Die
Duitser
“Aan die hef van die pyl was een van die arend se eie vere. Ons gee dikwels ons vyande die middele tot
ons eie vernietiging.”
Aesopus
Geneviéve is
vreesbevange. Selfs die wêreld waarin sy
haarself versteek het sedert haar eerste ondervraging, kan nie die gille wat sy
al heel oggend van êrens bo haar hoor, uitskakel nie. Sy is geweldadig behandel deur die Gestapo
troepe tydens haar eerste ondervraging, maar dit blyk nou niks te wees in
vergelyking met wat op haar wag nie. Sy
kruip dieper in die hoek toe sy voetstappe in die gang hoor aankom. Sy weet nie hoeveel meer sy kan verduur nie! Hulle het nog nie jou naels begin uittrek
nie... Sy ril liggies. Die voetstappe kom tot 'n stilstand.
Sy kyk stadig op. Dit is dieselfde
troep wat haar die vorige keer kom haal het.
"Ah, ons kan nog regop sit, kan ons...?" Hy sluit die traliehek oop en pluk haar regop
voordat hy haar hardhandig na buite stamp. Sy struikel, hy lag.
"Kom! Ons kan nie die Majoor laat wag nie!" Hy sleepdra haar die eindelose gang, op met
die trappe, na die klein kamertjie met die groot boom voor die venster...
‘n Naakte
gloeilamp hang aan ‘n koord uit die dak, die skerm lankal stukkend. Sy skreef
haar oë.
Die troep druk haar plat in 'n stoel. "Die Majoor sal nou hier wees."
Daar is bloedspatsels op die vloer voor haar voete ... Haar arms is lam. ‘n Yskoue vinger van vrees liefkoos haar
ruggraat, tot by haar stuitjie en sy skuif ongemaklik rond in die stoel. Sy
dwing haar lam, stywe vingers om haar bloese toe te trek, waar die knope
afgeskeur is. Sy staar gefassineerd na
haar kaal, vuil voete en wonder terloops wat van haar skoene geword het.
Die deur gaan oop en sy laat sak haar oë vinnig toe die groot blonde man se
oë waarderend oor haar beweeg.
"Kyk na my." Sy stem is sag.
Geneviéve staar vasberade na haar voete.
"Kyk na my ..." Sy ruk
terug toe hy sy groot hand onder haar ken sit en haar kop opdwing. "Jy is pragtig ..."
Sy ruk haar kop los en staar met tierende groen oë op in sy bloues ... oë
wat haar herinner aan Conrad se oë.
Die blonde Duitser
byt vies op sy tande, stap deur toe en pluk
dit oop. "Troep! 'n Voertuig!"
Hy klap die deur toe en wend hom na haar. "Jy kom saam met my."
Sy staan stadig op toe hy haar regop help, haar oë vasgenael op sy bloues.
En toe voel sy hoe die wêreld om haar tuimel.
Sy het gedink sy is sterkter as dit, maar waaragtig!
Die Duitser vou sy sterk arms om haar lyf toe sy haar bewussyn verloor en
staar gefassineerd na die lang wimpers wat beskermend oor die angs in haar oë
sak.
By die ou herehuis,
wat deur die SS opgekommandeer is en deur die offisiere as woonplek gebruik
word, dra hy haar na tweede verdieping
en lê haar versigtig op die bed neer voordat hy na die aangrensende badkamer
stap en die krane van die bad oopdraai.
Geneviéve kreun liggies en maak haar oë stadig oop. Haar spiere is seer en styf en sy het ‘n
kloppende hoofpyn. Waar is sy!? Sy
draai haar kop stadig, bang vir wat sy mag sien. Dit is ‘n luukse slaapkamer. Sy lê op ‘n groot outydse ledekant in die
middel van die kamer met sy donker hout meubels en duursame room en kobalt blou
sagte meublement. Sy beur orent.
"Ek het vir jou 'n bad voorberei ... Kan jy uittrek?" Hy staan in
die deur, wat sy vermoed na die badkamer lei.
Sy blonde hare is kort geskeer en hy het sy baadjie uitgetrek. Sy skarrel pynlik orent, toe hy ‘n tree in
haar rigting gee.
Geklee in slegs sy uniform se broek en ‘n hemp is daar geen twyfel aan die
krag wat in daardie gespierde, groot liggaam skuil nie. Sy probeer die knop van
vrees in haar keel wegsluk, maar dit word eenvoudig vervang met daardie yskoue
vinger van vrees wat stadig teen haar ruggraat afgly.
"Jy is vuil, Mamselle ... Gaan jy uittrek of moet ek ..."
Jy
het nie ‘n keuse nie, Geneviéve. Sy
stap moeisaam na die badkamer en laat haar klere argeloos op die vloer val. Sy struikel effens toe sy in die bad klim en
hy is langs haar, sy groot warm hande om
haar middel. Sy kyk verskrik op, maar
laat hom toe om haar te help om stadig in die warm water af te sak. Die snye op haar voorarms en bene brand soos
vuur toe die warm water daarmee in aanraking kom. Trane pers onwillekeurig uit
haar oë.
Toe sy opkyk nadat sy stadig in die water afgesak het, is die Nazi Majoor nie meer in die badkamer
nie.
Sy lê verward terug in die water. Waarom is sy hier? Wat wil hy van haar hê? ‘n Lamheid neem van haar hele liggaam
besit en sy maak haar oë toe. Vieslike
blou merke ontsier haar porseleinvel op haar bo arms, heupe, maag en bo bene.
Sy glimlag wrang. Daarvoor kan sy die vriendelike troep bedank! En wat
lê nou vir haar voor?
Sy maak haar oë oop toe sy stem van die deur opklink. "Trek hierdie aan wanneer jy klaar
is." Hy hou ‘n snoesige wit kamerjas
na haar uit.
Sy klim uit, draai 'n handdoek om
haar nat hare en trek die wit kamerjas versigtig aan. Sy stap teësinnig na die aangrensende
slaapkamer.
Hy sit op die bed, 'n klein noodhulptassie langs hom en beduie vir haar om
nader te kom. Sy gaan sit ‘n entjie van hom af op die bed, elke seer spier in haar
ligaam gespanne. Hy maak die tassie oop en berei watte voor met iets wat soos
ontsmetmiddel lyk. “Hou jou arms vir
my.”
"Hoekom doen jy dit?" Haar
stem is skor.
"Sit stil sodat ek hierdie sny kan ontsmet." Sy byt op haar tande
toe die ontsmetmiddel met haar vel in aanraking kom. Dit brand soos die seer in
hart oor Conrad.
Haar oë volg elke beweging wat hy maak in stilte totdat hy eventueel die
kassie netjies terugpak en op die tafel langs die bed neersit.
“Ek is jammer hulle het jou so verniel.”
Haar oë vlieg verbaas na syne, wat sag en opreg op haar rus.
“Wat wil jy van my hê? Waarom is ek hier?”
Hy gaan staan voor haar en trek haar stadig aan haar hande regop.
“Sal jy my glo as ek vir jou sê dat ek jou op die ingewing van die oomblik
hierheen gebring het?” Sy gesig is
ernstig. Sy blou oë beweeg stadig oor haar gesig.
Sy knik nadat sy die waarheid in sy oë gelees het. “En nou?”
Hy draai weg van haar, gaan staan voor die venster. “Jy is veilig hier. Dit is die offisiere se hoofkwartier in
Arromanches, maar ek skuif binnekort na St. Mere Eglise. Andersyds kan ek my optrede regverdig deur
aan te voer dat ek ‘n sleutellid van die weerstandsbeweging effektiewelik uit
die gemeenskap verwyder het ...”
Sy laat sak haar oë. Snaaks hoe
verligting deur ‘n mens se liggaam kan spoel soos lafende koue water in ‘n
situasie wat dit nie regtig regverdig nie.
Wat soos redding lyk, gaan nie gratis wees nie, daaraan het sy geen
twyfel nie. En sy staal haarself – want
het sy nie nou al geleer om die beste van elke vieslike situasie waarin sy
beland te maak nie? “Hoe weet julle ek
is ... was, ‘n sleutelpersoon?”
Hy draai na haar. ‘n Frons tussen sy oë, wat, dink sy terloops, geen
afbreek aan sy aantreklikheid maak nie.
“Daar is altyd iemand wat gretig is om inligting te deel in ‘n
gemeenskap soos hierdie.” Hy stap na die kamerdeur. “Ek het op die bedtafel vir jou medikasie
gelaat. Dit sal jou laat ontspan en die
pyn verlig.”
Sy staar verdwaas na die toe kamerdeur, waaragter hy verdwyn en sak op die
sagte bed neer.
Toe sy ure later wakker word is die kamer donker. Sy is bewus daarvan dat die Duitser langs
haar in die bed lê en sy draai stadig haar kop.
Hy lê op sy sy, sy kop gestut in sy hand. Wawyd wakker.
“Hoe voel jy?” Sy stem is sag en
warm, soos die duursame beddegoed wat snoesig om haar naakte liggaam vou.
“Die medikasie het gehelp. Dankie.”
Hy
glimlag, sy kan dit aan sy stem hoor.
“Ek is bly. Dit is amper tyd dat
jy weer neem.” En dan is sy warm lippe
op hare.
Vergoeding.
Haar siniese gedagtes verdamp toe hy
haar sag teen hom aantrek en vashou. “Ek
is jammer. Vir die hele gemors.”
Sy trek weg van hom. “Dankie dat jy my uit daai vervloekte sel en
van ‘n gewisse dood, of veel erger gered het...” En nou is ek ‘n Nazi se hoer.
Maar sy liefkosings is sag en
weldeurdag. En veel later het sy die
pynmedikasie blameer vir haar maklike oorgawe.
Want dit was so maklik om haarself oor te gee aan die hitte van sy
liggaam, sy soene en sy bed. Vaarwel Conrad. Die verraaier se gewetenlose gekonkel het my
aan die Duitser gegee.
Dieter Löbe, die
Duitser, is goed vir haar. Sy mag
gedurende die dag nie eintlik die huis verlaat nie, maar mag in die roos- en
kruietuin agter die huis wandel. Hy het haar
van 'n paar aandrokke, grimering en ander benodigdhede voorsien en sy het
gewoond geraak aan hom en die omstandighede waaronder sy hier woon. En dat sy veilig is.
Veilig. Sy verlustig haar in die
weelde van die woord en die wete.
En sy hou van Dieter Löbe. Niks meer en niks minder nie. Hulle kom goed oor die weg en verstaan mekaar.
Simbiose, noem die wetenskaplikes dit.
Die een het die ander nodig om voort te bestaan.
Hy het haar toegelaat, waarskynlik teen all reëls, om vir Pierre 'n boodskap te stuur. Met sy skuif na St Mère Eglise, neem hy haar
saam.
Hulle het gaan piekniek hou en vir lang ente gaan stap. Hulle het oor alles gesels, alles behalwe hul
persoonlike lewens. Die realiteit buite
die realiteit van die oorlog. Want die
oorlog is ‘n soort fanatsiewêreld wat tydelik bestaan. Wat dit voorgegaan het en wat dit sal volg is
nie in die nou ter sake nie. Die Duitser
het iemand nodig om hom te pantser teen die realiteit van die oorlog. Sy het hom nodig om die oorlog te oorleef.
Die plaaslike gemeenskap, aan die anderkant, is nie só vergewingsgesind nie en maak geen
geheim daarvan dat hulle haar verafsku nie.
‘n Vrou van losse sedes wat haar eie selfrespek verkoop vir die
ongekende luukshede van ‘n Duitse Offisier se houvrou.
Geneviéve draai die ander wang. Haar
posisie as die Duiser se hoer, bied aan haar ‘n besonderse geleentheid om die
Geallieerde saak te help. En Conrad se
opvolger, Edward, was vinnig om die gunstige situasie te kapitaliseer. Al wat
van haar vereis word is om haar oë en ore oop te hou en alle tersaaklike, of
spesifiek aangevraagde inligting deur te gee aan wie ook al as kontak vir haar
gestuur word. Die kok, die tuinier, ‘n jongseun wat loswerkies in en om die
huis doen. Met een goue reël – niks op
skrif nie. Geen bewyse nie. En deur haarself gewild te maak onder die
offisiere, en Dieter gelukkig te hou, is dit uiteindelik ‘n maklike taak.
Al hierdie
gedagtes maal deur haar kop. Sy kan
aanvoel dat iets aan die gebeur is.
Dieter en die ander offisiere is meer gereeld besig in vergaderings en
soms is Dieter baie stil en peinsend. En
die tipe inligting wat sy skielik versoek word om in te win bevestig hierdie
vae vermoede.
Sy vou haar arms beskermend om haar liggaam teen die koue windjie wat
opsteek vanuit die see, hier waar sy en Dieter in die tuin van die huis sit.
Dit raak elke dag vir haar duidelik dat Duitsland besig is om die oorlog te
verloor. Sy staar na die klein
figuurtjies op die strand wat besig is om hindernisse oral langs die kus op te
rig. Eergister het die Duitsers ‘n lyk
uit die see gepik met ‘n aktetas vol belangrike dokumente, vasgeketting aan die
liggaam se gewrig. Die offisiere was
gaande oor die grusame fonds. Vir Geneviéve, wat as buitestaander die voorreg
van objektiwiteit geniet, was dit duidelik dat so fonds op hierdie tydstip net
té fortuïnisties is.
Dieter sit en koerant lees en kyk glimlaggend
op toe sy omkyk. Haar oë rek verskrik
toe sy die seun oor die terras, reguit na haar aangestap sien kom. Wat besiel hom!
Dieter kyk ook stadig op om te sien
wat haar so verskrik laat lyk en staan op toe hy die seun sien.
Die kind swenk weg van Dieter en stap tot reg voor Genevive. "Jy is 'n hoer!"
Geneviéve hoef nie toneel te speel nie, sy is uit die veld geslaan en uiter
'n verskrikte snik toe hy haar hand gryp en dit spottend soen. Sy probeer
terugruk en voel hoedat hy iets in haar handpalm vasdruk. Sy bring haar hand stadig op om te sien wat
dit is maar die jongman se vuis sluit stewig om haar hand. Hy draai om en storm by die trappe af.
Dieter skud sy kop. "Ek sal julle Franse ook nooit verstaan
nie! Is dit nie die seun wat die
aflewerings vanaf die mark elke dag hierheen bring vir die kok nie?" Hy bied haar sy arm aan.
Genevive knik en vou haar hand stywer om die stukkie papier in haar palm. Sy merk nie Dieter se besorgde kyk nie.
In die voorportaal
verskoon sy haarself en haas haar na hul suite.
Sy sak op die toilet, agter die geslote badkamerdeur neer voordat sy met
hande wat bewe die flentertjie papier oopvou.
Edward vereis spesifieke inligting, puntgewys. Sy skeur die papiertjie in flenters en
spoel dit weg nadat sy die lysie gememoriseer het. En sy weet dat die Geallieerdes hierdie
inligting vir 'n spesifieke doel benodig want die risiko wat Edward geneem het
is groot.
Deel 5 - Bevryding ...
No comments:
Post a Comment