Vaarwel
“Dit is nie net soldate wat oorlog toe gaan nie.”
Spaanse Spreekwoord
Ure later ontwaak
Conrad stadig met 'n kloppende hoofpyn. Hy kreun toe hy regop kom en sy hand vlieg
onmiddellik na die pynlike knop teen sy slaap.
Hy steier orent en dan tref nog ‘n hou hom. Dié een van onthou.
Hy hardloop met die trappe na bo, gryp terloops sy hemp van die bed, kyk
rond en haas hom dan na buite, waar die selfvoldane haan dagbreek uit volle
bors aankondig.
Michelle is weer in die kombuis, besig om brood vir die Duitsers te
bak, toe hy die huis binnestorm. "Jy het nie gisternag huistoe gekom nie.
Ek het vir jou gewag ..."
Sy staar hom verdwaas agterna toe hy
die trappe twee-twee neem oppad na bo, sonder om haar te groet.
Haar hande val verwese, lam langs
haar sye. Hy verkies haar steeds bo my ...
Pierre skud sy kop
verstom. "Elke oggend het ek op hierdie tyding gewag ... elke oggend. "
Die ou man sak vermoeid neer op die rusbank, trane in sy oë. “Die dag toe die Duitsers haar grond met die
wingerde en die groot herehuis wat sy by haar ouers ge-erf het, opgekommandeer
het, het sy gesweer dat sy alles in haar vermoë sal doen om elkeen te help wat
teen die onderdrukkers baklei, al is dit die laaste ding wat sy doen. En dit
mag nou die laaste ding wees wat sy doen ...”
Conrad byt op sy tande. Sy hart klop met moeite harde stadige houe in sy
borskas. "As hulle haar martel, kan
sy praat ..."
Pierre kyk stadig op, ongeloof gebeitel op sy hartseer gelaat. "Is dit
al waaroor jy bekommerd is?"
Conrad gaan sit langs die ouman. "Luister
Pierre, dit is oorlog. Almal weet dat
hulle 'n risiko loop om betrokke te raak en Geneviéve het dit geweet. Jy het dit geweet. Die realiteit is dat sy moontlik op hierdie
oomblik gemartel word en die ander koue realiteit van hierdie vuil speletjie is
dat ons 'n verraaier in ons midde het!
Ek wil net so graag soos jy vir Geneviéve uit hierdie drek se kloue kry,
en ek gaan alles binne my vermoë en in die tyd tot my beskikking doen om dit
reg te kry, maar ons moet realisties wees. "
Pierre laat sak sy oë voor dié van die soldaat se argument. "Sy is lief vir jou .... vanaf die
eerste oomblik wat jy hier ingestap het." Die beskuldiging lê vlak en
slaan hard.
Conrad laat sak sy kop in sy hande. En hy wens dit was net sy hart wat
gebreek het en nie hare ook nie. Hy lig sy kop. “Pierre, London het my
herroep. Hulle sal my vanaand laat weet
wanneer hulle voorraad en ‘n vliegtuig stuur. So ek weet nie hoe lank het ek om
Geneviéve te help nie. Jy sal my moet
help.
Pierre knik. “Goed. Wat het jy in gedagte?”
"Ons weet nie wie ons kan vertrou en wie nie, so hoe minder mense ons
betrek by hierdie operasie hoe beter. Ek
en jy sal na die beste van ons vermoë die
hele ondergrondse beweging in
Arromanches en St. Mere Eglise moet beveilig.
Dit is prioriteit. Intussen kan
jou vrou vanoggend na die Duitsers se hoofkwartier gaan. Miskien kan sy uitvind waar hulle Geneviéve
hou en hoe dit met haar gaan."
Die ou man knik afgetrokke. "Ja,
ja.... Ek stuur haar dadelik."
Teen laatoggend is
elke weerstandsbeweginglid van die dreigende gevaar in kennis gestel en wapens, planne, kaarte en radios is
beveilig. Teen middagete het Pierre se
vrou steeds nie teruggekeer nie. Conrad stap soos 'n gehokte leeu, op en af, voor die venster in Pierre se
voorkamer. Elke minuut draal soos ‘n
leeftyd. Hy wend hom na Pierre wat
verdwaas, doodstil op die rusbank sit. “Waar bly sy!”
Op hierdie oomblik, asof georkestreer vir ‘n drama, stap 'n snikkende en
selfbejammerende mevrou Pierre die huis binne. "Hulle het net geweier! Hulle het my maak
wag - die heel oggend! Net sodat hulle
my nou kon vertel dat ek haar nie mag sien nie! Dit is verskriklik!" Sy sak, hande voor haar gesig op die bank langs
Pierre neer. "Ek het die
vreeslikste geweeklaag gehoor. Ek is
seker hulle martel haar. Die arme kind
..." Hierop bars die vrou in 'n volskaalse geweeklaag van haar eie uit,
wat Conrad se reeds rou senuwees martel soos hy vermoed hulle martel
Geneviéve. Hy maak sy oë toe. Magteloos!
Pierre skud haar aan haar skouer, erg ontsenu. "Madame! Staak
onmiddellik hierdie gegrensery! Het jy
die wagte getel?"
Met erge verbasing in haar oë kyk sy verskrik na Pierre, vlieg op en
hardloop uit die vertrek, net sodat
hulle haar hartverskeurende snikke vanagter die toe kamerdeur kan aanhoor.
Pierre wend hom na
Conrad, wat sy eie angs onder beheer probeer kry, deur stip deur die venster na
buite staar, waar ‘n ligte briesie die laventelblomme roer. “Wat gaan ons
doen?”
Conrad draai om. “Ons gaan niks doen nie. Ek
gaan doen wat ek kan. Ek is opgelei hiervoor.
Jy gaan vir my ‘n Duitse uniform kry. Enige een.”
“Maar M’sieur! Die Geneevse
Konvensie ...!”
“Doen wat ek sê.”
Teen laatmiddag
stap 'n Duitse SS-Hauptsturmführer (Duitse SS paramilitêre rang gelykstaande aan Kaptein) met 'n flambojante swart
krulsnor oor die straat na die Duitse Hoofkwartier. Conrad gaan die gebou moeitevry binne, nadat
hy een laaste keer aan die vervlakste vals snor gedruk het. Niemand steur hulle egter aan die SS-Hauptsturmführer nie. Die laaste paar weke daag hier gereeld tydig
en ontydig nuwe offisiere op.
Duitse administratiewe personeel skarrel rond. 'n SS-Schutze (troep) kom van voor af
met 'n skinkbord en Conrad haal diep asem. Hy kan vier tale foutloos praat. Afrikaans (sy
moedertaal), Frans, Engels en Duits.
Laasgenoemde met ‘n vae aksent. "Waar
is daai mooi Franse slet? Die een wat van sabotasie verdink word, wat gisternag
gearresteer is?"
Die troep kyk verskrik na die offisier wat onverwags met hom praat. Conrad
strek homself tot sy volle 1.8 meter. "Moenie net daar staan en my aangaap nie,
Troep. Praat! En staan regop wanneer 'n offisier met jou
praat!"
Die troep sluk sodat sy adamsappel verbouereerd spring, trek sy skouers
terug en stammer: "Ja Kaptein. Sy is hieronder, Kaptein."
Kripties. Hy kyk vinnig na die trappe, links agter die troep. Hy grinnik wreedaardig vir die vreesbevange
jongman. "Dit is beter. Ek sal
daardie skinkbord na haar neem." Hy neem dit daadwerklik uit die
vreesbevange ventjie se hande.
"Maar, Kaptein, dit is nie vir ..."
"Praat jy teë?"
"Nee Kaptein. Dankie
Kaptein." Hy verdwyn af met die
gang, maar te dankbaar om uit die teenwoordigheid van die dreigende Korporaal
te kom.
Conrad klim die trappe stadig na onder. Hy sluk as hy die gevangenes in die selle aan
sy regterkant die een na die ander deurkyk, soos wat hy met die gang af beweeg.
Hul staar terug, onverbloemde haat in
hul oë.
Hy stap verby Geneviéve se sel en laat val byna die skinkbord toe hy haar
herken. Sy sit gehurk, agter in die hoek
van die sel. Haar arms styf teen haar
liggaam vasgeknel en wasbleek. Haar lang
swart krulle hang in slierte half oor haar gesig.
Sy staar reguit na hom, deur hom,
na ‘n wêreld wat net sy kan sien.
Hy maak sy oë momenteel toe. Hoeveel
keer het hy al hierdie optrede in slagoffers gesien. "Geneviéve ...?"
Sy staar in stilte.
“Geneviéve ...” Hy tel die beker water
op die skinkbord op en skiet die inhoud tot in haar sel. Sy knip haar oë en kom stadig orent.
"Geneviéve, dit is ek ... Conrad."
Sy kom stadig na die tralies. "Conrad?" Haar slanke vingers vou
krampagtig om die traliewerk. “Wat soek
jy hier!?”
Hy plak die skinkbord op die grond neer. Sy groot hande sluit warm om hare.
"Geneviéve, luister na my. Weet jy wanneer hulle jou weer kom
haal?"
Sy skud haar kop, haar oë twee groot poele groen vloeistof in ‘n genadelose
wit landskap.
"Geneviéve, ek gaan alles binne my vermoë doen om jou hier uit te kry."
Sy maak haar een hand los uit sy greep en sit dit deur die tralies teen sy
wang. “Ek weet London het jou reeds
herroep. Daar is nie tyd nie. Ek verstaan ...”
Die geluid van swaar stewels op die trappe ego die hopeloosheid van die
situasie. Beide van hulle kyk vinnig in daardie rigting. "Jy moet nou gaan Conrad..." ‘n Traan loop oor haar wang.
“Geneviéve, ek wil ... Dit was nie net seks nie. Nie vir my nie ...” Hy wens hy kon haar styf teen hom vastrek.
Sy glimlag deur haar trane. “Ek weet
Conrad. Gaan nou asseblief!” Sy retireer stadig na die agterste hoek van
haar sel, waar sy weer ineengetrek gaan hurk. Conrad bal sy vuiste magteloos langs sy sye. Dit is, benewens al sy wedervaringe as
spesiale SOE agent, die moeilikste bevel wat hy nog moes uitvoer.
Pierre wag hom
handewringend in. Die pyp op die tafel
lank reeds vergete. "Het jy haar
gesien?"
Conrad knik en sak moeg op die houtstoel langs die kombuistafel neer. "Hulle het haar geslaan ... en ..." Hy weet nie wat nog alles nie en byt die res
van sy woorde terug.
Tydens radio
kontak daardie nag kom die langverwagte bevel.
Môrenag. Pierre kan nie die
omvang hiervan begryp nie. "Waarom? Wat van Geneviéve? Gaan jy haar net so
los?"
Conrad se kop sak moeg in sy hande. "Ek het nie 'n keuse nie Pierre .... Ek
het nog nooit 'n keuse gehad nie ..." Hy kyk stadig op en wat Pierre in die jongman
se oë lees sal hom altyd bybly. Die algehele gevoel van magteloosheid, moegheid
en verslaenheid. ‘n Verlies so groot hy
kan dit net hanteer deur aktief te bly in dit waarin hy opgelei is, in die
wêreld waar hy hom kan onttrek van die realiteit van sy emosies.
Pierre maak sy keel skoon. "Dit
is ses ure se ry na die optelpunt.”
Conrad kyk dankbaar na die tengerige mannetjie. "Ek sal kyk wat ek kan
doen voor môreaand." Hy stap stadig
terug na sy blyplek waar hy vir Michelle met al die vaardighede in sy arsenaal,
vermy.
Hy maak seker dat
niemand hom sien toe hy in die vroeë oggend-ure uitsluip nie. Dit is nog stikdonker buite en hy gebruik die
agterstraatjies tot by die ou klipkasteel, wat deur die Duitsers as kwartier
gebruik word. Aan die agterkant, byna
teen die gebou, groei 'n oeroue boom en Conrad klouter behendig op. Tussen die digte lower voel hy veilig en
bespied die omgewing deur sy verkyker. Hy
het geen plan nie. Hy hoop dat een sal
ontwikkel sodra hy oor meer inligting beskik.
'n Lig in ‘n vertrek, op die tweede verdieping word aangeskakel. Conrad kyk vanuit sy skuilplek reg in die vertrek. 'n Vrou word binne gesleep deur twee troepe en
ru na 'n stoel gestamp. 'n Offisier
praat met haar, maar dit is te ver vir Conrad om te hoor wat gesê word.
Hy slaak ‘n dankbare sug toe hy nie die slagoffer herken nie.
Die soldaat se hand skiet uit en die vrou se kop ruk agteroor. Sy is maer
en haar bloese het geen knope aan nie.
Conrad pers op sy tande toe hy sien dat sy ook nie meer onderklere onder
die ontblotende bloes aan het nie. Dit
lyk asof sy om genade smeek, maar die drie mans lag.
Conrad maak sy oë toe en kyk weg. Hy
wil nie weet wat daarbinne gebeur nie. "Liewe Vader! Is dit Geneviéve se
voorland?", prewel hy saggies en sien haar weer ineengekrimp in die koue
sel.
Dit is vroegmiddag
toe hy uiteindelik onverrigter sake terugkeer na sy blyplek. Hy kon geen spoor van Geneviéve vind nie! Waarheen
het hulle haar geneem?
Daar is niemand by die huis nie. Hy
kyk stadig rond in sy kamer en neem niks saam nie ...
Die ou Ford Merger
trok laat een groot rookbol agter sover
hulle ry. "Gaan hierdie ding dit maak?"
Pierre glimlag wrang. "Hierdie
trok het dit al meer as een keer na verder destinasies gemaak."
Die atmosfeer in die trok is gespanne en morbied. Conrad weet die ou man
neem hom kwalik. Hy neem homself kwalik
en dink oor en oor dat daar iets moet wees wat hy kan doen, maar elke keer kom
hy tot dieselfde gevolgtrekking. Niks. Sy het net spoorloos verdwyn.
Hulle nader die verlate vliegveld vanuit die suide en wag totdat dit tien
minute voor een in die oggend is voordat hulle 'n vuur aan die begin en
eindpunt van die vliegveld aansteek. In
stilte kyk hulle hoe die DC 3 Douglas land.
Die vure word geblus, nog voordat die vlieënier uitklim.
"Conrad! My goeie vriend!" Edward steek sy hand na Conrad uit en
omvou hom in 'n vinnige omhelsing toe dié ook sy hand uitsteek.
"Edward!"
Pierre staan stil eenkant, sy gesig uitdrukkingloos. Conrad draai om. "Edward, ontmoet Pierre. Hy gaan jou regterhand wees." Pierre kom
nader, hand uitgesteek.
Edward omvou die klein oumenshandjie in sy grote. "Aangename kennis Pierre."
"Het jy ammunisie gebring?" Pierre se oë soek-soek na die
vliegtuig.
"Ja, ons sal moet begin aflaai." Hy kyk bekommerd na die donker
lugruim.
In stilte word die kratte oorgelaai na die Ford. Edward oorhandig die
vliegbril, serp en leerbaadjie aan Conrad. "Alle voorspoed my maat."
Conrad glimlag wrang. "Dieselfde vir jou. Jou eerste en
belangrikste taak is om vir Mamselle la Rouchefoult uit die Duitsers se kloue
te bevry ..." Edward rek sy oë vraend en Conrad verduidelik vinnig, bewus
van die reëls waaronder hy dien. "Sy is Pierre se regterhand en die
radio-operateur. Belowe my?" Edward
ken Conrad al jare en sien meer as wat hy te kenne gee.
"Ek gee jou my woord." Hulle skud hand en Conrad wend hom na Pierre.
"Jy kan vir Edward met jou lewe vertrou." Hy vroetel in sy sak en oorhandig 'n foto aan
Pierre. "Gee dit vir haar ... en sê
vir haar ek sal terugkom ..." Sy
emosies laat hom in die steek en hy bestyg die vliegtuig sonder 'n verdere
woord.
Deel 4 - Die Duitser ...
No comments:
Post a Comment