Thursday, June 4, 2015

TRAPPE

Found at: perfectthewayyouarerightnow.tumblr.com

Die trappe strek tot bo by die lig.  Rooskleurige lig.  Onderdeur die pers bougainvillia.  Wit trappe.  Dit begin hier onder, by my.  In die skadu’s van die marmerpilare, waar die son nie kom nie.
Ek trek die wit mantel stywer om my skouers. 
Iemand vat aan my hare. 
Iemand trek die mantel se sleep lank agter uit my uit.
‘n Gejuig klink op,  vanuit die lig, aan die bo-punt van die trappe.
Die dwerg hou sy hand na my uit, ‘n mankoliekerige glimlag om sy wrede lippe. 
Hoe hoër ek klim, hoe warmer word dit.  Nog net vyf trappe, dan sal ek kan sien ...
*
Die Italiaanse digter, Dante Aligheri, het eenkeer geskryf dat jy sal uitvind hoe sout ‘n ander man se brood proe en hoe moeilik die weg op en af ‘n ander man se trappe is.
            Ons almal het aan die onderkant van ons stel trappe begin en op gekyk. Wat ons gesien het is ‘n skoon stel trappe en ons sien nie die bokant nie.
            Met tydsverloop sal ons omdraai en elke dag meer trappe agter ons sien. Maar wat gaan ons op die trappe sien? Rommel? Blomme? Vergete pakkies en moddervoete?
            Iemand het eenkeer gesê dat ons almal vry is om enige keuse te maak, maar dat niemand vry is van die gevolge van hul keuses nie.
            En hier waar ek nou aan die onderpunt van my stel trappe staan, besef ek dat my hele lewe ‘n stel trappe is. Ons almal se lewens is ‘n stel trappe wat hoër styg. Sommige het kort stelle trappe, ander langes. Maar een aspek bly onveranderd. Jy gaan sien wat op die trappe agter jou agtergebly het.
            Wat gaan jy sien , daar waar jy op jou stel trappe staan en omkyk? Sal jy gelukkig wees om jouself te vereenselwig met die gevolge van jou keuses en besluite? Wat gaan jy sien as jy nou omdraai en afkyk na al die trappe wat jy reeds geklim het?
            Niemand leef in ‘n vakuum nie en elke beskuit wat jy neem raak ander mense, veral die mense na aan jou. Dit is jou keuse om dwelms te gebruik of nie, te rook of nie, eerlik te wees of nie, hard te werk of nie. So kan die lys aangaan.
            Maar as jy omdraai en terugkyk wil jy tog seker ‘n mate van selftrots ervaar na dit wat op die trappe agter jou agterbly?
            Hoe anders dink jy sou Suid Afrika gewees het indien Madiba, na die verhoor, uit hoofde waarvan hy na Robbeneiland gestuur is, in ‘n bondeltjie op die trap in die middel van sy stel trappe gaan sit het? Keuses ….
            Hierdie lewenstrappe het ‘n groot nadeel. Jy kan nooit omdraai en terugklim nie. Jy kan nie drie trappe afklim om die vergete pakkie te gaan optel nie. Jy kan nooit ‘n nat lap gryp en gou ‘n paar trappe afhardloop en die moddervoete gaan skoonvee nie. Die rommel op die trappe agter jou is daar om te bly. Elke keer wat jy omdraai gaan jy gekonfronteer word deur jou verkeerde besluite en laksheid.
            Wat ‘n hopelose situasie is hierdie lewe dan nie? Hierdie aaklige ou stel trappe wat net op en op gaan, of jy nou wil klim of nie. Jy kan net opgaan en kort kort omkyk na dit wat agter jou lê.
            Maar juis daarom het God sy enigste Seun aan hierdie wêreld geskenk. En al lê die trappe agter jou besaai met modder en rommel, hoef dit jou nie af te trek na ‘n bondeltjie hopeloosheid op ‘n trap nie! Jesus het ons sonde skoongewas met sy bloed.
            So klim jou stel trappe stadig en sekuur. Maak jou keuses versigtig en oordeelkundig.
            Moet nooit ander oordeel van waar jy besig is om jou stel trappe te klim nie. Daar is ‘n Amerikaanse Indiaan spreekwoord wat sê – “Gaan loop eers in ‘n ander man se skoene voordat jy jou uitspreek oor hom.” Insgelyks – in die woorde van Dante Alighieri – die weg op ‘n ander man se trappe is nooit maklik nie.
*
Die klokke van die Notre-Dame de Paris beier oorverdowend deur my slaapbenewelde verstand.  Ek sit verward regop.
            ‘n Koel windjie waai deur die woonstel se venster en ek trek die wit laken stywer om my liggaam, staan op en stap kaalvoet tot by die oop venster.  Die Notre-Dame se statige kloktoring reik hoog in die hemelblou lig.  Die bougainvillia voor die venster se persrooi blomblaartjies kleur die lig hier om my roos.
            Ek sug en stap terug na die bed.
            Ek sal daardie dag, in my droom, nooit vergeet nie. 
            Die trappe van die lewe.  ‘n Glimlag plooi om my mond.  Vandag gaan ek gemaklike stewels aantrek, reg om dié trappe te klim.
www.geekszine.com




 NOTE:  The actual writing prompt was this picture.  It should therefore have been the opening picture of this piece, however, purely because I felt whimsical, and liked the other picture more, added that at the top.

No comments:

Post a Comment