Friday, August 7, 2015

Geneviéve - Die Ontmoeting (Deel 1)

From the outset I apologise to my English readers for this week's post in Afrikaans.  You are very valuable to me and I wish my English were proficient enough to be able to write this (or a similar) piece of work in that language. At the beginning of the piece I include (in English) the sales description which was written for this novella.

Hierdie week deel ek op my blog 'n uittreksel uit my novella Geneviéve. Hierdie mini-roman is gedurende 2013 gefinaliseer op versoek van die uitgewers om te dien as promosie-instrument net na die vrystelling van Señorita Carmena en was 'n tydperk gratis beskikbaar.

Tydens 2014, toe dit nog maar slegs vir 'n maand of twee beskikbaar was, het my uitgewer die volgende nota aan my gestuur aangaande dié Kindle-boek: "Genevieve is currently our 9th most downloaded book of all time. " (KBA - February 2014)

Aangesien die titel gratis beskikbaar gestel was en ook nie meer sedert begin 2015 beskikbaar is nie, en ek versoeke ontvang het vir die beskikbaarstel daarvan, het ek dit goed gedink om van hierdie week af die novella in dele te publiseer op my blog.



Geneviéve
Synopsis
Genevieve is a member of the French Resistance Movement during the Second World War in the French town of Arromanches and later St. Mere Eglise. As radio-operator for the  maquis, and later SOE agent,  she is one of the key persons in the Resistance’s activities leading up to D-day.
The hate and revenge of a traitor propels Genevieve’s life on an unexpected course. But will the love of two men, a German SS officer and a SOE agent in the Allied forces, be enough to bring her life back on course? Or will the revenge and betrayal  of a traitor rob her of love and happiness for the rest of her life?
GENEVIEVE is a story set against the background of the Second World War . Those dear to her and her own life is shaped by  love, hate, revenge, betrayal and the human capacity to forgive.

Deel 1

“Daar sal ‘n einde kom aan oorloë
en sware tye sal verbygaan...
die bose oorlogpoorte sal gesluit word
met ystergrendels stewig vas, en binne-in
sal Waansin, die vervloekte, op wrede wapens sit
en aaklig gil met bloedbevlekte muil
en hande vas agter sy rug geboei
met honderd koperknope.”
Publius Vergilius Maro, 70-19v.C.
Aeneïs
(Vertaling deur N.A. Blanckenberg)

Die Ontmoeting
“Hoeveel keer moet ek sê dat liefde selde doodgaan van honger, maar gereeld van versadiging?”
Ninon de Lenclos (1778)
(Franse courtesan se brief aan die Markies de Sevigne)

Die vrou kyk bewonderend en miskien selfs met 'n tikkie vrees, na die man oorkant haar.  Sy hare is so swart soos steenkool en sy oë dieselfde blou as die hemel van Afrika, die land waar hy vandaan kom, om hier vir die Geallieerdes te kom oorlog maak in haar land.
            Sy leun droomverlore teen die deurkosyn en streel liefderik met haar hand oor haar nek. Sy skrik effens toe hy opkyk en haar in die deur gewaar.
“Ek is jammer, ek ... wou jou nie steur nie.”  Sy draai om.
“Jy hoef nie te gaan nie. Ek kan doen met ‘n bietjie geselskap.”  Hy is moeg gewag vir nuus, vir voorraad, op die bevel om terug te keer na Engeland!
Met haar rug steeds na hom gekeer, antwoord sy. Haar stem sag. “Eerder nie. Goeienag.”  Hierdie keer verlaat sy die vertrek voordat hy iets  kan sê en hy luister na haar haastige voetstappe in die houtgang, hoor hoe dit, soos altyd, huiwer voor die portret van haar eggenoot in die gang en dan weer vinnig voortstap.
Vervlakste vroumens!  Hy skop die deur toe en stap na die venster, wat oor die straat uitkyk.  Sy tree  vreemd op!  Hy trek sy skouers traak-my-nie-agtig op.  Sy het nog nooit vandat hy hier gearriveer het rasioneel opgetree nie!  Hy glimlag wrang toe hy onthou dat Generaal Montgomery by El Alamein gesê het dat daar in ‘n oorlog dikwels plek is vir mal mense.
Iets moet  gebeur, anders sal hy gek word!
Hy skreef sy oë. ‘n Vrou stap stadig oor die straat, na die huis.
Haar lang swart krulle beweeg liggies in die aandwind. Hy herken haar dadelik en sy hart se ritme versnel.  Geneviéve La Rouchefoult.  Haar netjiese postuur is gespanne.  Dit kan hy selfs oor die afstand en in die maanlig raaksien.  Sy vuiste bal.
Hy wag.  Wat is aan die gang?  Waarom kom Geneviéve na die huis? Sy is die maquis in die area se radio operateur.   Hy verwag ‘n  seun met terugvoer oor die sabotasie … Nie hierdie beeldskone Franse meisie met haar weerlose oë nie!
Hy draai in afwagting weg van die venster toe die vrou van vroeër haar  blonde kop om die deur steek.  “Conrad, Geneviéve is hier. Sy sê sy  het belangrike nuus.”
Geneviéve stap stadig die vertrek binne. Die feit dat sy beedskoon is betrap hom elke keer  waar hy oor die afgelope ses maande met haar te doen het, ontkant. Haar gesig vertoon bleek teen die ebbehout swart van haar hare en haar oë lyk te groot in haar gesig.  Hy druk sy hande in sy broeksakke en maak sy keel skoon.
“Goeienaand  …”
            Bonsoir M’sieur Dupont.  Ek is bevrees dat ek die draer van slegte nuus is.”
"Wat het gebeur, Geneviéve? "  Hy skrik vir die skorheid van sy stem en gee 'n tree nader aan die vrou, sy vuiste gebal in sy broeksakke.
            “Die sabotasie van die wapenfabriek was onsuksesvol.  Meer as die helfte van die maquis is dood en die res is ingeneem vir ondervraging. ”  Die woorde rol tonloos van haar tong, haar vingers pynlik inmekaar gevleg.  Die maquis wat vanaand dood is, was vriende, bure, winkeleienaars en bekendes in die klein gemeenskap van Arromanches.  Die hele dorpie se inwonerstal is niks meer as tweehonderd en sewentig nie!  Vir die man voor haar is dit maar net nog oorlog ongevalle. Vir haar is dit mense wat haar ouers voor hul dood geken het, mense wat haar aan haar verlede bind, mense wat vir haar belangrik is ... was.  Soos die erfgrond, wat sy kort na haar ouers se afsterwe verloor het ... Dit is nog ‘n skakel wat haar aan realiteit gebind het, wat weggeval het.  Verlore, om nooit weer herwin te word nie.  Behalwe vir ou Pierre, is sy alleen. So alleen!
Conrad kners op sy kake en draai sy rug op haar.  “Vervlakste verraaiers!” Hy trek sy hand moedeloos deur sy hare en laat sy oë oor die stil straat, in maanlig gebaai, voor die venster veeg.
Sy gee verbaas ‘n treë nader aan hom, haar hand effens gelig, so asof sy hom wil troos.  “Dink jy iemand, ... een van ons...,  is ‘n verraaier?”
Conrad se kristalblou oë is staalhard en genadeloos toe hy omdraai.  “Ek kan jou verseker dat dit nié te wyte is aan die Gestapo of SS in dié omgewing se uitmuntende spioenasiewerk dat van ons operasies oor die laaste vier maande gefnuik is nie!”
            “Jy is reg …” Sy knibbel ingedagte die onderkant van haar lip terwyl sy terugdink.
Conrad beteuel met moeite sy emosies. Al die maande se harde werk, gewaagde kanse en dit vir niks! Verraad is ‘n vieslike ding!
Geneviéve laat sak haar oë beskermend voor sy koue, harde blik.  Haar linkerhand streel ingedagte oor die rugkant van die stoel voor haar.  "Ek moet nou gaan ... Dit is al lank na ligte-uit."
"Ek stap saam."  Hy maak die deur oop, verwens die botheid van sy stem.
Sy vermy sy oë.  "Dis nie nodig nie... Ek ..."  Weer verstrengel die slanke vingers, oë afgewend.
Hy wys vir haar dat sy moet stap en sy houding van ingetoë woede weerhou haar van verdere kapsie. "Waar woon jy?"  Hy trek die buitedeur toe.  Die naglug is koel.
"Nie ver nie ... Dis regtig nie nodig ..."  Sy vou haar arms beskermend voor haar liggaam. Dit is koel, en haar hande voel, met hom so naby haar, oorbodig.
Conrad trek sy hande uit sy broeksakke en strek sy vingers.  Hy gooi sy kop agteroor en blaas stadig maande se ingehoue spanning uit in asem. Wat gaan aan met hom?
Die windjie liefkoos haar weelderige hare en waai dit sag aan teen sy wang. Haar vroulikheid hier langs hom, in die donker, bedwelm sy sinne.  Hy skud sy kop geïrriteerd en weet hy oortree alle reëls, moreel en militêr.
"Dit is nie veilig nie ..." Regverdig hy homself.  Of soek hy net geselskap? Of meer?
            Die klipstraatjie kronkel, onaangeraak deur die oorlog,  dof tussen die huisies deur.
"Halt daar! Dit is na ligte uit! "
Conrad gryp haar elmboog en pluk haar styf teen sy liggaam.  Sy snak effens na haar asem en hy voel hoe die vingers van haar hand na syne soek in die donker en dan krampagtig daarom vou.  Sy hart klop in sy keel, laat dit voel of sy kop met elke slag uitsit en weer krimp.  
Die Duitse troep kom opgeblase nader, sy wapen nonchalant oor sy skouer. 
Conrad trek ‘n diep teug van die laventelgegeurde naglug in sy longe.  Joviaal begroet hy die vyand in Duits. "My goeie vriend! Goeienaand! Vergewe ons asseblief? Jy weet tog hoe dit is ..."  Hy knipoog vir die soldaat en knik sy kop veelseggend in Geneviéve se rigting.  "Ons het alle tred met tyd verloor!"  Sy arm gly om haar rug en trek haar veelseggend nader.  As dit nie was vir haar liggaamshitte wat hom brand deur sy hemp nie, sou hy homself maklik kon oortuig dat sy ‘n lyk is in gevorderde stadium van rigor mortis.
Die soldaat gluur hulle wantrouig aan.  Daar was immers 'n mislukte poging tot sabotasie vroeër die aand.  Elke tweede inwoner is 'n lid van die maquis ...
Hy buig ondersoekend nader, sy gesig etlike sentimeters van Geneviéve s’n.  Sy rem weg van hom, druk haar kop styf teen Conrad se borskas.  "Ja ... sy is 'n pragtige klein dingetjie ... Ek kan seker hierdie een keer oorsien ... Jy behoort van beter te weet! Wat is jou rang?"  Geneviéve sluk rukkerig.  Conrad se spiere bondel vol antisipasie in sy voorarms.  “Let op jou toon, troep! Ek weet jy doen net jou werk.  My rang is vir jou van geen belang.  Ek wil nie hê dit moet môre oral rondlê dat ‘n SS offisier na ligte uit met ‘n Franse slet betrap is nie.  Gaan jou gang en vergeet wat jy gesien het!” Hy stu Geneviéve se stokstywe liggaam in die rigting waar sy haar woonplek aangedui het.
Die oorblufte Duitse troep kap sy hakke teenmekaar, stoot sy borskas uit en salueer verbouereerd.  Jawol!”
Conrad voel hoe die meisie se spiere ontspan.  Adrenalien stuur ‘n tinteling teen sy ruggraat op en hy ervaar ‘n allesoorheersende behoefte om haar te soen.  Nie die eerste keer in die ses maande nie, maar nog nooit was die geleentheid so gul nie.  Hy stoot haar effens weg van hom en stu haar voort.  “Jammer hieroor, speel saam.”  Hy pluk haar aan haar arm agter hom aan en vra dan sag,   "Hoe ver nog?"
"Dit is die tweede huis, daar voor regs."
Die Duitse troep staar hul kopskuddend agterna.  Die SS offisiere kan ook doen net wat hul wil en wegkom daarmee!  
Hy kyk hoedat die vrou 'n deur aan die regterkant van die straat oopsluit en die twee mense na binne verdwyn.
Conrad druk die deur verlig toe en sluit dit.  Sy staan voor hom, haar arms langs haar sye, haar lippe effens oop.
En toe  stap sy spontaan in sy omhelsing in.  Haar lippe is sag en sy proe na kaneel en suiker. Hy trek haar stywer teen hom vas en laat sy hande stadig oor haar rug gly totdat sy hande met gemak om haar dun middel span. Hy druk haar effens weg van hom, en toe hy afkyk in haar oë weet hy dat hy nie nou meer kan stop nie. Hy het dit nodig. Hel, hy het haar nodig!
Die passie wat elke dag oor die laaste paar maande gestook is, vat vlam en brand hoog en warm vir etlike minute voordat dit uitbrand. Hulle sak uitgeput langs mekaar op die verslete mat in die voorkamer neer, hul klere oor die hele vloer verstrooi.
"Jy is baie mooi ..."  Hy leun op sy elmboog en laat sy oë gulsig oor haar pragtige liggaam speel.
“Waar het jy Duits en Frans leer praat?”
Hy streel met sy vinger oor haar lippe.  “Hier en daar ...”  Genoeg reëls is vanaand oortree.
Haar lang wimpers gooi sensuele skadu’soor haar wang toe sy afkyk.  
"Wil jy vannag hier bly?" Die sweet op haar liggaam is besig om af te koel en hoendervleis slaan  op haar maag en borste uit.  
Die uitdrukking op sy gesig is verlore en weemoedig toe sy opkyk  vir ‘n antwoord.
‘n Koue hand omklem haar hart. "Of wag daar êrens 'n Mevrou Dupont op jou?"
Hy grinnik verleë.  "Nee. Niemand wag vir my nie.  Maar deur hier saam met jou te wees oortreë ek talle reëls, en stel ek waarskynlik jou lewe in gevaar."
“As jy nie vanaand saam met my gestap het nie, het ek myself op hierdie oomblik waarskynlik in ‘n uiters benarde posisie bevind – soos in Gestapo hoofkwartiere of veel erger...  Jy kan bly as jy wil...”  Sy staan op, kyk af na hom.
"Ek kan ja ... maar dit sal net wees oor die oorlog, en omdat ek dit nodig het.  Sodat ek weer soos 'n mens, 'n man kan voel ..." Hy kom ook orent, neem haar hand in syne.
Haar oë rus vir ‘n stonde op sy mond en dan kyk sy hom vol in die oë. “Ek verstaan Conrad.”  Sy vou haar vingers om syne en trek hom agter haar die trappe op, na haar slaapkamer.
Die maanlig gooi ‘n enkele silwer straal  oor die verweerde houtvloer, waar die dik gordyne nie mooi toe is nie. Sy verjaag die maanlig met ‘n elegante swiep van haar gewrig toe sy die gordyn dig trek. Die inkswart vertrek word ‘n stonde later in die goue lig van ‘n eensame kers gebaai. Hy lê die twee treë na haar af en trek haar teen hom vas. Hierdie keer, miskien die laaste keer wat hy die geleentheid sal hê, wil hy elke aanraking bewaar.  Die reuk van haar vel, haar hare en haar mond.
Op die groot bed in die middel van die vertrek, smelt hul liggame saam in die oeroue dans van die liefde.

Die kamer is skemer toe hy wakker word. Êrens voor die huis  kondig ‘n haan skel dagbreek aan.  Haar donker krulle lê in wanorde verstrooi oor die wit kussing. Lang wimpers rus vlindersag op porseleinwange.  Hy klim versigtig van die bed af, om haar nie wakker te maak nie, maar  haar oê vlieg oop toe hy langs die bed staan.
"Ek moet gaan."  Verskonend.
Sy knik.  En strek haarself lui, soos ‘n kat uit.  Conrad draai vinnig weg en haas hom met die trappe na onder om sy klere te kry.
Toe hy klaar aangetrek is, raak hy bewus van haar teenwoordigheid aan die bopunt van die trappe.
Die wit laken is om haar liggaam gedraai en haar hare hang verleidelik oor haar regterskouer.
Conrad maak sy oë toe en hy weet dat hy die betowerende prentjie vir altyd in sy geheue sal bewaar.
"Dankie Geneviéve ... dat jy my herinner het ... aan alles wat was voor die oorlog.  Wie ek was, voor ek ‘n soldaat geword het."
Sy glimlag treurig.  "Jy weet nou waar ek woon.  Jy is enige tyd welkom, wanneer jy vergeet wie jy was..."
Hy laat sak sy kop en stap na buite. Huistoe ... of eerder hoofkwartier toe.  Hy grinnik toe hy besef dat hy al aan Michelle se huis begin dink as 'n woning.  Toe hy as deel van die Suid-Afrikaanse korps in Noord-Afrika diens gedoen het, het hoofkwartier iets veel anders beteken as dit wat hy nou hoofkwartier noem!
Gisteraand se swartgalligheid het verdamp.  Hy voel opgeruimd, vir die eerste keer sedert hy hier aangeland het.

Deel 2 - Verraad ...





No comments:

Post a Comment