Restitusie
“Dink jy ‘n mens sal liefde ook kon restoureer?”
Fanie Olivier
“Skimmelig” (1987)
In London is dit ‘n grou, mistige dag. Geneviéve vryf haar hande dankbaar toe sy haar
snoesige suite in die hotel binnestap.
Sy sit haar handtas op die tafel by die deur neer en vou die nota wat
die klerk by ontvangs aan haar oorhandig het, oop.
Dear Mamselle
Mister Löbe asked me to convey his regtrets
for not being able to meet you. He and his
family had some last minute shopping to
do. However, they are looking forward to
having dinner with you this evening at eight.
Yours truly
Edward Hometown (manager)
Sy vou die nota teleurgesteld toe. Sy is angstig
om haar kind te sien. Geneviéve kyk op haar horlosie en byt haar onderlip
nadenkend. Nog ‘n uur en ‘n half! Sy stap na die slaapkamer, waar die portier
haar tasse op die banke neffens die kas neergesit het en pak haar klere tydsaam
uit. Sy hang die sjampanjekleurige satyn rok teen
die kasdeur op en staan terug om dit krities te bekyk. Sy plaas ‘n paar swart stilletos soos verlore
voete, by die rok se soom en drapeer ‘n lang string pêrels om die hanger se
draadnek. Perfek.
Nog
‘n uur.
Sy
draai die bad se krane oop en sak minute later behaaglik af in die warm
water. Stoom omskep die kliniese vertrek
in ‘n fantasiewêreld. Sy maak haar oë
toe en haar gedagtes stap ver. Eers na
Conrad Dupont, altyd eers Conrad, en
dan na Dieter en laastens na haar seun, die spil waarom haar lewe wentel. As daar een belangrike lewensles is wat sy in
haar lewe geleer het dan is dit, dat die lewe te kosbaar, en te kort is, vir verwyte en spyt.
Jy moet altyd die beste maak van dit wat jou toegedeel word. En die manier hoe jy op jou hand kaarte
reageer, is ‘n skets vir almal om te sien, wie jy werklik is.
Sy
klim uit die bad en maak reg vir ete, saam met haar seun en sy nuwe familie.
Stiptelik om agt stap sy die
eertkamer binne. Die hoofkelner stap
haar dadelik tegemoet. “Miss La
Rouchefoult? Please follow me?”
Die
tafel is effens versteek agter ‘n groot varing, in die hoek van die
eetkamer. Daar sit een man by die tafel. Sy hoof is gebuig en sy rug na haar. Sy wil
omdraai, maar dan kyk die vreemdeling op...
Hy glimlag vir haar.
Sy voel hoe die aarde onder
haar voete beweeg en gryp na die stoel voor haar se ruglening.
Hy staan op.
“Geneviéve...”
“Conrad!” Haar uitroep is niks meer as ‘n fluistering
nie. Hy glimlag steeds en hou sy arms na
haar uit.
En
sy stap, soos die heel eerste keer, gewillig, sonder enige vrae in sy omhelsing
in. Hy ruik na son en wind. Sy nestel haar kop teen sy borskas. “Conrad Dupont...”
Hy
stoot haar ‘n entjie weg. “Kom sit. Ek wil alles hoor van jou lewe.”
Sy
neem bewerig plaas op die aangebode stoel.
“Hoe het jy geweet ...? Wat doen jy hier?”
Hy
lag saggies. “Jy het blykbaar ‘n baie
goeie vriend onder die Duitsers gemaak!
Ene Dieter Löbe het my opgespoor deur hoogs uitsonderlike kontakte en
weermagrekords. Ek het amper nie gekom
nie!” Sy gesig versomber. “Ek het gedink jy is dood.”
“Sy
vee die trane wat oor haar wange stroom ongeduldig af. “Ek weet.
Michelle het my gesê.”
Hy
skink vir elkeen ‘n glas van die vonkelwyn op die tafel, en lig sy glasie. “Op die toekoms!”
Sy glimlag en klink haar glas
teen syne. “Sur l'avenir.” Onseker. “Daar is
baie wat jy nie weet nie... Conrad, ek het ‘n seun
...”
Hy
lag. “Jy gaan my alles vertel, maar nie
nou nie.” Hy staan op en hou sy hand na
haar uit. “Kom!”
Tientalle kerse brand gesellig in sy
hotelkamer. ‘n Bos rose hou ‘n bottel
vonkelwyn en twee glase geselskap.
Hy vou haar hand toe in syne en
soen dit sag. "Jy is selfs mooier
as wat ek onthou ...."
Epiloog
Vivian kry haar ouma met trane op haar
oumenswangetjies.
"Grandmére! Wat is fout? Hoekom huil jy?" Sy kniel ontsteld langs haar ouma en neem die
foto.
"Wie is dit?"
"Dit is jou oupa my kind
... Hierdie foto is in London geneem met die begin van die oorlog."
Vivien neem die foto by die ou
vrou. "Hy was ‘n aantrekliek derduiwel! Wel, jy kan nie die heelaand hier
sit en tranerig na ou vergeelde fotos van Oupa staar nie. Oom Conrad gaan nou hier wees en ma en pa wag al
in die sitkamer by die Kersboom."
Geneviéve lag en sien voor
haar geestesoog haar klein borrelende seuntjie wat deesdae 'n suksesvolle dokter
is. "Nou kom ons gaan wag dan maar saam." Sy staan moeilik op en haar
tweede seun se dogter help haar geduldig op.
"Weet ouma, ek gaan ook
'n dokter wees, nes oom Conrad."
"En wie gaan na die
wynlandgoed omsien as jou Pa wil aftree?"
"My broer. Hy en oupa was die heeldag in die kelders
besig met daai botteltjies en goed!" Sy trek haar neusie vieserig op.
Geneviéve lag en vou haar vingers beskermend om
die verlede in die boksie.
In die sitkamer val Conrad se oog dadelik op die
houertjie toe hy stadig sy vrou tegemoet stap.
"Wat het jy daar?"
Sy glimlag en vir hom lyk sy
soos die eerste dag wat hy haar gesoen het.
"Ons verlede my
skat." Sy draai die rooi lint
versigtig om die houertjie en saam knoop hulle dit stewig toe. Op die stoep begin die honde blaf toe Dr
Conrad Le Rouchefoult Löbe se motor stilhou.
NOTA
Alle karakters en name in hierdie mini roman is
fiktief.
Die
Britse Spesiale Operasie Uitvoerende Gesag (British
Special Operations Executive – SOE) is gestig tydens die Tweede Wêreldoorlog ( in
die somer van 1940), kort nadat Duitsland groot dele van Europa beset het. Die agente moes hoofsaaklik toesien tot die
toerus, oplei en bystand verleen aan die plaaslike weerstandsbewegings. Die SOE agente is gestuur na vyandelike
gebiede en in groepe van twee tot dertig ontplooi, om nou saam met die
plaaslike inwoners te werk ten einde die Duitse oorlogpoging in so groot mate
moontlik te saboteur (veral fabrieke, kommunikasielyne en kraglyne).
Conrad
Dupont sou dus nie alleen ontplooi gewees het in Arromanches nie, maar ten
minste saam met ‘n radio operateur.
In
die verhaal is Geneviéve die radio operateur.
So ‘n posisie sou in alle waarskynlikheid gevul gewees het deur ‘n
meisie vanuit FANY (First Aid Nursing
Yeomanry) wie opgelei was as radio operateur ( soos byvoorbeeld Jacqueline
Nearne en Odette Sansom).
Dit
was alombekend dat die Gestapo hul gevangenes gemartel het – soos in die geval
van Odette Sansom (sy was die radio operateur vir Peter Churchill. Beide is as
SOE agente in Frankryk ontplooi en is hulle deur ‘n lid van die
weerstandsbeweging verraai, waarna hul deur die Gestapo ondervra is en in ‘n
konsentrasiekamp beland het. Hulle het getrou na die oorlog). Violette Szabo
was nie so gelukkig nie. Sy is erg gemartel deur die Gestapo nadat sy gevang is en
is op 26 Januarie 1945 tereggestel.
Geneviéve was dus gelukkig om uit die Gestapo se kloue gered te word
deur die SS Majoor, Dieter Löbe. Hulle
verhaal is natuurlik blote fiksie.
Die
verwysing na die Geallieerde lyk wat uitgespoel het, kompleet met briewetas vol
“belangrike” inligting is gebaseer op ‘n werklike gebeurtenis, georkestreer
deur die SOE en OSS (Office of Strategic
Services van Amerika. Die SOE en OSS
het sedert 1943 saamgewerk.) om die
Duitsers van vals inligting te voorsien kort voor D-dag (operasie Overlord).
Streng
gesproke sou Conrad Dupont oor sy eie radio beskik het – die SOE agente is
byvoorbeeld voorsien van ‘n sogenaamde “biscuit
tin” radio (MCR-1). Die radio waarna ek verwys in die verhaal, welke
Geneviéve beman het sou ‘n sogenaamde “suitcase
radio” (Tipe B MK II of Tipe A MK III) gewees het. Eersgenoemde het slegs opvangsgebied van 800
kilometer gehad, maar onder goeie omstandighede dubbel soveel. Die radio beheerkamer sou ook nie onder
werklike omstandighede in ou Pierre se beskeie woning gewees het nie, maar
eerder in ‘n hut of afgeleë area omring deur groot antennas om te verhoed dat
die Duitsers nie die seine met hulle sogenaamde radio direction finding vehicles kon opspoor nie.
Nietemin
– waarheid is soms vreemder as fiksie.
Niks wat hierbo beskryf is so verregaande, dat dit nie werklik net so
kon plaasvind nie...
'n Spesiale woord van dank aan my goeie vriend VvV (ex-soldaat), vir die deurgaan en korrigeer van militêre inligting. Alle foute is steeds my eie.
'n Spesiale woord van dank aan my goeie vriend VvV (ex-soldaat), vir die deurgaan en korrigeer van militêre inligting. Alle foute is steeds my eie.
DIE EINDE
No comments:
Post a Comment