans voor haar deur. En toe weet Conrad verseker, as sy hier uitstap, gaan sy hart saam. In ‘n oorlog is daar geen ongewonde soldate nie ...
"Sy gaan nêrens heen nie..." Afgemete.
Die Duitsers lag die lag van oorwinnaars, brute, onverfynde barbare wat hulle 
is.
Meteens is daar twee soldate aan weerskante van Conrad wat hom teen die muur vaspen, een met 'n rewolwer teen sy se kop.  "As jy een beweging maak, skiet ons jou vrek."
Geneviéve laat val die beker tee wat sy in haar hand gehad het en dit spat aan  
skerwe op die vloer.  Soos sy hart!
"Staan stil Conrad.  Ek sal saamgaan ..."  
Sy stap stadig met die trappe op en Conrad bewonder die dapperheid van die meisie. En hy weet met onwrikbare sekerheid, dat hy vir die res van sy lewe sal onthou hoe sy uit sy lewe uitgestap het, met sy hart in haar hande...
Toe sy afkom met die trappe, geklee in 'n wit hemp en donkerblou romp probeer hy losruk en gee die troep aan sy linkerkant ‘n harde hou op die kakebeen. Hy trek sy knie op om die man aan sy regterkant, met die pistool ook buite aksie te stel, maar dié slaan hom hard met die rewolwerkolf teen sy slaap.

Vaarwel
“Dit is nie net soldate wat oorlog toe gaan nie.”
Spaanse Spreekwoord

Ure later ontwaak Conrad stadig met 'n kloppende hoofpyn.  Hy kreun toe hy regop kom en sy hand vlieg onmiddellik na die pynlike knop teen sy slaap.  Hy steier orent en dan tref nog ‘n hou hom. Dié een van onthou.  Hy hardloop met die trappe na bo, gryp terloops sy hemp van die bed, kyk rond en haas hom dan na buite, waar die selfvoldane haan dagbreek uit volle bors aankondig.
Michelle is weer in die kombuis, besig om brood vir die Duitsers te bak,  toe hy die huis binnestorm.  "Jy het nie gisternag huistoe gekom nie. Ek het vir jou gewag ..."         
            Sy staar hom verdwaas agterna toe hy die trappe twee-twee neem oppad na bo, sonder om haar te groet.
            Haar hande val verwese, lam langs haar sye.  Hy verkies haar steeds bo my ...

Pierre skud sy kop verstom. "Elke oggend het ek op hierdie tyding gewag ... elke oggend. "  Die ou man sak vermoeid neer op die  rusbank, trane in sy oë.  “Die dag toe die Duitsers haar grond met die wingerde en die groot herehuis wat sy by haar ouers ge-erf het, opgekommandeer het, het sy gesweer dat sy alles in haar vermoë sal doen om elkeen te help wat teen die onderdrukkers baklei, al is dit die laaste ding wat sy doen. En dit mag nou die laaste ding wees wat sy doen ...”
Conrad byt op sy tande. Sy hart klop met moeite harde stadige houe in sy borskas.  "As hulle haar martel, kan sy praat ..." 
Pierre kyk stadig op, ongeloof gebeitel op sy hartseer gelaat. "Is dit al waaroor jy bekommerd is?"
Conrad gaan sit langs die ouman.  "Luister Pierre, dit is oorlog.  Almal weet dat hulle 'n risiko loop om betrokke te raak  en Geneviéve het dit geweet.  Jy het dit geweet.  Die realiteit is dat sy moontlik op hierdie oomblik gemartel word en die ander koue realiteit van hierdie vuil speletjie is dat ons 'n verraaier in ons midde het!  Ek wil net so graag soos jy vir Geneviéve uit hierdie drek se kloue kry, en ek gaan alles binne my vermoë en in die tyd tot my beskikking doen om dit reg te kry, maar ons moet realisties wees. "
Pierre laat sak sy oë voor dié van die soldaat se argument.  "Sy is lief vir jou .... vanaf die eerste oomblik wat jy hier ingestap het." Die beskuldiging lê vlak en slaan hard.
Conrad laat sak sy kop in sy hande. En hy wens dit was net sy hart wat gebreek het en nie hare ook nie. Hy lig sy kop. “Pierre, London het my herroep.  Hulle sal my vanaand laat weet wanneer hulle voorraad en ‘n vliegtuig stuur. So ek weet nie hoe lank het ek om Geneviéve te help nie.  Jy sal my moet help. 
Pierre knik.  “Goed.  Wat het jy in gedagte?”
"Ons weet nie wie ons kan vertrou en wie nie, so hoe minder mense ons betrek by hierdie operasie hoe beter.  Ek en jy sal na die beste van ons vermoë die  hele ondergrondse  beweging in Arromanches en St. Mere Eglise moet beveilig.  Dit is prioriteit.  Intussen kan jou vrou vanoggend na die Duitsers se hoofkwartier gaan.  Miskien kan sy uitvind waar hulle Geneviéve hou en hoe dit met haar gaan."
Die ou man knik afgetrokke.  "Ja, ja.... Ek stuur haar dadelik." 

Teen laatoggend is elke weerstandsbeweginglid van die dreigende gevaar in kennis gestel en  wapens, planne, kaarte en radios is beveilig.  Teen middagete het Pierre se vrou steeds nie teruggekeer nie. Conrad stap soos 'n gehokte  leeu, op en af, voor die venster in Pierre se voorkamer.  Elke minuut draal soos ‘n leeftyd.   Hy wend hom na Pierre wat verdwaas, doodstil op die rusbank sit. “Waar bly sy!”
Op hierdie oomblik, asof georkestreer vir ‘n drama, stap 'n snikkende en selfbejammerende mevrou Pierre die huis binne.  "Hulle het net geweier! Hulle het my maak wag - die heel oggend!  Net sodat hulle my nou kon vertel dat ek haar nie mag sien nie!  Dit is verskriklik!"  Sy sak, hande voor haar gesig op die bank langs Pierre neer.  "Ek het die vreeslikste geweeklaag gehoor.  Ek is seker hulle martel haar.  Die arme kind ..." Hierop bars die vrou in 'n volskaalse geweeklaag van haar eie uit, wat Conrad se reeds rou senuwees martel soos hy vermoed hulle martel Geneviéve.  Hy maak sy oë toe.  Magteloos!
Pierre skud haar aan haar skouer, erg ontsenu. "Madame! Staak onmiddellik hierdie gegrensery!  Het jy die wagte getel?"
Met erge verbasing in haar oë kyk sy verskrik na Pierre, vlieg op en hardloop  uit die vertrek, net sodat hulle haar hartverskeurende snikke vanagter die toe kamerdeur kan aanhoor.
Pierre wend hom na Conrad, wat sy eie angs onder beheer probeer kry, deur stip deur die venster na buite staar, waar ‘n ligte briesie die laventelblomme roer. “Wat gaan ons doen?”
            Conrad draai om. “Ons gaan niks doen nie.  Ek gaan doen wat ek kan. Ek is opgelei hiervoor.  Jy gaan vir my ‘n Duitse uniform kry. Enige een.”
            “Maar M’sieur! Die Geneevse Konvensie ...!”
            “Doen wat ek sê.”

Teen laatmiddag stap 'n Duitse SS-Hauptsturmführer (Duitse SS paramilitêre rang gelykstaande aan Kaptein) met 'n flambojante swart krulsnor oor die straat na die Duitse Hoofkwartier.  Conrad gaan die gebou moeitevry binne, nadat hy een laaste keer aan die vervlakste vals snor gedruk het.  Niemand steur hulle egter aan die  SS-Hauptsturmführer nie.  Die laaste paar weke daag hier gereeld tydig en ontydig nuwe offisiere op.
Duitse administratiewe personeel skarrel rond.  'n SS-Schutze (troep) kom van voor af met 'n skinkbord en Conrad haal diep asem.  Hy kan vier tale foutloos praat. Afrikaans (sy moedertaal), Frans, Engels en Duits.  Laasgenoemde met ‘n vae aksent.   "Waar is daai mooi Franse slet? Die een wat van sabotasie verdink word, wat gisternag gearresteer is?"
Die troep kyk verskrik na die offisier wat onverwags met hom praat. Conrad strek homself tot sy volle 1.8 meter.  "Moenie net daar staan en my aangaap nie, Troep.  Praat!  En staan regop wanneer 'n offisier met jou praat!"
Die troep sluk sodat sy adamsappel verbouereerd spring, trek sy skouers terug en stammer: "Ja Kaptein. Sy is hieronder, Kaptein."
Kripties. Hy kyk vinnig na die trappe, links agter die troep.  Hy grinnik wreedaardig vir die vreesbevange jongman.  "Dit is beter. Ek sal daardie skinkbord na haar neem." Hy neem dit daadwerklik uit die vreesbevange ventjie se hande.
"Maar, Kaptein, dit is nie vir ..."
"Praat jy teë?"
"Nee Kaptein.  Dankie Kaptein."  Hy verdwyn af met die gang, maar te dankbaar om uit die teenwoordigheid van die dreigende Korporaal te kom.

Conrad klim die trappe stadig na onder.  Hy sluk as hy die gevangenes in die selle aan sy regterkant die een na die ander deurkyk, soos wat hy met die gang af beweeg.  Hul staar terug, onverbloemde haat in hul oë.
Hy stap verby Geneviéve se sel en  laat val byna die skinkbord toe hy haar herken.  Sy sit gehurk, agter in die hoek van die sel.  Haar arms styf teen haar liggaam vasgeknel en wasbleek.  Haar lang swart krulle hang in slierte half oor haar gesig.
Sy staar reguit na hom, deur hom, na ‘n wêreld wat net sy kan sien.
Hy maak sy oë momenteel toe.  Hoeveel keer het hy al hierdie optrede in slagoffers gesien. "Geneviéve ...?"
Sy staar in stilte.
“Geneviéve ...”  Hy tel die beker water op die skinkbord op en skiet die inhoud tot in haar sel.  Sy knip haar oë en kom stadig orent.
"Geneviéve, dit is ek ... Conrad."
Sy kom stadig na die tralies. "Conrad?" Haar slanke vingers vou krampagtig om die traliewerk.  “Wat soek jy hier!?”
Hy plak die skinkbord op die grond neer. Sy groot hande sluit warm om hare.
"Geneviéve, luister na my. Weet jy wanneer hulle jou weer kom haal?"  
Sy skud haar kop, haar oë twee groot poele groen vloeistof in ‘n genadelose wit landskap.
"Geneviéve, ek gaan alles binne my vermoë doen om jou hier uit te kry."  
Sy maak haar een hand los uit sy greep en sit dit deur die tralies teen sy wang.  “Ek weet London het jou reeds herroep.  Daar is nie tyd nie.  Ek verstaan ...”
Die geluid van swaar stewels op die trappe ego die hopeloosheid van die situasie. Beide van hulle kyk vinnig in daardie rigting.  "Jy moet nou gaan Conrad..."  ‘n Traan loop oor haar wang.
“Geneviéve, ek wil ... Dit was nie net seks nie. Nie vir my nie ...”  Hy wens hy kon haar styf teen hom vastrek.
Sy glimlag deur haar trane.  “Ek weet Conrad.  Gaan nou asseblief!”  Sy retireer stadig na die agterste hoek van haar sel, waar sy weer ineengetrek gaan hurk.  Conrad bal sy vuiste magteloos langs sy sye.  Dit is, benewens al sy wedervaringe as spesiale SOE agent, die moeilikste bevel wat hy nog moes uitvoer.

Pierre wag hom handewringend in.  Die pyp op die tafel lank reeds vergete.  "Het jy haar gesien?"
Conrad knik en sak moeg op die houtstoel langs die kombuistafel neer.  "Hulle het haar geslaan ... en ..."  Hy weet nie wat nog alles nie en byt die res van sy woorde terug. 

Tydens radio kontak daardie nag kom die langverwagte bevel.  Môrenag. Pierre kan nie die omvang hiervan begryp nie. "Waarom? Wat van Geneviéve? Gaan jy haar net so los?"
Conrad se kop sak moeg in sy hande.  "Ek het nie 'n keuse nie Pierre .... Ek het nog nooit 'n keuse gehad nie ..."  Hy kyk stadig op en wat Pierre in die jongman se oë lees sal hom altyd bybly. Die algehele gevoel van magteloosheid, moegheid en verslaenheid.  ‘n Verlies so groot hy kan dit net hanteer deur aktief te bly in dit waarin hy opgelei is, in die wêreld waar hy hom kan onttrek van die realiteit van sy emosies.
Pierre maak sy keel skoon.  "Dit is ses ure se ry na die optelpunt.”
Conrad kyk dankbaar na die tengerige mannetjie. "Ek sal kyk wat ek kan doen voor môreaand."  Hy stap stadig terug na sy blyplek waar hy vir Michelle met al die vaardighede in sy arsenaal, vermy.

Hy maak seker dat niemand hom sien toe hy in die vroeë oggend-ure uitsluip nie.  Dit is nog stikdonker buite en hy gebruik die agterstraatjies tot by die ou klipkasteel, wat deur die Duitsers as kwartier gebruik word.  Aan die agterkant, byna teen die gebou, groei 'n oeroue boom en Conrad klouter behendig op.  Tussen die digte lower voel hy veilig en bespied die omgewing deur sy verkyker.  Hy het geen plan nie.  Hy hoop dat een sal ontwikkel sodra hy oor meer inligting beskik.
'n Lig in ‘n vertrek, op die tweede verdieping word aangeskakel.  Conrad kyk vanuit sy  skuilplek reg in die vertrek.  'n Vrou word binne gesleep deur twee troepe en ru na 'n stoel gestamp.  'n Offisier praat met haar, maar dit is te ver vir Conrad om te hoor wat  gesê word.  Hy slaak ‘n dankbare sug toe hy nie die slagoffer herken nie.
Die soldaat se hand skiet uit en die vrou se kop ruk agteroor. Sy is maer en haar bloese het geen knope aan nie.  Conrad pers op sy tande toe hy sien dat sy ook nie meer onderklere onder die ontblotende bloes aan het nie.  Dit lyk asof sy om genade smeek, maar die drie mans lag.
Conrad maak sy oë toe en kyk weg.  Hy wil nie weet wat daarbinne gebeur nie.      "Liewe Vader! Is dit Geneviéve se voorland?", prewel hy saggies en sien haar weer ineengekrimp in die koue sel.

Dit is vroegmiddag toe hy uiteindelik onverrigter sake terugkeer na sy blyplek.  Hy kon geen spoor van Geneviéve vind nie! Waarheen het hulle haar geneem?
Daar is niemand by die huis nie.  Hy kyk stadig rond in sy kamer en neem niks saam nie ...

Die ou Ford Merger trok laat een groot rookbol agter  sover hulle ry. "Gaan hierdie ding dit maak?"
Pierre glimlag wrang.  "Hierdie trok het dit al meer as een keer na verder destinasies gemaak."
Die atmosfeer in die trok is gespanne en morbied. Conrad weet die ou man neem hom kwalik.  Hy neem homself kwalik en dink oor en oor dat daar iets moet wees wat hy kan doen, maar elke keer kom hy tot dieselfde gevolgtrekking.  Niks.  Sy het net spoorloos verdwyn.
Hulle nader die verlate vliegveld vanuit die suide en wag totdat dit tien minute voor een in die oggend is voordat hulle 'n vuur aan die begin en eindpunt van die vliegveld aansteek.  In stilte kyk hulle hoe die DC 3 Douglas land.
Die vure word geblus, nog voordat die vlieënier uitklim.
"Conrad! My goeie vriend!" Edward steek sy hand na Conrad uit en omvou hom in 'n vinnige omhelsing toe dié ook sy hand uitsteek.
"Edward!"
Pierre staan stil eenkant, sy gesig uitdrukkingloos.  Conrad draai om.  "Edward, ontmoet Pierre.  Hy gaan jou regterhand wees." Pierre kom nader, hand uitgesteek.
Edward omvou die klein oumenshandjie in sy grote.  "Aangename kennis Pierre."
"Het jy ammunisie gebring?" Pierre se oë soek-soek na die vliegtuig.
"Ja, ons sal moet begin aflaai." Hy kyk bekommerd na die donker lugruim. 
In stilte word die kratte oorgelaai na die Ford. Edward oorhandig die vliegbril, serp en leerbaadjie aan Conrad. "Alle voorspoed my maat."
Conrad glimlag wrang.  "Dieselfde vir jou. Jou eerste en belangrikste taak is om vir Mamselle la Rouchefoult uit die Duitsers se kloue te bevry ..." Edward rek sy oë vraend en Conrad verduidelik vinnig, bewus van die reëls waaronder hy dien. "Sy is Pierre se regterhand en die radio-operateur. Belowe my?"  Edward ken Conrad al jare en sien meer as wat hy te kenne gee. 
"Ek gee jou my woord."  Hulle skud hand en Conrad wend hom na Pierre.  
"Jy kan vir Edward met jou lewe vertrou."  Hy vroetel in sy sak en oorhandig 'n foto aan Pierre.  "Gee dit vir haar ... en sê vir haar ek sal terugkom ..."  Sy emosies laat hom in die steek en hy bestyg die vliegtuig sonder 'n verdere woord.

Die Duitser
“Aan die hef van die pyl was een van die arend se eie vere.  Ons gee dikwels ons vyande die middele tot ons eie vernietiging.”
Aesopus

Geneviéve is vreesbevange.  Selfs die wêreld waarin sy haarself versteek het sedert haar eerste ondervraging, kan nie die gille wat sy al heel oggend van êrens bo haar hoor, uitskakel nie.  Sy is geweldadig behandel deur die Gestapo troepe tydens haar eerste ondervraging, maar dit blyk nou niks te wees in vergelyking met wat op haar wag nie.  Sy kruip dieper in die hoek toe sy voetstappe in die gang hoor aankom.  Sy weet nie hoeveel meer sy kan verduur nie!  Hulle het nog nie jou naels begin uittrek nie...   Sy ril liggies.  Die voetstappe kom tot 'n stilstand.
Sy kyk stadig op.  Dit is dieselfde troep wat haar die vorige keer kom haal het.
"Ah, ons kan nog regop sit, kan ons...?"  Hy sluit die traliehek oop en pluk haar regop voordat hy haar hardhandig na buite stamp.  Sy struikel, hy lag.
"Kom! Ons kan nie die Majoor laat wag nie!"  Hy sleepdra haar die eindelose gang, op met die trappe, na die klein kamertjie met die groot boom voor die venster...

‘n Naakte gloeilamp hang aan ‘n koord uit die dak, die skerm lankal stukkend. Sy skreef haar  oë.
Die troep druk haar plat in 'n stoel.  "Die Majoor sal nou hier wees."
Daar is bloedspatsels op die vloer voor haar voete ...  Haar arms is lam.  ‘n Yskoue vinger van vrees liefkoos haar ruggraat, tot by haar stuitjie en sy skuif ongemaklik rond in die stoel. Sy dwing haar lam, stywe vingers om haar bloese toe te trek, waar die knope afgeskeur is. Sy staar  gefassineerd na haar kaal, vuil voete en wonder terloops wat van haar skoene geword het. 
Die deur gaan oop en sy laat sak haar oë vinnig toe die groot blonde man se oë waarderend oor haar beweeg.
"Kyk na my." Sy stem is sag.
Geneviéve staar vasberade na haar voete.
"Kyk na my ..."  Sy ruk terug toe hy sy groot hand onder haar ken sit en haar kop opdwing.  "Jy is pragtig ..."
Sy ruk haar kop los en staar met tierende groen oë op in sy bloues ... oë wat haar herinner aan Conrad se oë.

Die blonde Duitser  byt vies op sy tande, stap deur toe en pluk dit oop.  "Troep! 'n Voertuig!" Hy klap die deur toe en wend hom na haar.  "Jy kom saam met my."
Sy staan stadig op toe hy haar regop help, haar oë vasgenael op sy bloues. En toe voel sy hoe die wêreld om haar tuimel.  Sy het gedink sy is sterkter as dit, maar waaragtig! 
Die Duitser vou sy sterk arms om haar lyf toe sy haar bewussyn verloor en staar gefassineerd na die lang wimpers wat beskermend oor die angs in haar oë sak.

By die ou herehuis, wat deur die SS opgekommandeer is en deur die offisiere as woonplek gebruik word,  dra hy haar na tweede verdieping en lê haar versigtig op die bed neer voordat hy na die aangrensende badkamer stap en die krane van die bad oopdraai.
Geneviéve kreun liggies en maak haar oë stadig oop.  Haar spiere is seer en styf en sy het ‘n kloppende hoofpyn. Waar is sy!? Sy draai haar kop stadig, bang vir wat sy mag sien.  Dit is ‘n luukse slaapkamer.  Sy lê op ‘n groot outydse ledekant in die middel van die kamer met sy donker hout meubels en duursame room en kobalt blou sagte meublement.  Sy beur orent.
"Ek het vir jou 'n bad voorberei ... Kan jy uittrek?" Hy staan in die deur, wat sy vermoed na die badkamer lei.  Sy blonde hare is kort geskeer en hy het sy baadjie uitgetrek.  Sy skarrel pynlik orent, toe hy ‘n tree in haar rigting gee.
Geklee in slegs sy uniform se broek en ‘n hemp is daar geen twyfel aan die krag wat in daardie gespierde, groot liggaam skuil nie. Sy probeer die knop van vrees in haar keel wegsluk, maar dit word eenvoudig vervang met daardie yskoue vinger van vrees wat stadig teen haar ruggraat afgly.
"Jy is vuil, Mamselle ... Gaan jy uittrek of moet ek ..."
            Jy het nie ‘n keuse nie, Geneviéve.  Sy stap moeisaam na die badkamer en laat haar klere argeloos op die vloer val.  Sy struikel effens toe sy in die bad klim en hy is langs haar,  sy groot warm hande om haar middel.  Sy kyk verskrik op, maar laat hom toe om haar te help om stadig in die warm water af te sak.  Die snye op haar voorarms en bene brand soos vuur toe die warm water daarmee in aanraking kom. Trane pers onwillekeurig uit haar oë.
Toe sy opkyk nadat sy stadig in die water afgesak het,  is die Nazi Majoor nie meer in die badkamer nie.
Sy lê verward terug in die water.  Waarom is sy hier?  Wat wil hy van haar hê?  ‘n Lamheid neem van haar hele liggaam besit en sy maak haar oë toe.  Vieslike blou merke ontsier haar porseleinvel op haar bo arms, heupe, maag en bo bene. Sy glimlag wrang.  Daarvoor kan sy die vriendelike troep bedank!  En wat lê nou vir haar voor? 
Sy maak haar oë oop toe sy stem van die deur opklink.  "Trek hierdie aan wanneer jy klaar is."  Hy hou ‘n snoesige wit kamerjas na haar uit.
Sy klim  uit, draai 'n handdoek om haar nat hare en trek die wit kamerjas versigtig aan.  Sy stap teësinnig na die aangrensende slaapkamer.
Hy sit op die bed, 'n klein noodhulptassie langs hom en beduie vir haar om nader te kom.   Sy gaan sit ‘n entjie van hom af op die bed, elke seer spier in haar ligaam gespanne. Hy maak die tassie oop en berei watte voor met iets wat soos ontsmetmiddel lyk.  “Hou jou arms vir my.”
"Hoekom doen jy dit?"  Haar stem is skor.
"Sit stil sodat ek hierdie sny kan ontsmet." Sy byt op haar tande toe die ontsmetmiddel met haar vel in aanraking kom. Dit brand soos die seer in hart oor Conrad.
Haar oë volg elke beweging wat hy maak in stilte totdat hy eventueel die kassie netjies terugpak en op die tafel langs die bed neersit.  
“Ek is jammer hulle het jou so verniel.”  Haar oë vlieg verbaas na syne, wat sag en opreg op haar rus.
“Wat wil jy van my hê? Waarom is ek hier?”
Hy gaan staan voor haar en trek haar stadig aan haar hande regop. 
“Sal jy my glo as ek vir jou sê dat ek jou op die ingewing van die oomblik hierheen gebring het?”  Sy gesig is ernstig. Sy blou oë beweeg stadig oor haar gesig.
Sy knik nadat sy die waarheid in sy oë gelees het.  “En nou?”
Hy draai weg van haar, gaan staan voor die venster.  “Jy is veilig hier.  Dit is die offisiere se hoofkwartier in Arromanches, maar ek skuif binnekort na St. Mere Eglise.  Andersyds kan ek my optrede regverdig deur aan te voer dat ek ‘n sleutellid van die weerstandsbeweging effektiewelik uit die gemeenskap verwyder het ...”
Sy laat sak haar oë.  Snaaks hoe verligting deur ‘n mens se liggaam kan spoel soos lafende koue water in ‘n situasie wat dit nie regtig regverdig nie.  Wat soos redding lyk, gaan nie gratis wees nie, daaraan het sy geen twyfel nie.  En sy staal haarself – want het sy nie nou al geleer om die beste van elke vieslike situasie waarin sy beland te maak nie?  “Hoe weet julle ek is ... was, ‘n sleutelpersoon?”
Hy draai na haar. ‘n Frons tussen sy oë, wat, dink sy terloops, geen afbreek aan sy aantreklikheid maak nie.  “Daar is altyd iemand wat gretig is om inligting te deel in ‘n gemeenskap soos hierdie.” Hy stap na die kamerdeur.  “Ek het op die bedtafel vir jou medikasie gelaat.  Dit sal jou laat ontspan en die pyn verlig.” 
Sy staar verdwaas na die toe kamerdeur, waaragter hy verdwyn en sak op die sagte bed neer.
Toe sy ure later wakker word is die kamer donker.  Sy is bewus daarvan dat die Duitser langs haar in die bed lê en sy draai stadig haar kop.  Hy lê op sy sy, sy kop gestut in sy hand.  Wawyd wakker.
“Hoe voel jy?”  Sy stem is sag en warm, soos die duursame beddegoed wat snoesig om haar naakte liggaam vou.
“Die medikasie het gehelp.  Dankie.”
Hy glimlag, sy kan dit aan sy stem hoor.  “Ek is bly.  Dit is amper tyd dat jy weer neem.”  En dan is sy warm lippe op hare.
            Vergoeding.
            Haar siniese gedagtes verdamp toe hy haar sag teen hom aantrek en vashou.  “Ek is jammer.  Vir die hele gemors.”
            Sy trek weg van hom.  “Dankie dat jy my uit daai vervloekte sel en van ‘n gewisse dood, of veel erger gered het...” En nou is ek ‘n Nazi se hoer.
            Maar sy liefkosings is sag en weldeurdag.  En veel later het sy die pynmedikasie blameer vir haar maklike oorgawe.  Want dit was so maklik om haarself oor te gee aan die hitte van sy liggaam, sy soene en sy bed.  Vaarwel Conrad.  Die verraaier se gewetenlose gekonkel het my aan die Duitser gegee.
            
Dieter Löbe, die Duitser, is goed vir haar.  Sy mag gedurende die dag nie eintlik die huis verlaat nie, maar mag in die roos- en kruietuin agter die huis wandel.  Hy het haar van 'n paar aandrokke, grimering en ander benodigdhede voorsien en sy het gewoond geraak aan hom en die omstandighede waaronder sy hier woon.  En dat sy veilig is.  
Veilig.  Sy verlustig haar in die weelde van die woord en die wete. 
En sy hou van Dieter Löbe. Niks meer en niks minder nie.  Hulle kom goed oor die weg en verstaan mekaar. Simbiose, noem die wetenskaplikes dit.  Die een het die ander nodig om voort te bestaan.  
Hy het haar toegelaat, waarskynlik teen all reëls, om vir  Pierre 'n boodskap te stuur.  Met sy skuif na St Mère Eglise, neem hy haar saam. 
Hulle het gaan piekniek hou en vir lang ente gaan stap.  Hulle het oor alles gesels, alles behalwe hul persoonlike lewens.  Die realiteit buite die realiteit van die oorlog.  Want die oorlog is ‘n soort fanatsiewêreld wat tydelik bestaan.  Wat dit voorgegaan het en wat dit sal volg is nie in die nou ter sake nie.  Die Duitser het iemand nodig om hom te pantser teen die realiteit van die oorlog.  Sy het hom nodig om die oorlog te oorleef. 
Die plaaslike gemeenskap, aan die anderkant,  is nie só vergewingsgesind nie en maak geen geheim daarvan dat hulle haar verafsku nie.  ‘n Vrou van losse sedes wat haar eie selfrespek verkoop vir die ongekende luukshede van ‘n Duitse Offisier se houvrou.
Geneviéve draai die ander wang.  Haar posisie as die Duiser se hoer, bied aan haar ‘n besonderse geleentheid om die Geallieerde saak te help.  En Conrad se opvolger, Edward, was vinnig om die gunstige situasie te kapitaliseer. Al wat van haar vereis word is om haar oë en ore oop te hou en alle tersaaklike, of spesifiek aangevraagde inligting deur te gee aan wie ook al as kontak vir haar gestuur word. Die kok, die tuinier, ‘n jongseun wat loswerkies in en om die huis doen.  Met een goue reël – niks op skrif nie.  Geen bewyse nie.  En deur haarself gewild te maak onder die offisiere, en Dieter gelukkig te hou, is dit uiteindelik ‘n maklike taak.

Al hierdie gedagtes maal deur haar kop.  Sy kan aanvoel dat iets aan die gebeur is.  Dieter en die ander offisiere is meer gereeld besig in vergaderings en soms is Dieter baie stil en peinsend.  En die tipe inligting wat sy skielik versoek word om in te win bevestig hierdie vae vermoede.  
Sy vou haar arms beskermend om haar liggaam teen die koue windjie wat opsteek vanuit die see, hier waar sy en Dieter in die tuin van die huis sit. Dit raak elke dag vir haar duidelik dat Duitsland besig is om die oorlog te verloor.  Sy staar na die klein figuurtjies op die strand wat besig is om hindernisse oral langs die kus op te rig.  Eergister het die Duitsers ‘n lyk uit die see gepik met ‘n aktetas vol belangrike dokumente, vasgeketting aan die liggaam se gewrig.  Die offisiere was gaande oor die grusame fonds. Vir Geneviéve, wat as buitestaander die voorreg van objektiwiteit geniet, was dit duidelik dat so fonds op hierdie tydstip net té fortuïnisties is.  
Dieter sit en koerant lees en kyk  glimlaggend op toe sy omkyk.  Haar oë rek verskrik toe sy die seun oor die terras, reguit na haar aangestap sien kom.  Wat besiel hom!
            Dieter kyk ook stadig op om te sien wat haar so verskrik laat lyk en staan op toe hy die seun sien.
Die kind swenk weg van Dieter en stap tot reg voor Genevive.  "Jy is 'n hoer!"
Geneviéve hoef nie toneel te speel nie, sy is uit die veld geslaan en uiter 'n verskrikte snik toe hy haar hand gryp en dit spottend soen.  Sy probeer  terugruk en voel hoedat hy iets in haar handpalm vasdruk.  Sy bring haar hand stadig op om te sien wat dit is maar die jongman se vuis sluit stewig om haar hand.  Hy draai om en storm by die trappe af.
            Dieter skud sy kop.  "Ek sal julle Franse ook nooit verstaan nie!  Is dit nie die seun wat die aflewerings vanaf die mark elke dag hierheen bring vir die kok nie?"  Hy bied haar sy arm aan.  
Genevive knik en vou haar hand stywer om die stukkie papier in haar palm.  Sy merk nie Dieter se besorgde kyk nie.

In die voorportaal verskoon sy haarself en haas haar na hul suite.  Sy sak op die toilet, agter die geslote badkamerdeur neer voordat sy met hande wat bewe die flentertjie papier oopvou.
Edward vereis spesifieke inligting, puntgewys.  Sy skeur die papiertjie in flenters en spoel dit weg nadat sy die lysie gememoriseer het.  En sy weet dat die Geallieerdes hierdie inligting vir 'n spesifieke doel benodig want die risiko wat Edward geneem het is groot.

Bevryding
“Wat kan ons doen as om stil te wees, bitter te swyg en wag, stom, op die wraak van ons broers wat moet kom?”
N.P Van Wyk Louw, “Die Halwe Kring”
1937

Op 6 Junie 1944, maande later, bevry die Amerikaanse magte die klein Franse kusdorpie, Ste Mere Eglise.  D-dag se eerste sukses! Geneviéve kyk met gemengde gevoelens na die gewonde soldate wat in rye verby haar stroom. 
Die Amerikaanse soldate wat agtergelaat word om kommunikasielyne te herstel en die dorp te beset word op die hande gedra deur die plaaslike bevolking.

Dit blyk dat hul bevelvoerder gewapen gekom het met volledige kennis van Geneviéve se rol as spioen en hoewel baie van die dorpsmense haar steeds op ‘n afstand hou, het sy minstens enkele grade in aansien gestyg.  Steeds ‘n hoer, maar ten minste ‘n patriotiese een...
Sy is haastig om terug te keer na Arromanches en Pierre, maar  hulle wil haar nie toelaat om te reis, voordat die hele area nie beveilg is nie en al die troepe nie geland het nie.  Daar is, is sy meegedeel, vyf strande wat beveilig moet word, vanwaar die geallieerde troepe na die binneland moet ontplooi. Dit beloof ‘n bloedige geveg te wees wat voorlê.
‘n Groot getal van die Duitse troepe het teruggeval na die binneland toe dit duidelik word dat die Geallieerde troepe die oorhand kry in St. Mere Eglise.  Een van die offisiere wat sy pos tot op die laaste beman het, is Dieter, met die gevolg dat hy haar nou as krygsgevangene van langs ‘n Willy’s Jeep moet groet.
"Jy is waarskynlik een van die mense wat meegewerk het om ons val te bewerkstellig, maar ek was nie vir een oomblik spyt dat ek jou by my gehad het die laaste jaar nie. En ek sal ook nooit wees nie."
Sy sluk aan die knop in haar keel. “En ek sal jou ewig dankbaar bly dat jy my van gewisse dood, of veel erger ... gered het, Dieter.  Dankie.”
Met 'n melancholiese glimlag om sy lippe haal hy ‘n eenvoudige goue troupand uit sy sak en steek dit stadig aan sy ringvinger.  “So het ons almal maar ons geheime.”
Geneviéve se oë rek geskok.  “Dieter...!”  Hoe kon hy dit aan sy vrou doen ?
Dieter glimlag hartseer toe hy die skok op haar gelaat vertolk. " Sy sal, natuurlik, nooit weet nie. Dit is nou deel van die verlede .... 'n Verlede wat die toekoms, vir my, onherroeplik verander het."  Hy sit sy hand sag op haar wang. “Jy sien Geneviéve, toe ek jou daardie dag na my kamer geneem het, het ek dit sonder enige voorbedagte rade of beplanning gedoen.  Ek kon net nie toelaat dat jy nog ‘n slagoffer van die Gestapo rampokkers word nie.  Maar ek het nooit ooit voorsien dat ek ... dat ek my hart op jou gaan verloor nie. Ek is lief vir jou Geneviéve, en ek sal altyd wees.” 
            Trane loop nou skaamteloos oor haar wange.  Sy leun oor en soen hom sag op sy mond. "Vir ons is die oorlog nou amper verby.  Wees goed vir jou vrou ... soos jy vir my was ... Ek wens ... ek wens ek kon vir jou sê dat ek jou ook liefgekry het, soos wat jy my liefhet, maar ek kan nie, Dieter.  ‘n Donkerkop man het met my hart saamgeneem toe hy Frankryk verlaat het. Hy was ‘n SOE agent wat vir  ses maande in Arromanches gestasioneer was."  Dit is die eerste keer dat hulle enige persoonlke inligting uit hul verlede met mekaar deel.

Die Duitser klim in die wagtende voertuig.  Hy lig sy hand stadig en salueer informeel toe die Willy’s Jeep begin beweeg. Die lawaai en stof omvou hom en sy bewaarders.
Sy weet nie hoe lank sy daar gestaan het nie.  Nat traanspore op haar wange.  Uit 'n nabygeleë huis kom die vrolike klanke van musiek en gelag. Glasies wat klink.
Sy draai verwese om en stap na die huis wat sy met Dieter gedeel het. 'n Franse meisie verdwyn laggend in een van die kamers saam met 'n Amerikaanse soldaat. 
Is sy beter as ek? Ten minste slaap sy nie saam met die vyand nie .  Die Amerikaanse soldaat is maar net nog 'n man ... Sy klap die deur van die kamer toe. 'n Slet is 'n slet. 'n Man bly 'n man ... Duitser of Amerikaans ... of Suid Afrikaans ... Sy huil haarself aan die slaap.

‘n Maand later stap sy  haar huisie met gemengde gevoelens binne wat deur Pierre in stand gehou is in haar afwesigheid. Hy oorhandig die foto wat Conrad vir haar gelaat het sonder ommehaal van woorde.
En die lewe keer stadig terug na normaal. Haar gedagtes wentel om maniere om Conrad te kontak, hom op te spoor. Die man wat sy korter geken het as vir Dieter en op wie sy haar hart verloor het.  Onherroeplik, soos die verlede. Sy bêre sy foto versigtig in haar Bybel.
'n Week later bevestig die plaaslike geneesheer haar vermoede.  Sy is swanger. 

So het haar en Dieter se verlede saam  ook haar toekoms onherroeplik verander...  En sy neem Conrad se foto en plaas dit in ‘n kartondosie met ‘n rooi lint wat daardie deel van haar verlede wegsluit.
            Op die dag wat Die Baba gebore word reën dit sag en aanhoudend buite. Die baba het Dieter se oë, Dieter se blonde hare en Dieter se mond.  Sy noem die seuntjie Conrad ...


Weersiens

“’n Ding soos oorlog kom in ‘n mens soos ‘n siekte. Waar so baie sterf, begin elkeen ‘n bietjie sterf; elkeen raak vereensaam soos ‘n sterwende loslaat alles wat buite is, in homself keer.”
N.P. Van Wyk Louw
“Die Pluimsaad waai ver.”(1964)

Geneviéve se erfgrond is verwaarloos teen die tyd dat sy dit weer in ontvangs neem.  Die huis is in redelike toestand, maar alles verg werk om dit weer in hul eertydse glorie te herstel.  Maar sy is gelukkig.  Sy het ‘n pragtige gesonde seuntjie om na om te sien, om lief te hê ... Iets wat sy weet hare is en vir altyd hare sal wees. 
            Elke minuut wat sy nie aan haar seun spandeer nie, spandeer sy aan die opbou en uitbou van haar wynplaas.  Conrad se erfgrond.
            Teen die tyd dat hy ses jaar oud is, is L’Avenir se wyne bekend in Parys, London en New York.  Die twee mans uit haar verlede is haar konstante metgeselle.  Sy sien elke dag vir Dieter in sy seun.  En elke keer wanneer sy of iemand anders   hom aanspreek krimp haar hart ineen by die aanhoor van Conrad se naam.  Haar groot, verlore liefde.
            Die twee mans uit haar verlede, wat haar toekoms onherroeplik verander het. Sy is ingekeer in haarself, meng met min mense. 
Sy plaas die verbleikte foto van Conrad terug in die kartondosie voordat sy sugtend opstaan en haar handtas toeknip. Sy en Conrad gaan na Parys vir hul eerste vakansie.  Besigheid is die eintlike doel van die besoek, maar Pierre het haar oorreed om ‘n vakansie daarvan te maak en vir Conrad saam te neem.
Sy het  'n suite in die elegante Hotel de Paris bespreek en Conrad is behoorlik uit sy vel van opgewondenheid.  Hy is ‘n spontane vriendelike kind wat maklik met vreemdelinge geselsies aanknoop en 'n spieëlbeeld van sy aantreklike Duitsa pa.  As hy slaap en sy kyk na hom dink sy soms aan Dieter en wonder ... wat as...?  

Op die voorlaaste dag van hul terugkeer na Arromanches ontmoet Conrad ‘n dogtertjie van ongeveer sy eie ouderdom by die swembad.  Geneviéve hou hulle glimlaggend dop, vanonder haar koeltehoekie, ‘n koerant voor haar.  Die meisie se moeder lê ‘n entjie van Geneviéve onder ‘n sambreel en sy wink vir Conrad en haar dogter nader, nadat sy aan die kelner iets gesê het.  Geneviéve stap nader toe die kelner ‘n groot pienk melkskommel voor elke kind neersit. 
"Bonjour madame.  Ek bied verskoning aan.  Dit is die eerste keer wat my seun homself in Parys bevind en  ..."
Die ou vrees kom lê vlak in haar keel toe die mooi vrou Frans met ‘n swaar Duitse aksent praat.  Geneviéve ruk haarself vinnig reg. Sy het seker gemaak dat Conrad Duitse klasse neem en hy praat die taal goed en sy self skakel ook oor na Duits toe sy agterkom die vrou sukkel om haar te verstaan.
"O nee!  Hy maak glad nie  ‘n oorlas nie.  Ek en my dogter geniet die jongman se geselskap!  Ons reis baie saam met my man op besigheid en Mathilde raak maar eensaam so in die hotelle! Ons is maar te dankbaar vir sy sjarmante geselskap!”  Die Duitse vrou glimlag stralend op in Geneviéve se verbaasde gesig.  Sy het nog nooit in haar lewe so perfekte popmooi vrou gesien nie.
Geneviéve kan nie help om terug te glimlag nie. "Laat my ten minste toe om vir die drinkgoed te betaal." Sy vroetel in haar jurk se sak en bring ‘n paar note te voorskyn.
Mathilde se ma glimlag stralend. “Op een voorwaarde! Dat u en u seun ons gaste is vanaand. Conrad het ons vertel dat dit jul laaste aand in die hotel is!” 
"Ja, ek moes ook vir besigheid kom, maar nou is dit tyd om terug te keer. Ek het 'n wynplaas om te bestuur en hy moet teruggaan skool toe." Sy huiwer.  Aandete saam met mense wat sy skaars ken, en Duitsers ...
Conrad se hand kruip saggies in hare, en toe sy afkyk in haar kind se oë ruk haar hart.  
 Si’l de plait, Maman?”
Mathilde se moeder glimlag verlig.  “Dan sien ons julle so agt uur?”

Geneviéve glimlag gedwee toe sy sien hoeveel moeite Conrad met sy voorkoms doen vir aandete en op die ingewing van die oomblik haal sy die splinternuwe swart satyn rok wat sy eergister gekoop het uit die hangkas.  Die duursame materiaal vou vleiend om haar slanke figuur en sy draai haar hare in ‘n elegante rol agter haar kop. 
In die hotel se eetkamer steek sy huiwerig vas in die deur.  Conrad sien egter vir  Mathildede raak en trek haar opgewonde in die rigting van hulle tafel.  “Daar is hulle Maman!”
Mathilde se vader, wat met sy rug na hulle gekeer sit, staan stadig op toe hy Conrad se stem hoor.  Hy draai met ‘n glimlag om sy lippe om en Geneviéve versteen in haar spore.  Haar vingers om Conrad se hand vlieg oop.
Hy maak sy mond oop maar geen woord kom uit nie. Sy groot, bekende hand omklem die stoel se ruglening, sodat sy kneukels wit deurslaan.  Dit neem al Geneviéve se wilskrag om nie om te draai en te vlug nie.
Die porseleinpop vrou glimlag innemend. “Madame! Welkom. Dit is my man, Dieter Löbe.”  Dieter staar steeds geskok na Geneviéve, sy rug na sy vrou gekeer.  Geneviéve forseer ‘n glimlag om haar mooi mond en knik haar kop effens.  My vrou sal natuurlik nooit weet nie...  
“Goeienaand M’sier Löbe.” Sy steek haar hand na hom uit.  “Geneviéve Le Rouchefoult. En dit is my seun, Conrad.”
Hy vou haar hand toe in sy grote.  Sy stem is grof en sy kan sien dat dit vir hom net so groot inspanning verg om normaal op te tree as vir haar. “Aangenaam.  Dit is my vrou, Greta.  Sy het my meegedeel dat sy en u nooit julself vanmiddag by die swembad aan mekaar voorgestel het nie, met die kinders wat so gebabbel en gespeel het nie.”
            Greta beduie vir haar om te kom sit.  “Dit was onvergeeflik van my, natuurlik. Maar ek was so verlig dat Mathilde en Conrad mekaar se geselskap so geniet het, dat ek bevrees is ek my maniere skoon vergeet het!”
Geneviéve glimlag en sak bewerig neer in die stoel wat Dieter vir haar uittrek.  Sy mompel haar dank en hou haar oë neergeslaan want in sy oë kan sy die onuitgesproke vraag lees wanneer hy na Conrad kyk.
            Die twee kinders babbel aanmekaar en Geneviéve benut die geleentheid  om onderlangs die Duitse vrou van haar voormalige minnaar te bestudeer.  Sy is pragtig, elegant en spontaan.
            Sy kyk vinnig in Dieter se rigting toe hy sy mes en vurk met militêre presisie langs mekaar op sy bord neersit. Hoeveel keer het ek hom dit al sien doen?! En vir die eerste keer die aand tuimel die verlede soos los berggruis om haar neer.
Hul oë ontmoet oor die tafel.  "U eggenoot, Madame?"  Maar wat hy eintlik wil vra is, is dit my seun?
Sy maak haar keel effens skoon, maar voordat sy kan antwoord klink Conrad se helder stemmetjie op.  "Hy was 'n held, oom Dieter. Hy was ‘n soldaat in die oorlog."
Geneviéve kyk pleitend na die groot aantreklike Duitser.  Dood, soos die verlede.  Los dit!
Greta se hand vlieg na haar keel. "Ek is so jammer !"
Geneviéve glimlag weemoedig.  "Dit was lank terug ..."  Sy kyk stip na Dieter. "Ten minste het hy my 'n seun gegee om hom te onthou. En nou moet ek en hy gaan, ons vertrek vroeg môre oggend. Baie dankie vir u gasvryheid en die heerlike maaltyd."  Sy staan op en plaas haar servet langs haar bord.
"Geen nagereg nie?" Dieter klink hoopvol.
"Nee dankie."  Vasberade. 
Conrad volg haar traag na hul suite.

Nadat hy aan die slaap geraak het laat vaar sy alle pretensie, val neer op die groot bed en laat haar hand oor die koue satynlakens vee.  Soos een dag lank gelede maak die trane twee nat spore oor haar wange.  Daardie dag in die stowwerige pad in St. Mere Eglise, het sy haarself beloof dat dit die laaste trane is wat sy sal stort vir ‘n man.  En vanaand het die verlede, wat haar hele toekoms verander het, weer soos ‘n dief in die nag gekom, en nog ‘n keer haar toekoms kom omdolwe.
Dieter het die ou verlange na Conrad wakker gemaak. En soos altyd hamer die vrae in haar brein.  Is hy getroud met eie kinders?  Leef hy nog?  Waarom het hy nooit na haar kom soek nie?  Kon sy so verkeerd wees?  Jou hart wou glo wat jou brein geweet het bestaan nie!  Hy het jou nodig gehad. Hy het self so gesê... En Dieter?  Vir die groot blonde Duitser sal sy altyd ‘n spesiale plekkie in haar hart hê, daar waar niemand kan sien  nie. 
Sy staan sugtend op, vee die trane sommer met die agterkant van haar hand weg en stap na die deur, toe 'n staccato klop daarteen klink. 
"Dieter ..."
"Kan ek inkom?" Pleitend. 
Sy staan teësinnig opsy.
“Jy het gehuil?”  Dit lyk asof hy haar wil toevou in sy arms, maar instede druk hy sy hande in sy broeksakke.  Sy kyk weg.
“Dit was net onverwags ... Ek het gedink ek gaan jou nooit weer sien nie.”
Hy knik.  “Conrad ....” 
"Ja, Dieter. Hy is jou seun ..."
Hy sak swaar in die leunstoel by die deur neer, sy kop tussen sy hande.  Toe hy opkyk is daar trane in sy oë. 
"Is jy nooit getroud nie? "
"Nee."
            "Die man waarvan jy my daardie  laaste dag vertel het, die man wat jou toekoms onherroeplik verander het? "
Sy glimlag hartseer. "Jy het onthou ..."
Hy staan op en stap tot voor haar, sit sy groot hande sag op haar skouers.  “Geneviéve daar het nie ‘n dag verby gegaan dat ek nie aan jou gedink het nie.  Toe ek gesê het jy is deel van my verlede wat my toekoms onherroeplik gaan verander, het ek nie geweet hoe waar my woorde werklik was nie. “
Sy glimlag wrang.  “En Conrad Dupont het toe nie so groot invloed op my toekoms gehad as wat ek gedink het hy gaan hê nie.  Dit was toe jy ... jou seun ...” Sy laat die ongestorte trane van jare onbeheers oor haar wange stroom.
Hy vee dit af met sy duim.  "Mag ek hom sien ...?"
"Hy slaap."
"Ek ... ek sal hom nie steur nie."

Conrad lê uitgestrek op sy rug en slaap, die kombers akuins oor hom getrek.  Dieter kniel langs die bed, sy hand huiwerend bo dié van sy seun.  Hy kyk op na Geneviéve wat onseker in die kamerdeur huiwer.
            “Hy is my ewebeeld...” Met hierdie woorde stap hy stadig verby haar, uit by die hotelkamer se deur.  En weer uit my lewe.
            Sy staar hom oorbluf agterna en druk die deur sag toe.  Moeg vir alleen wees, moeg gehunker na ‘n man wat verdwyn het, en moeg gehunker na samesyn met ‘n man wat sy eie lewe en eie gesin het...

Terug op L'Avenir dwaal sy die eerste week doelloos deur die wingerde en vertrekke van die ou herehuis.  Dan maak sy ‘n doelgerigte besluit om ‘n slot op die kis van die verlede te plaas en dit nooit ooit weer oop te maak nie.  Haar wynbou is ‘n klein, maar suksesvolle besigheid. Conrad moet eerste kom – Dieter en Conrad Dupont is nou amptelik deel van die verlede, ‘n verlede waarin sy nie meer wil leef nie. Sy wil nou in die hede leef en streef na ‘n gelukkige toekoms saam met haar seun. Ja, HAAR seun!  In die verlede het baie gebeure plaasgevind waaroor sy miskien geen beheer gehad het nie, maar nou het sy beheer oor haar lewe en gaan sy seker maak dat dit so bly.
Sy gaan besoek gereeld vir ou Pierre, wat botweg weier om by haar in die herehuis te kom intrek. Sy vrou is jare terug oorlede en hy bly sielalleen in dieselfde huisie waar sy vir Conrad Dupont ontmoet het.  Sy weet nie presies hoe oud hy nou al moet wees nie, want hy was al oud in die oorlog.  Maar hy lyk dieselfde, net sy rug is meer geboë, as wat sy onthou en die oumensvlekke op sy hande meer.
            Pierre gaan sit stadig agter die tafel in die kombuis.  “Ek hou van my huis.”
            “Ek en Conrad het jou nodig.”
"Jy moet  trou. Dis nie goed vir Conrad om so sonder pa groot te word nie."           Sy staar ingedagte  by die venster uit na Michelle se huis oorkant die straat.  "Ek weet .... daar is net niemand nie..."
"Is dit steeds Conrad Dupont?"
Sy draai weg en verwyder die kokende ketel van die gasstoof.  “Ek wil nie meer in die verlede leef nie.”
"Gaan na Michelle my kind. Miskien weet sy hoe om hom te kontak. Sy sê hy het alles net so gelos toe hy weg is ....  Kry antwoorde en bêre dan die verlede.”

Die Verraaier
“Wat die mens is, word hy deur die beweegredes wat hy sy eie gemaak het.”
Karl Jaspers
(1838 tot 1969)

Michelle lyk veel ouer as haar jare.  Sy is besig om wasgoed agter die huis op te hang.  Sy het gewig opgetel. 
Sy luister uitdrukkingloos na Geneviéve en lag dan krakerig.  "Dink jy nie ek sou hom self kontak as ek geweet het hoe nie?"  Sy tel die leë wasgoedmandjie op en stap by die kombuis in.  Nadat sy die mandjie op die skoongeskropte houttafel neergesit het klim sy die trappe na die kamer waar hy geslaap het. Geneviéve is geskok as sy besef dat Michelle alles werklik net so gelos het.
Die gekreukelde hemp, wat sy daardie laaste aand aangehad het, voor die Gestapo haar kom haal het, lê op die voetenent van die bed , net waar hy dit die laaste keer gegooi het.  ‘n Eensame paar skoene staan verlate onder die bedkassie.  En niks persoonliks nie.  Nie ‘n notaboek, bybel of foto nie. Niks.
            Geneviéve steek haar hand stadig na die hemp uit, en die nostalgiese stilte bars aan skerwe.
            “Nee los! Jy raak aan niks nie!”  Michelle pluk Geneviéve aan haar arm weg van die bed.
"Hy het my liefkoos op daardie bed toe ons saam ..."  Sy bly abrup stil. "Toe verdwyn hy net sonder 'n woord.  Sonder om totsiens te sê.  Nes my man.  Ek het gedink as die Gestapo jou in hul kloue gehad het sou hy hom na my wend, van jou vergeet ..."
Geneviéve kyk verbaas na die verwaarloosde vrou met die stukkende siel.  "Jy! Jy het my verraai? En al die sabotasiepogings?"
Die verslete, lewensmoeë vrou trek haar skouers nonchalant op.  "Dit was oorlog. Ek was lief vir hom.  Hy het my nie eens raakgesien nie, behalwe daardie een aand ... Hy het net oë gehad vir jou.  Altyd na jou teruggekeer.  Selfs na die oorlog ... Ek het vir hom gesê jy is dood, sodat hy kon vergeet ... So mooi man. Gesond, aantreklik.  Dis nie reg dat sy oë so hartseer moet wees nie."
Geneviéve kan nie langer luister nie.  Sy hardloop snikkend na buite waar die son vrolik op die geel madeliefies voor die deur skyn maar in haar brein speel die mal vrou se skril stem oor en oor, soos 'n gekrapte plaat: " Ek het hom gesê jy is dood. Ek het gesê jy is dood...."  
Sy soek vertroosting in Pierre se oumenshuisie en maak haar hart oop, ook oor Dieter en Parys.  Hy skud net sy kop.  “Ja my kind.  In ‘n oorlog is daar nooit rerig net reg en verkeerd nie.”  Hy steun swaar op sy kierie en staan kreunend op.  “Jy beter my help om my tas daar bo-op die kas af te kry.  Het jy vir my ‘n kamer reg daar op die plaas?”
Geneviéve spring op en gooi haar arms om sy nek.  “Daar is vyf slaapkamers waaruit jy  kan kies!”
“Hoekom een mens ook so baie vertrekke nodig het ...”
"Dit is Conrad se erfgoed Oom.  Kom help my hier."  Sy sleep die tas deur die voorhuis na Pierre se kamer en begin van sy klere inpak.  Die ou man staar haar peinsend aan vanaf die deur.
"Hoekom gaan soek jy hom nie? "
            "Waar begin ek?  Ek dink in elk geval nie hy is na Engeland na die oorlog nie.  Hy het my vertel van sy plaas in Suid Afrika.  Dit was bestem dat ons nooit saam moet wees nie.  Ons was twee pionne, saamgegooi deur die oorlog. "

Nadat sy seker gemaak het Pierre is tevrede met sy slaapkamer en hy saam met Conrad na die wingerde is gaan sit Geneviéve agter haar lessenaar. Sy sit nog en staar nikssiende na die ou man en seun in die wingerd toe die huishoudster saggies klop.  "Hier is iemand om u te sien, Mamselle."
Geneviéve sug. "Wie is dit?"
"Ek weet nie Mamselle. Hulle wou nie sê nie."

Die Opoffering
“Daar kom ‘n tyd wanneer die leuenaar ook ontdek dat die waarheid sy beste vriend sou wees, maar dan vind hy hy het hom vervreem.”
C.J Langenhoven
“Ons weg deur die wêreld”  (1913)

Geneviéve steek vas in die sitkamer se deur.   Haar hand fladder na haar keel.  Voor die groot venster, met die prentjiemooi uitsig op die wingerde voor die huis, staan Dieter, met sy rug na haar gekeer.  Sy vrou sit op die leunstoel voor die kaggel, haar hande senuagtig in haar skoot saamgeklem.
            “M’sier Löbe ...” Haar stem is sag en huiwerig.  Hy draai stadig om. Sy vrou kyk op.
"Geneviéve.”  Hy stap na sy vrou toe en plaas sy hand op haar skouer.  “Ek het Greta alles vertel. "  Geneviéve sak op die rusbank neer.  Greta staan stadig op.
"Dis verby.  Ek blameer jou nie ... Dit was oorlog en wel ... dit is nou verby en ons almal moet voortgaan met ons lewens."
Geneviéve knik, laat sak haar kop en sluk aan die trane . Dieter kom kniel voor haar.  "Ek moes net my seun weer sien.  Ek is jammer ek is weer terug in jou lewe.”
Sy kyk op.  Sy blou oë rus met soveel emosie op haar.  Oë wat sy vrou nie kan sien nie. 
“Ek en Greta het gewonder of ... of Conrad hierdie Kersfees by ons kan spandeer?"
Geneviéve hou sy oë gevange met hare waarin woede stadig opstoot. Hoe durf hy dit wat hare is nou van haar wil wegneem?  
Maar dan sien sy die liefde in sy oë en  weet dat hy nooit vir Conrad van haar sal wegneem nie.  En sy besef dat dit nie sy is wat die grootste opoffering maak nie.  Dit is Greta, onwetend.  En terwyl sy diep in Dieter se oë kyk weet sy – hy het sy vrou nie alles vertel nie. Greta weet nie van sy liefde vir haar, Geneviéve nie.
Sy staan stadig op en stap om Dieter, weg van sy veelsprekende oë. "Wat sê ek vir hom ...?"
"Die waarheid ... My seun moet weet wie sy pa is. Die res laat jy in my en Greta se hande. Hy is my kind ook Geneviéve, ek sal niks doen om hom te na te kom nie.”
Sy knik.  "Ek weet...”  Sy stap deur toe.  “Gee my asseblief eers geleentheid om met hom te praat.  Ek sal jou laat weet.”
“Is môre te gou?”
Sy skud haar kop.  “Verskoon my.”

"Laat hom gaan kind.  Dit is die regte ding om te doen.  Hy sal terugkom ...."  Pierre staan met beide hande gevou bo-op sy kierie langs Geneviéve, waar sy arms gevou staan en kyk hoe Pierre met sy hond op die gras baljaar.
            “Ek is bang om hom te sê.”
Pierre sit sy hand op haar arm.  “Enige seun wil graag ‘n vader hê.  En hy het reeds vir Dieter ontmoet.  Ek dink jy onderskat jou seun.”

Conrad hou die paadjie wat tussen die wingerde deur kronkel opgewonde dop.  “Hoe laat kom hulle, Maman?”
            Sy kom staan agter hom en sit beide hande op sy skouers.  “Hulle sal nou enige oomblik hier wees.”  Sy vee vinnig die trane wat uit haar ooghoeke pers af en gaan sit op die leunstoel by die kaggel.  Conrad het eers geen reaksie getoon toe sy hom vertel het nie.  Hy het voor hom uitgestaar en haar toe begin peper met vrae.  Sy het elke oomblik van die hele beproewing getwyfel of sy die regte ding doen.  Nadat sy hom van antwoorde en verduidelikings na die beste van haar vermoë voorsien het, het hy sy hond geroep en vir die res van die dag verdwyn.  Toe hy gisteraand aan die etenstafel verskyn was daar traanspore op sy wange en haar hart wou breek.  Vanoggend was hy ‘n ander kind.  Uitgelate.  Opgewonde.  Omdat hy ‘n Pa het.
“Daar kom hulle, Maman!”  Sy kan sien hy vind dit moeilik om stil te staan.  Ma en seun kyk woordeloos hoe die voertuig tot stilstand kom.  Dieter is alleen.
Conrad se hand kruip stadig binne in hare en saam wag hulle dat Dieter by die sitkamer instap.  Hy steek in die deur vas toe hy hulle daar voor hom sien staan.  Die gesin wat syne kon wees ...  Conrad se seunskind-ogies groot met afwagting en Geneviéve se hele wese ‘n prentjie van miserie.
“My Ma sê jy is my Pa.  Sy sê jy was baie goed vir haar in die oorlog, en toe is jy gevang en sy het gedink jy is dood.  Sy het nie vir my gejok oor jou dood nie. Of dat jy ‘n held was nie.”
Geneviéve sien hoe Dieter sluk en sy byt met mening haar trane terug.  Hy knik ernstig, kom nader en steek sy hand na sy seun uit.  “Dit is die waarheid, “ jok hy. Conrad huiwer en dan skud hy die aangebode hand.  Hy trek sy handjie uit dié van die groot man en dan gooi hy sy arms om Dieter se nek. 
“Jy is my Pa! Sjoe ek kan dit amper nie glo nie!”
Geneviéve kan nou nie meer die trane keer nie.  Selfs Dieter se oë swem in trane, daar waar hy kniel, met die seuntjie in sy arms.
Sy sluk, probeer haar stem so normaal as moontlik hou.  “Sy skool sluit oor twee weke.  Dan mag hy maar saam met jou, julle gaan.”
Dieter maak sy oë ‘n oomblik toe en maak homself los uit sy seun se omhelsing. 
"Dankie. Dankie Geneviéve.  Ek wens ek kon jou vergoed vir jou 
goedhartigheid ... ek wens daar was ‘n manier om jou te vergoed vir elke verkeerde daad wat jou aangedoen is in die oorlog."
            Sy druk haar hand voor haar mond en verwens elke vet traandruppel wat vinniger as sy voorganger oor wange rol.
            “Maman! Kan ek vir ... M’Sier Löbe ... vir my Pa, my hond gaan wys?”
            Sy kan net knik.

Geneviéve huil haarself elke aand aan die slaap sedert Dieter 'n week gelede vir Conrad kom oplaai het.  Sê nou hy hou hom in Duitsland? Wat as Conrad self nie wil terugkom nie ...  sê nou! Wat as! 
Die dae sleep verby en sy loop draaie om die Kersboom wat ou Pierre en Tinette, die huishoudster,  in die eetkamer staangemaak het. Dit sal Conrad se eerste Kersfees weg van die huis wees! 

'n Week voor Kersdag lui die telefoon.  Sy raap dit opgewonde op, verwag haar seun se uitbundige stem.  
Maar dit is Dieter. "Conrad mis jou! Waarom kom jy nie vir die Kersvieringe na London nie?"
"Ek dag julle is in Munich ..."
"Nee! Ons het op die ingewing van die oomblik besluit om hierdie jaar Kersfees by Greta se ouers te vier.  Hulle het hierheen getrek na die oorlog.  Sê jy sal kom. " En effens sagter.  "Ek mis jou ook."

Restitusie
“Dink jy ‘n mens sal liefde ook kon restoureer?”
Fanie Olivier
“Skimmelig” (1987)

In London is dit ‘n grou, mistige dag.  Geneviéve vryf haar hande dankbaar toe sy haar snoesige suite in die hotel binnestap.  Sy sit haar handtas op die tafel by die deur neer en vou die nota wat die klerk by ontvangs aan haar oorhandig het, oop.
            
Dear Mamselle 
Mister Löbe asked me to convey his regtrets for not being able to meet you.  He and his family had some last minute  shopping to do.  However, they are looking forward to having dinner with you this evening at eight.
Yours truly
Edward Hometown (manager)

Sy vou die nota teleurgesteld toe. Sy is angstig om haar kind te sien. Geneviéve kyk op haar horlosie en byt haar onderlip nadenkend.  Nog ‘n uur en ‘n half!  Sy stap na die slaapkamer, waar die portier haar tasse op die banke neffens die kas neergesit het en pak haar klere tydsaam uit.   Sy hang die sjampanjekleurige satyn rok teen die kasdeur op en staan terug om dit krities te bekyk.  Sy plaas ‘n paar swart stilletos soos verlore voete, by die rok se soom en drapeer ‘n lang string pêrels om die hanger se draadnek.  Perfek.
            Nog ‘n uur.
            Sy draai die bad se krane oop en sak minute later behaaglik af in die warm water.  Stoom omskep die kliniese vertrek in ‘n fantasiewêreld.  Sy maak haar oë toe en haar gedagtes stap ver.  Eers na Conrad Dupont, altyd eers Conrad, en dan na Dieter en laastens na haar seun, die spil waarom haar lewe wentel.  As daar een belangrike lewensles is wat sy in haar lewe geleer het dan is dit, dat die lewe te kosbaar, en te kort is, vir verwyte en spyt.  Jy moet altyd die beste maak van dit wat jou toegedeel word.  En die manier hoe jy op jou hand kaarte reageer, is ‘n skets vir almal om te sien,  wie jy werklik is.
            Sy klim uit die bad en maak reg vir ete, saam met haar seun en sy nuwe familie.
Stiptelik om agt stap sy die eertkamer binne.  Die hoofkelner stap haar dadelik tegemoet.  “Miss La Rouchefoult?  Please follow me?”
            Die tafel is effens versteek agter ‘n groot varing, in die hoek van die eetkamer.  Daar sit  een man by die tafel.  Sy hoof is gebuig en sy rug na haar. Sy wil omdraai, maar dan kyk die vreemdeling op...  
Hy glimlag vir haar.
Sy voel hoe die aarde onder haar voete beweeg en gryp na die stoel voor haar se ruglening.
Hy staan op.
“Geneviéve...”
            “Conrad!”  Haar uitroep is niks meer as ‘n fluistering nie.  Hy glimlag steeds en hou sy arms na haar uit.
            En sy stap, soos die heel eerste keer, gewillig, sonder enige vrae in sy omhelsing in.  Hy ruik na son en wind.  Sy nestel haar kop teen sy borskas.  “Conrad Dupont...”
            Hy stoot haar ‘n entjie weg.  “Kom sit.  Ek wil alles hoor van jou lewe.”
            Sy neem bewerig plaas op die aangebode stoel.  “Hoe het jy geweet ...? Wat doen jy hier?”
            Hy lag saggies.  “Jy het blykbaar ‘n baie goeie vriend onder die Duitsers gemaak!  Ene Dieter Löbe het my opgespoor deur hoogs uitsonderlike kontakte en weermagrekords.  Ek het amper nie gekom nie!”  Sy gesig versomber.  “Ek het gedink jy is dood.”
            “Sy vee die trane wat oor haar wange stroom ongeduldig af.  “Ek weet.  Michelle het my gesê.”
            Hy skink vir elkeen ‘n glas van die vonkelwyn op die tafel, en lig sy glasie.  “Op die toekoms!”
Sy glimlag en klink haar glas teen syne.  “Sur l'avenir.” Onseker.  “Daar is 
baie wat jy nie weet nie... Conrad, ek het ‘n seun ...”
            Hy lag.  “Jy gaan my alles vertel, maar nie nou nie.”  Hy staan op en hou sy hand na haar uit.  “Kom!”

Tientalle kerse brand gesellig in sy hotelkamer.  ‘n Bos rose hou ‘n bottel vonkelwyn en twee glase geselskap.  
Hy vou haar hand toe in syne en soen dit sag.  "Jy is selfs mooier as wat ek onthou ...."

Epiloog

Vivian kry haar ouma met trane op haar oumenswangetjies.
"Grandmére! Wat is fout? Hoekom huil jy?"  Sy kniel ontsteld langs haar ouma en neem die foto. 
"Wie is dit?"
"Dit is jou oupa my kind ... Hierdie foto is in London geneem met die begin van die oorlog."
Vivien neem die foto by die ou vrou. "Hy was ‘n aantrekliek derduiwel! Wel, jy kan nie die heelaand hier sit en tranerig na ou vergeelde fotos van Oupa staar nie.  Oom Conrad gaan nou hier wees en ma en pa wag al in die sitkamer by die Kersboom."
Geneviéve lag en sien voor haar geestesoog haar klein borrelende seuntjie wat deesdae 'n suksesvolle dokter is. "Nou kom ons gaan wag dan maar saam." Sy staan moeilik op en haar tweede seun se dogter help haar geduldig op.
"Weet ouma, ek gaan ook 'n dokter wees, nes oom Conrad."
"En wie gaan na die wynlandgoed omsien as jou Pa wil aftree?"
"My broer.  Hy en oupa was die heeldag in die kelders besig met daai botteltjies en goed!" Sy trek haar neusie vieserig op.

Geneviéve lag en vou haar vingers beskermend om die verlede in die boksie.  

In die sitkamer val Conrad se oog dadelik op die houertjie toe hy stadig sy vrou tegemoet stap.
"Wat het jy daar?"
Sy glimlag en vir hom lyk sy soos die eerste dag wat hy haar gesoen het.
"Ons verlede my skat."  Sy draai die rooi lint versigtig om die houertjie en saam knoop hulle dit stewig toe.  Op die stoep begin die honde blaf toe Dr Conrad Le Rouchefoult Löbe se motor stilhou.

NOTA


Alle karakters en name in hierdie mini roman is fiktief.
            Die Britse Spesiale Operasie Uitvoerende Gesag (British Special Operations Executive – SOE)  is gestig tydens die Tweede Wêreldoorlog ( in die somer van 1940), kort nadat Duitsland groot dele van Europa beset het.  Die agente moes hoofsaaklik toesien tot die toerus, oplei en bystand verleen aan die plaaslike weerstandsbewegings.  Die SOE agente is gestuur na vyandelike gebiede en in groepe van twee tot dertig ontplooi, om nou saam met die plaaslike inwoners te werk ten einde die Duitse oorlogpoging in so groot mate moontlik te saboteur (veral fabrieke, kommunikasielyne en kraglyne).
            Conrad Dupont sou dus nie alleen ontplooi gewees het in Arromanches nie, maar ten minste saam met ‘n radio operateur.
            In die verhaal is Geneviéve die radio operateur.  So ‘n posisie sou in alle waarskynlikheid gevul gewees het deur ‘n meisie vanuit FANY (First Aid Nursing Yeomanry) wie opgelei was as radio operateur ( soos byvoorbeeld Jacqueline Nearne en Odette Sansom).
            Dit was alombekend dat die Gestapo hul gevangenes gemartel het – soos in die geval van Odette Sansom (sy was die radio operateur vir Peter Churchill. Beide is as SOE agente in Frankryk ontplooi en is hulle deur ‘n lid van die weerstandsbeweging verraai, waarna hul deur die Gestapo ondervra is en in ‘n konsentrasiekamp beland het. Hulle het getrou na die oorlog). Violette Szabo was nie so gelukkig nie. Sy is erg gemartel deur die Gestapo nadat sy gevang is en is op 26 Januarie 1945 tereggestel.  Geneviéve was dus gelukkig om uit die Gestapo se kloue gered te word deur die SS Majoor, Dieter Löbe.  Hulle verhaal is natuurlik blote fiksie.
            Die verwysing na die Geallieerde lyk wat uitgespoel het, kompleet met briewetas vol “belangrike” inligting is gebaseer op ‘n werklike gebeurtenis, georkestreer deur die SOE en OSS (Office of Strategic Services van Amerika.  Die SOE en OSS het sedert 1943 saamgewerk.)  om die Duitsers van vals inligting te voorsien kort voor D-dag (operasie Overlord).
            Streng gesproke sou Conrad Dupont oor sy eie radio beskik het – die SOE agente is byvoorbeeld voorsien van ‘n sogenaamde “biscuit tin” radio (MCR-1). Die radio waarna ek verwys in die verhaal, welke Geneviéve beman het sou ‘n sogenaamde “suitcase radio” (Tipe B MK II of Tipe A MK III) gewees het.  Eersgenoemde het slegs opvangsgebied van 800 kilometer gehad, maar onder goeie omstandighede dubbel soveel.  Die radio beheerkamer sou ook nie onder werklike omstandighede in ou Pierre se beskeie woning gewees het nie, maar eerder in ‘n hut of afgeleë area omring deur groot antennas om te verhoed dat die Duitsers nie die seine met hulle sogenaamde radio direction finding vehicles kon opspoor nie.
            Nietemin – waarheid is soms vreemder as fiksie.  Niks wat hierbo beskryf is so verregaande, dat dit nie werklik net so kon plaasvind nie...
             'n Spesiale woord van dank aan my goeie vriend VvV (ex-soldaat), vir die deurgaan en korrigeer van militêre inligting.  Alle foute is steeds my eie.


Gedurende Augustus 2015 het ek die mini-roman oor tydperk van etlike weke, in dele gepubliseer op my blog.
Die mini-roman was aanvanklik voorberei as bemarkingsinstrument vir 'n ander roman en as sulks op Amazon en op Kindle SA gepubliseer, en as sodanig gratis aangebied. 
Onlangs het ek weer navrae ontvang aangaande die beskikbaarheid van die mini-roman en ek plaas dit derhalwe vandag as 'n totale eenheid op my blog. Geniet die lees daarvan, want dit is wat skryf vir my die moeite werd maak.
  Tydens 2014, toe dit nog maar slegs vir 'n maand of twee beskikbaar was, het my uitgewer die volgende nota aan my gestuur aangaande dié Kindle-boek: "Genevieve is currently our 9th most downloaded book of all time. " (KBA - February 2014)
      Aangesien die titel gratis beskikbaar gestel was en ook nie meer sedert begin 2015 beskikbaar is nie, en ek versoeke ontvang het vir die beskikbaarstel daarvan, het ek dit goed gedink om die novella te publiseer op my blog.

DIE EINDE


No comments:

Post a Comment