Die
Opoffering
“Daar kom ‘n tyd wanneer die leuenaar ook ontdek dat die waarheid sy beste
vriend sou wees, maar dan vind hy hy het hom vervreem.”
C.J Langenhoven
“Ons weg deur die wêreld” (1913)
Geneviéve steek vas in die sitkamer se deur. Haar
hand fladder na haar keel. Voor die
groot venster, met die prentjiemooi uitsig op die wingerde voor die huis, staan
Dieter, met sy rug na haar gekeer. Sy
vrou sit op die leunstoel voor die kaggel, haar hande senuagtig in haar skoot
saamgeklem.
“M’sier
Löbe ...” Haar stem is sag en huiwerig.
Hy draai stadig om. Sy vrou kyk op.
"Geneviéve.” Hy stap na sy vrou toe en plaas sy hand op
haar skouer. “Ek het Greta alles vertel.
" Geneviéve sak op die rusbank
neer. Greta staan stadig op.
"Dis verby. Ek blameer jou nie ... Dit was oorlog en wel
... dit is nou verby en ons almal moet voortgaan met ons lewens."
Geneviéve knik, laat sak haar
kop en sluk aan die trane . Dieter kom kniel voor haar. "Ek moes net my seun weer sien. Ek is jammer ek is weer terug in jou lewe.”
Sy kyk op. Sy blou oë rus met soveel emosie op
haar. Oë wat sy vrou nie kan sien nie.
“Ek en Greta het gewonder of
... of Conrad hierdie Kersfees by ons kan spandeer?"
Geneviéve hou sy oë gevange
met hare waarin woede stadig opstoot. Hoe
durf hy dit wat hare is nou van haar wil wegneem?
Maar dan sien sy die liefde in
sy oë en weet dat hy nooit vir Conrad
van haar sal wegneem nie. En sy besef
dat dit nie sy is wat die grootste opoffering maak nie. Dit is Greta, onwetend. En terwyl sy diep in Dieter se oë kyk weet sy
– hy het sy vrou nie alles vertel nie. Greta weet nie van sy liefde vir haar, Geneviéve
nie.
Sy staan stadig op en stap om
Dieter, weg van sy veelsprekende oë. "Wat sê ek vir hom ...?"
"Die waarheid ... My seun
moet weet wie sy pa is. Die res laat jy in my en Greta se hande. Hy is my kind
ook Geneviéve, ek sal niks doen om hom te na te kom nie.”
Sy knik. "Ek weet...” Sy stap deur toe. “Gee my asseblief eers geleentheid om met hom
te praat. Ek sal jou laat weet.”
“Is môre te gou?”
Sy skud haar kop. “Verskoon my.”
"Laat hom gaan kind. Dit is die regte ding om te doen. Hy sal terugkom ...." Pierre staan met beide hande gevou bo-op sy
kierie langs Geneviéve, waar sy arms gevou staan en kyk hoe Pierre met sy hond
op die gras baljaar.
“Ek
is bang om hom te sê.”
Pierre sit sy hand op haar arm. “Enige seun wil graag ‘n vader hê. En hy het reeds vir Dieter ontmoet. Ek dink jy onderskat jou seun.”
Conrad hou die paadjie wat tussen die wingerde
deur kronkel opgewonde dop. “Hoe laat
kom hulle, Maman?”
Sy
kom staan agter hom en sit beide hande op sy skouers. “Hulle sal nou enige oomblik hier wees.” Sy vee vinnig die trane wat uit haar ooghoeke
pers af en gaan sit op die leunstoel by die kaggel. Conrad het eers geen reaksie getoon toe sy
hom vertel het nie. Hy het voor hom
uitgestaar en haar toe begin peper met vrae.
Sy het elke oomblik van die hele beproewing getwyfel of sy die regte
ding doen. Nadat sy hom van antwoorde en
verduidelikings na die beste van haar vermoë voorsien het, het hy sy hond
geroep en vir die res van die dag verdwyn.
Toe hy gisteraand aan die etenstafel verskyn was daar traanspore op sy
wange en haar hart wou breek. Vanoggend
was hy ‘n ander kind. Uitgelate. Opgewonde.
Omdat hy ‘n Pa het.
“Daar kom hulle, Maman!” Sy kan sien hy vind dit moeilik om stil te
staan. Ma en seun kyk woordeloos hoe die
voertuig tot stilstand kom. Dieter is
alleen.
Conrad se hand kruip stadig
binne in hare en saam wag hulle dat Dieter by die sitkamer instap. Hy steek in die deur vas toe hy hulle daar
voor hom sien staan. Die gesin wat syne
kon wees ... Conrad se seunskind-ogies
groot met afwagting en Geneviéve se hele wese ‘n prentjie van miserie.
“My Ma sê jy is my Pa. Sy sê jy was baie goed vir haar in die
oorlog, en toe is jy gevang en sy het gedink jy is dood. Sy het nie vir my gejok oor jou dood nie. Of
dat jy ‘n held was nie.”
Geneviéve sien hoe Dieter sluk
en sy byt met mening haar trane terug.
Hy knik ernstig, kom nader en steek sy hand na sy seun uit. “Dit is die
waarheid, “ jok hy. Conrad huiwer en dan skud hy die aangebode hand. Hy trek sy handjie uit dié van die groot man
en dan gooi hy sy arms om Dieter se nek.
“Jy is my Pa! Sjoe ek kan dit
amper nie glo nie!”
Geneviéve kan nou nie meer die
trane keer nie. Selfs Dieter se oë swem
in trane, daar waar hy kniel, met die seuntjie in sy arms.
Sy sluk, probeer haar stem so
normaal as moontlik hou. “Sy skool sluit
oor twee weke. Dan mag hy maar saam met
jou, julle gaan.”
Dieter maak sy oë ‘n oomblik
toe en maak homself los uit sy seun se omhelsing.
"Dankie. Dankie Geneviéve.
Ek wens ek kon jou vergoed vir jou
goedhartigheid ... ek wens daar was ‘n manier om jou
te vergoed vir elke verkeerde daad wat jou aangedoen is in die oorlog."
Sy
druk haar hand voor haar mond en verwens elke vet traandruppel wat vinniger as
sy voorganger oor wange rol.
“Maman!
Kan ek vir ... M’Sier Löbe ... vir my Pa, my hond gaan wys?”
Sy
kan net knik.
Geneviéve huil haarself elke aand aan die slaap
sedert Dieter 'n week gelede vir Conrad kom oplaai het. Sê nou hy hou hom in Duitsland? Wat as Conrad
self nie wil terugkom nie ... sê
nou! Wat as!
Die dae sleep verby en sy loop
draaie om die Kersboom wat ou Pierre en Tinette, die huishoudster, in die eetkamer staangemaak het. Dit sal
Conrad se eerste Kersfees weg van die huis wees!
'n Week voor Kersdag lui die telefoon. Sy raap dit opgewonde op, verwag haar seun se
uitbundige stem.
Maar dit is Dieter. "Conrad
mis jou! Waarom kom jy nie vir die Kersvieringe na London nie?"
"Ek dag julle is in
Munich ..."
"Nee! Ons het op die
ingewing van die oomblik besluit om hierdie jaar Kersfees by Greta se ouers te
vier. Hulle het hierheen getrek na die
oorlog. Sê jy sal kom. " En effens
sagter. "Ek mis jou ook."
Deel 9 - Restitusie, Epiloog en Nota
No comments:
Post a Comment