Weersiens
“’n Ding soos oorlog kom in ‘n mens soos ‘n siekte. Waar so baie sterf,
begin elkeen ‘n bietjie sterf; elkeen raak vereensaam soos ‘n sterwende loslaat
alles wat buite is, in homself keer.”
N.P. Van Wyk Louw
“Die Pluimsaad waai ver.”(1964)
Geneviéve se erfgrond is verwaarloos teen die tyd
dat sy dit weer in ontvangs neem. Die
huis is in redelike toestand, maar alles verg werk om dit weer in hul eertydse
glorie te herstel. Maar sy is
gelukkig. Sy het ‘n pragtige gesonde
seuntjie om na om te sien, om lief te hê ... Iets wat sy weet hare is en vir
altyd hare sal wees.
Elke
minuut wat sy nie aan haar seun spandeer nie, spandeer sy aan die opbou en
uitbou van haar wynplaas. Conrad se
erfgrond.
Teen
die tyd dat hy ses jaar oud is, is L’Avenir se wyne bekend in Parys, London en
New York. Die twee mans uit haar verlede
is haar konstante metgeselle. Sy sien elke
dag vir Dieter in sy seun. En elke keer
wanneer sy of iemand anders hom aanspreek krimp haar hart ineen by die
aanhoor van Conrad se naam. Haar groot,
verlore liefde.
Die
twee mans uit haar verlede, wat haar toekoms onherroeplik verander het. Sy is
ingekeer in haarself, meng met min mense.
Sy plaas die verbleikte foto
van Conrad terug in die kartondosie voordat sy sugtend opstaan en haar handtas
toeknip. Sy en Conrad gaan na Parys vir hul eerste vakansie. Besigheid is die eintlike doel van die besoek,
maar Pierre het haar oorreed om ‘n vakansie daarvan te maak en vir Conrad saam
te neem.
Sy het 'n suite in die elegante Hotel de Paris
bespreek en Conrad is behoorlik uit sy vel van opgewondenheid. Hy is ‘n spontane vriendelike kind wat maklik
met vreemdelinge geselsies aanknoop en 'n spieëlbeeld van sy aantreklike Duitsa
pa. As hy slaap en sy kyk na hom dink sy
soms aan Dieter en wonder ... wat as...?
Op die voorlaaste dag van hul terugkeer na
Arromanches ontmoet Conrad ‘n dogtertjie van ongeveer sy eie ouderdom by die
swembad. Geneviéve hou hulle glimlaggend
dop, vanonder haar koeltehoekie, ‘n koerant voor haar. Die meisie se moeder lê ‘n entjie van Geneviéve
onder ‘n sambreel en sy wink vir Conrad en haar dogter nader, nadat sy aan die
kelner iets gesê het. Geneviéve stap
nader toe die kelner ‘n groot pienk melkskommel voor elke kind neersit.
"Bonjour madame. Ek bied verskoning aan. Dit is die eerste keer wat my seun homself in
Parys bevind en ..."
Die ou vrees kom lê vlak in
haar keel toe die mooi vrou Frans met ‘n swaar Duitse aksent praat. Geneviéve ruk haarself vinnig reg. Sy het
seker gemaak dat Conrad Duitse klasse neem en hy praat die taal goed en sy self
skakel ook oor na Duits toe sy agterkom die vrou sukkel om haar te verstaan.
"O nee! Hy maak glad nie ‘n oorlas nie. Ek en my dogter geniet die jongman se
geselskap! Ons reis baie saam met my man
op besigheid en Mathilde raak maar eensaam so in die hotelle! Ons is maar te
dankbaar vir sy sjarmante geselskap!” Die Duitse vrou glimlag stralend op in Geneviéve
se verbaasde gesig. Sy het nog nooit in
haar lewe so perfekte popmooi vrou gesien nie.
Geneviéve kan nie help om
terug te glimlag nie. "Laat my ten minste toe om vir die drinkgoed te
betaal." Sy vroetel in haar jurk se sak en bring ‘n paar note te voorskyn.
Mathilde se ma glimlag stralend.
“Op een voorwaarde! Dat u en u seun ons gaste is vanaand. Conrad het ons vertel
dat dit jul laaste aand in die hotel is!”
"Ja, ek moes ook vir
besigheid kom, maar nou is dit tyd om terug te keer. Ek het 'n wynplaas om te
bestuur en hy moet teruggaan skool toe." Sy huiwer. Aandete saam met mense wat sy skaars ken, en
Duitsers ...
Conrad se hand kruip saggies
in hare, en toe sy afkyk in haar kind se oë ruk haar hart.
“ Si’l de plait, Maman?”
Mathilde se moeder glimlag
verlig. “Dan sien ons julle so agt uur?”
Geneviéve glimlag gedwee toe sy sien hoeveel
moeite Conrad met sy voorkoms doen vir aandete en op die ingewing van die
oomblik haal sy die splinternuwe swart satyn rok wat sy eergister gekoop het
uit die hangkas. Die duursame materiaal
vou vleiend om haar slanke figuur en sy draai haar hare in ‘n elegante rol
agter haar kop.
In die hotel se eetkamer steek
sy huiwerig vas in die deur. Conrad sien
egter vir Mathildede raak en trek haar
opgewonde in die rigting van hulle tafel.
“Daar is hulle Maman!”
Mathilde se vader, wat met sy
rug na hulle gekeer sit, staan stadig op toe hy Conrad se stem hoor. Hy draai met ‘n glimlag om sy lippe om en Geneviéve
versteen in haar spore. Haar vingers om
Conrad se hand vlieg oop.
Hy maak sy mond oop maar geen
woord kom uit nie. Sy groot, bekende hand omklem die stoel se ruglening, sodat
sy kneukels wit deurslaan. Dit neem al Geneviéve
se wilskrag om nie om te draai en te vlug nie.
Die porseleinpop vrou glimlag
innemend. “Madame! Welkom. Dit is my man, Dieter Löbe.” Dieter staar steeds geskok na Geneviéve, sy
rug na sy vrou gekeer. Geneviéve forseer
‘n glimlag om haar mooi mond en knik haar kop effens. My vrou
sal natuurlik nooit weet nie...
“Goeienaand M’sier Löbe.” Sy
steek haar hand na hom uit. “Geneviéve
Le Rouchefoult. En dit is my seun,
Conrad.”
Hy vou haar hand toe in sy
grote. Sy stem is grof en sy kan sien
dat dit vir hom net so groot inspanning verg om normaal op te tree as vir haar.
“Aangenaam. Dit is my vrou, Greta. Sy het my meegedeel dat sy en u nooit julself
vanmiddag by die swembad aan mekaar voorgestel het nie, met die kinders wat so
gebabbel en gespeel het nie.”
Greta
beduie vir haar om te kom sit. “Dit was
onvergeeflik van my, natuurlik. Maar ek was so verlig dat Mathilde en Conrad
mekaar se geselskap so geniet het, dat ek bevrees is ek my maniere skoon
vergeet het!”
Geneviéve glimlag en sak
bewerig neer in die stoel wat Dieter vir haar uittrek. Sy mompel haar dank en hou haar oë neergeslaan
want in sy oë kan sy die onuitgesproke vraag lees wanneer hy na Conrad kyk.
Die
twee kinders babbel aanmekaar en Geneviéve benut die geleentheid om onderlangs die Duitse vrou van haar
voormalige minnaar te bestudeer. Sy is
pragtig, elegant en spontaan.
Sy
kyk vinnig in Dieter se rigting toe hy sy mes en vurk met militêre presisie langs
mekaar op sy bord neersit. Hoeveel keer
het ek hom dit al sien doen?! En vir die eerste keer die aand tuimel die
verlede soos los berggruis om haar neer.
Hul oë ontmoet oor die tafel. "U eggenoot, Madame?" Maar wat hy eintlik wil vra is, is dit my seun?
Sy maak haar keel effens
skoon, maar voordat sy kan antwoord klink Conrad se helder stemmetjie op. "Hy was 'n held, oom Dieter. Hy was ‘n
soldaat in die oorlog."
Geneviéve kyk pleitend na die
groot aantreklike Duitser. Dood, soos
die verlede. Los dit!
Greta se hand vlieg na haar
keel. "Ek is so jammer !"
Geneviéve glimlag weemoedig. "Dit was lank terug ..." Sy kyk stip na Dieter. "Ten minste het hy
my 'n seun gegee om hom te onthou. En nou moet ek en hy gaan, ons vertrek vroeg
môre oggend. Baie dankie vir u gasvryheid en die heerlike maaltyd." Sy staan op en plaas haar servet langs haar
bord.
"Geen nagereg nie?"
Dieter klink hoopvol.
"Nee dankie." Vasberade.
Conrad volg haar traag na hul
suite.
Nadat hy aan die slaap geraak het laat vaar sy
alle pretensie, val neer op die groot bed en laat haar hand oor die koue
satynlakens vee. Soos een dag lank
gelede maak die trane twee nat spore oor haar wange. Daardie dag in die stowwerige pad in St. Mere
Eglise, het sy haarself beloof dat dit die laaste trane is wat sy sal stort vir
‘n man. En vanaand het die verlede, wat
haar hele toekoms verander het, weer soos ‘n dief in die nag gekom, en nog ‘n
keer haar toekoms kom omdolwe.
Dieter het die ou verlange na
Conrad wakker gemaak. En soos altyd hamer die vrae in haar brein. Is hy getroud met eie kinders? Leef hy nog?
Waarom het hy nooit na haar kom soek nie? Kon sy so verkeerd wees? Jou
hart wou glo wat jou brein geweet het bestaan nie! Hy het jou nodig gehad. Hy het self so
gesê... En Dieter? Vir die groot
blonde Duitser sal sy altyd ‘n spesiale plekkie in haar hart hê, daar waar
niemand kan sien nie.
Sy staan sugtend op, vee die
trane sommer met die agterkant van haar hand weg en stap na die deur, toe 'n staccato
klop daarteen klink.
"Dieter ..."
"Kan ek inkom?"
Pleitend.
Sy staan teësinnig opsy.
“Jy het gehuil?” Dit lyk asof hy haar wil toevou in sy arms,
maar instede druk hy sy hande in sy broeksakke.
Sy kyk weg.
“Dit was net onverwags ... Ek
het gedink ek gaan jou nooit weer sien nie.”
Hy knik. “Conrad ....”
"Ja, Dieter. Hy is jou
seun ..."
Hy sak swaar in die leunstoel
by die deur neer, sy kop tussen sy hande.
Toe hy opkyk is daar trane in sy oë.
"Is jy nooit getroud nie?
"
"Nee."
"Die
man waarvan jy my daardie laaste dag
vertel het, die man wat jou toekoms onherroeplik verander het? "
Sy glimlag hartseer. "Jy
het onthou ..."
Hy staan op en stap tot voor
haar, sit sy groot hande sag op haar skouers.
“Geneviéve daar het nie ‘n dag verby gegaan dat ek nie aan jou gedink
het nie. Toe ek gesê het jy is deel van
my verlede wat my toekoms onherroeplik gaan verander, het ek nie geweet hoe
waar my woorde werklik was nie. “
Sy glimlag wrang. “En Conrad Dupont het toe nie so groot
invloed op my toekoms gehad as wat ek gedink het hy gaan hê nie. Dit was toe jy ... jou seun ...” Sy laat die
ongestorte trane van jare onbeheers oor haar wange stroom.
Hy vee dit af met sy
duim. "Mag ek hom sien ...?"
"Hy slaap."
"Ek ... ek sal hom nie steur
nie."
Conrad lê uitgestrek op sy rug en slaap, die
kombers akuins oor hom getrek. Dieter
kniel langs die bed, sy hand huiwerend bo dié van sy seun. Hy kyk op na Geneviéve wat onseker in die
kamerdeur huiwer.
“Hy
is my ewebeeld...” Met hierdie woorde stap hy stadig verby haar, uit by die
hotelkamer se deur. En weer uit my lewe.
Sy
staar hom oorbluf agterna en druk die deur sag toe. Moeg vir alleen wees, moeg gehunker na ‘n man
wat verdwyn het, en moeg gehunker na samesyn met ‘n man wat sy eie lewe en eie
gesin het...
Terug op L'Avenir dwaal sy die eerste week doelloos
deur die wingerde en vertrekke van die ou herehuis. Dan maak sy ‘n doelgerigte besluit om ‘n slot
op die kis van die verlede te plaas en dit nooit ooit weer oop te maak
nie. Haar wynbou is ‘n klein, maar
suksesvolle besigheid. Conrad moet eerste kom – Dieter en Conrad Dupont is nou
amptelik deel van die verlede, ‘n verlede waarin sy nie meer wil leef nie. Sy
wil nou in die hede leef en streef na ‘n gelukkige toekoms saam met haar seun. Ja, HAAR seun! In die verlede het baie gebeure plaasgevind
waaroor sy miskien geen beheer gehad het nie, maar nou het sy beheer oor haar
lewe en gaan sy seker maak dat dit so bly.
Sy gaan besoek gereeld vir ou
Pierre, wat botweg weier om by haar in die herehuis te kom intrek. Sy vrou is
jare terug oorlede en hy bly sielalleen in dieselfde huisie waar sy vir Conrad Dupont
ontmoet het. Sy weet nie presies hoe oud
hy nou al moet wees nie, want hy was al oud in die oorlog. Maar hy lyk dieselfde, net sy rug is meer
geboë, as wat sy onthou en die oumensvlekke op sy hande meer.
Pierre
gaan sit stadig agter die tafel in die kombuis.
“Ek hou van my huis.”
“Ek
en Conrad het jou nodig.”
"Jy moet trou. Dis nie goed vir Conrad om so sonder pa
groot te word nie." Sy staar
ingedagte by die venster uit na Michelle
se huis oorkant die straat. "Ek
weet .... daar is net niemand nie..."
"Is dit steeds Conrad
Dupont?"
Sy draai weg en verwyder die
kokende ketel van die gasstoof. “Ek wil
nie meer in die verlede leef nie.”
"Gaan na Michelle my
kind. Miskien weet sy hoe om hom te kontak. Sy sê hy het alles net so gelos toe
hy weg is .... Kry antwoorde en bêre dan
die verlede.”
Deel 7 - Die verraaier ...
No comments:
Post a Comment