Wednesday, August 12, 2015

Geneviéve - Verraad (Deel 2)


Verraad
“Om te verraai, moet jy eers behoort.”
Kim Philby, Britse Intelligensie Offisier en Soviet Spioen (1912 – 1988)

Michelle, die blonde vrou,  is in die kombuis toe Conrad by die agterdeur instap. "Waar was jy?  Die storie loop dat tientalle gisternag gedood is! Ek was bekommerd ... "  Sy tree nader aan hom.
"Ek was besig, Michelle. Ek kan na myself omsien."  Hy tel ‘n varsgebakte broodrolletjie van die warm bakplaat op, maar sy hand verstar oppad na sy mond.
"Jy was by Geneviéve, die heelnag... "  Groot bruin oë is verwytend op hom gerig.  
"Dit het niks met jou te doen nie, Michelle."  Hy keer sy rug op haar, maar stop in sy spore toe hy 'n kabaal agter hom hoor.  Die porselein mengbak wat sy in haar hande gehou het spat aan skerwe teen die deurkosyn langs hom.  Hoe weet sy waar ek heelnag was?
            “Hoekom sy? Hoekom nie ek nie?”
Hy draai verbysterd om, bedink homself en draf die trappe na die badkamer twee-twee op. 
Michelle sak snikkend op die stoel by die kombuistafel neer, ‘n verfrommelde brief, ses maande vantevore gedateer, fladder vergete vloer toe. 
Conrad pluk die stortgordyn met mening toe en draai die yskoue water oop. Michelle se optrede is verrassend en kommerwekkend. Irrasioneel is miskien 'n beter beskrywing.  Hy skud die water uit sy oë en draai die warm water oop.
Hy het geweet dat hierdie een van sy mees uitdagende missies sou wees. Dit is waarom die SOE hulle nooit vir langer as vier maande in so siviele opset ontplooi nie.  Langer en dit raak menslik onmoontlik om nie betrokke te raak nie. Al wat hy kan doen is om te wag dat sy bevelvoerders voorraad en bevele stuur. Daarsonder is al sy opleiding en ondersteuning niks werd nie! Ergste van alles is die feit dat die maquis nie opgeleide soldate is nie. Hy mis die samesyn met sy mede-soldate.
Terwyl hy afdroog dwaal sy gedagtes na die vorige nag se mislukte operasie.  'n Groep spesiale eenheid soldate sou nie so gemors van die hele operasie gemaak het nie!
En onbepland kruip die donkerkop bondeltjie vrou ook sy gedagtes binne.  Ek is te lank hier.  Hy weet dat gisternag nooit moes gebeur nie. Maar hoe kon hy nie? En hy weet hy moet hom losskeur van die mense. Sy lewe, hulle lewe en die missie waarop hy is se sukses hang daarvan af. En binnekort gaan hy herroep word.

Hy bereik die Weerstandsbeweging se hoofkwartiere sonder om in 'n Duitser vas te loop.  Pierre se groet is ingetoë, maar vriendelik, soos altyd. Waarom voel alles dan vanoggend vir hom anders?
            “Daar is ‘n verraaier in ons midde, Pierre.”
            Die ou man trek sy skouers op. “Is daar nie maar nie altyd nie?”     
Pierre se gesig helder op toe hy Geneviéve aangestap sien kom. "Geneviéve! Bonjour ma cheri! Jy is veilig!"  Hy neem haar hande in syne.
            En Conrad staal homself vir haar optrede na gisternag.
            Sy kyk op na hom, ‘n sweempie van ‘n glimlg om haar mooi lippe. En niks anders nie. Niks. Geen suggestiewe glimlag of aanraking nie.
Bonjour M’sieur Dupont.”
“Goeiemôre Geneviéve.  Ek sal vanaand  net na jou roetine radio kontak met London, my bevelvoerders moet kontak.”
Sy knik haar kop. “Vanaand se geskeduleerde tyd is middernag.”

Teen nege-uur daardie aand lê hy, hande gevou agter sy kop, op die bed.  Hy hoor Michelle in die badkamer en is dankbaar dat hy haar nog nie met 'n oog gesien het na vanoggend se debakel nie.  Sy verligting is egter van korte duur toe hy haar sagte voetstappe in die gang voor sy kamer hoor.
Sy kamerdeur gaan tellings later stadig oop.  “Michelle?”  Haar wasige wit nagrok laat nie veel aan die verbeelding oor nie.
"Slaap jy?" Sy laat haar wimpers skamerig oor haar bruin oë sak.
            “Nee. Kom binne.”  Hy gooi sy bene van die bed af en kom in ‘n sittende posisie, sy oë waaksaam op die bedeesde wese gerig – so anders as vanoggend.
            Sy gaan sit op die bed.  “Ek is jammer oor vanoggend.”
            Sy oë rek ongelowig en hy leun effens terug teen die bed se kopstuk.
"Jy hoef niks te sê nie."  Sy leun stadig oor na hom, sodat die rok se lae hals verleidelik wegtrek van haar borste.
            En hy onthou gisternag.
            En hy onthou Geneviéve se kalmte vanoggend.  En ek het haar laat verstaan dat ek haar net nodig het gisternag. Niks meer nie. Hier, nou, in die teenwoordigheid van hierdie vrou, wie se hele wese ‘n ope uitnodiging aan hom rig, NOU weet hy gisternag was meer. Baie meer...
“Houvas my net, asseblief?” Sy oë vlieg verstom na haar gesig. Hy vee vinnig
met sy hand oor sy kort hare, breek oogkontak met haar, staan op en stap tot voor die venster met die dig getrekte gordyne.
"Nee, Michelle. Jy is getroud."  
Sy laat sak haar oë, haar vingers is verstrengel in die wit satyn lint wat ‘n onskuldige strikkie maak by die sensuele kurwes van haar borste.  Sy ontknoop een vinger haastig om ‘n lastige traan, wat oor haar wang kruip weg te vee. "Ek het maande laas 'n brief gehad.  Ses maande..."
Hy wil vir haar sê dat dit geen verskil maak aan die status quo nie.  Hy wil homself wysmaak dat gisternag niks meer as seks was nie.  Gemeenskap sonder gevoel. En hy KAN dit weer doen. Maklik. Hy is maar net ‘n man...
Hy trek ‘n diep teug lug in sy longe en neem die een tree na haar, wat die
delikate balans van mag  tussen aanbod en aanname, sal versteur. Want hy verstaan hoe sy voel.
Hy plaas sy hande op haar skouers  Hy verban alle gedagtes, moreel, militêr en sentimenteel, uit sy brein en sy donker kop sak stadig oor haar blonde een...

Kort voor middernag trek hy versigtig die beddegoed van hom af en rol stadig uit die bed, sodat sy nie wakker word nie.
            Dit was glad nie soos gisternag nie. Geen onblusbare passie nie.  Dit was maar net seks ...
            En Conrad Dupont weet dat hy sy hart in hierdie oorlog verloor het op ‘n petite donkerkop bondeltjie mens, met groot hartseer oë.

Hy bereik Pierre se huis sonder voorval. Geneviéve is besig om op te staan voor die radio.  Hy vermy haar oë.
Sy kyk glimlaggend op na hom.  "Ek het gedink jy kom nie meer nie."  Sy maak plek vir hom voor die radio.
"Sal jy my asseblief alleen laat?"  Sy staan woordeloos op en verdwyn af in die gang terwyl sy ‘n opgewekte Franse deuntjie neurie.
Dit neem hom 'n paar minute om die boodskap te versend aangaande die verraad en ander sleutelinligitng welke die Geallieerde Opperbevel sal kan benut in hul besluitnemingstrategieë.
Hy vind Geneviéve  in die kombuis.  "Jy kan maar wegpak, dankie."  Sy oorhandig 'n beker tee aan hom.
"Pierre sal wegpak. Ek moet by die huis kom."
Hy neem ‘n sluk van die té soet tee en sit die beker op die tafel neer. "Ek stap saam." Hy kan nie nou teruggaan na die huis waar Michelle vir hom wag nie.  En hoe kan hy nie saam met haar stap nie, as sy met sy hart in haar hande wegstap?
"Dis nie nodig nie, ek is gewoond daaraan om alleen te stap."
Hy glimlag veelseggend vir haar en saam stap hulle in stilte na haar huisie.
Hy staan ongemaklik op die verslete mat waar hy haar gisteraand so passievol in sy arms gehou het. "Tee?"
"Nee ... nee dankie."  Hy vermy haar oë.
"Wil jy solank vir my in die kamer wag?"
Dit is nie waarom ek saam met jou gestap het nie!, kreet sy hart, maar hardop sê hy.  "Nee, ek dink dit is beter as ek nou gaan."  Hy voeg woord by daad en stap na die deur.
"Jy hoef nie skuldig te voel omdat jy saam met Michelle geslaap het nie... "  
Dit voel of ‘n vuishou hom reg in sy maag tref, daar waar dit die seerste maak.  Hy kyk stadig op na haar.  “Hoe het jy geweet?”
Sy glimlag treurig.  “Ek het geraai.  Jy is heeltemal ontuis in my geselskap vanaand.”
Hy knik. Skaam. Maak sy keel skoon.  “Daar kon baie ander redes wees.”
Sy lag sag.  “Ek ken jou beter as wat jy dink, Conrad... Waarom het jy saam
met my gestap?"
Hy gaan sit op die bank, sy kop in sy hande. Omdat ek jou bo haar verkies! Maar hy kan dit nie sê nie, kan hy? Omdat ek my hart op JOU verloor het!  Maar onder die omstandighede kan hy dit ook nie sê nie.  "Ek weet nie ..." Die maklike uitweg.
Sy kom sit langs hom. "Jy vertrou my nie?"
Hy kyk stadig op, en hy weet sy oë smeek. "Ek vertrou niemand nie. Enigeen kan die verraaier wees.  Jy, Pierre, Michelle, enige van die tientalle saboteurs..."
Sy sit haar hand op sy been. "Dit is vir jou moeilik hier?"
'n Harde klop aan die deur laat beide verskrik opkyk.  Duitse stemme klink van buite op.  
"Mach auf! Maak oop!"
"Die Gestapo." Haar oë is groot in haar gesig.  Die teerheid van flussies weggeraap deur angs.
Conrad reageer instinktief. "Trek uit jou klere! Skink tee in twee koppies en
roep my, hard sodat hulle kan hoor. Dit moet nie lyk asof ons nou net hier ingestap het nie! Trek aan my hemp."  Hy pluk die kledingstuk uit en hardloop met die trappe op, waar  hy wag dat sy hom roep.
            "Conrad!"
            Sy hemp hang tot by haar knieë en sy lyk verwese, waar sy in die middel van die voorvertrek se vloer staan. Hy glimlag bemoedigend.
            En toe maak hy die deur oop.

"Ons wil vir Mamselle Geneviéve la Rouchefoult sien."  Die Duitser se stem is bars.
Conrad frons vies.  "Hierdie tyd van die aand.  Dit is al lank na ligte-uit!"
"Waar is sy!? Of is sy weer besig om sabotasie-planne te smee!"
Conrad se hart mis ‘n slag en dwing hy 'n nonchalante lag oor sy lippe. "Wat? Geneviéve 'n maquis?"  Hy draai effens om.  "Het jy gehoor ma cherie? Hulle dink ..."
Die Duitser stoot hom ru weg voor die deur en stap binne.  "Mamselle la Rouchefoult , u moet onmiddellik saam met ons kom."
Sy staar vasgenael na die twee mans voor haar deur. En toe weet Conrad verseker, as sy hier uitstap, gaan sy hart saam. In ‘n oorlog is daar geen ongewonde soldate nie ...
"Sy gaan nêrens heen nie..." Afgemete.
Die Duitsers lag die lag van oorwinnaars, brute, onverfynde barbare wat hulle
is.
Meteens is daar twee soldate aan weerskante van Conrad wat hom teen die muur vaspen, een met 'n rewolwer teen sy se kop.  "As jy een beweging maak, skiet ons jou vrek."
Geneviéve laat val die beker tee wat sy in haar hand gehad het en dit spat aan 
skerwe op die vloer.  Soos sy hart!
"Staan stil Conrad.  Ek sal saamgaan ..."  
Sy stap stadig met die trappe op en Conrad bewonder die dapperheid van die meisie. En hy weet met onwrikbare sekerheid, dat hy vir die res van sy lewe sal onthou hoe sy uit sy lewe uitgestap het, met sy hart in haar hande...
Toe sy afkom met die trappe, geklee in 'n wit hemp en donkerblou romp probeer hy losruk en gee die troep aan sy linkerkant ‘n harde hou op die kakebeen. Hy trek sy knie op om die man aan sy regterkant, met die pistool ook buite aksie te stel, maar dié slaan hom hard met die rewolwerkolf teen sy slaap.

Deel 3: Vaarwel ...



No comments:

Post a Comment