Die Verraaier
“Wat die mens is, word hy deur die beweegredes wat hy sy eie gemaak het.”
Karl Jaspers
(1838 tot 1969)
Michelle lyk veel ouer as haar jare. Sy is besig om wasgoed agter die huis op te
hang. Sy het gewig opgetel.
Sy luister uitdrukkingloos na Geneviéve
en lag dan krakerig. "Dink jy nie
ek sou hom self kontak as ek geweet het hoe nie?" Sy tel die leë wasgoedmandjie op en stap by
die kombuis in. Nadat sy die mandjie op
die skoongeskropte houttafel neergesit het klim sy die trappe na die kamer waar
hy geslaap het. Geneviéve is geskok as sy besef dat Michelle alles werklik net
so gelos het.
Die gekreukelde hemp, wat sy
daardie laaste aand aangehad het, voor die Gestapo haar kom haal het, lê op die
voetenent van die bed , net waar hy dit die laaste keer gegooi het. ‘n Eensame paar skoene staan verlate onder
die bedkassie. En niks persoonliks
nie. Nie ‘n notaboek, bybel of foto nie.
Niks.
Geneviéve
steek haar hand stadig na die hemp uit, en die nostalgiese stilte bars aan
skerwe.
“Nee
los! Jy raak aan niks nie!” Michelle
pluk Geneviéve aan haar arm weg van die bed.
"Hy het my liefkoos op
daardie bed toe ons saam ..." Sy
bly abrup stil. "Toe verdwyn hy net sonder 'n woord. Sonder om totsiens te sê. Nes my man. Ek het gedink as die Gestapo jou in hul kloue
gehad het sou hy hom na my wend, van jou vergeet ..."
Geneviéve kyk verbaas na die verwaarloosde
vrou met die stukkende siel. "Jy!
Jy het my verraai? En al die sabotasiepogings?"
Die verslete, lewensmoeë vrou
trek haar skouers nonchalant op. "Dit
was oorlog. Ek was lief vir hom. Hy het
my nie eens raakgesien nie, behalwe daardie een aand ... Hy het net oë gehad
vir jou. Altyd na jou teruggekeer. Selfs na die oorlog ... Ek het vir hom gesê
jy is dood, sodat hy kon vergeet ... So mooi man. Gesond, aantreklik. Dis nie reg dat sy oë so hartseer moet wees
nie."
Geneviéve kan nie langer
luister nie. Sy hardloop snikkend na
buite waar die son vrolik op die geel madeliefies voor die deur skyn maar in
haar brein speel die mal vrou se skril stem oor en oor, soos 'n gekrapte plaat:
" Ek het hom gesê jy is dood. Ek het gesê jy is dood...."
Sy soek vertroosting in Pierre
se oumenshuisie en maak haar hart oop, ook oor Dieter en Parys. Hy skud net sy kop. “Ja my kind.
In ‘n oorlog is daar nooit rerig net reg en verkeerd nie.” Hy steun swaar op sy kierie en staan kreunend
op. “Jy beter my help om my tas daar
bo-op die kas af te kry. Het jy vir my
‘n kamer reg daar op die plaas?”
Geneviéve spring op en gooi
haar arms om sy nek. “Daar is vyf
slaapkamers waaruit jy kan kies!”
“Hoekom een mens ook so baie
vertrekke nodig het ...”
"Dit is Conrad se erfgoed
Oom. Kom help my hier." Sy sleep die tas deur die voorhuis na Pierre
se kamer en begin van sy klere inpak.
Die ou man staar haar peinsend aan vanaf die deur.
"Hoekom gaan soek jy hom
nie? "
"Waar begin ek? Ek dink in elk geval nie hy is na Engeland na
die oorlog nie. Hy het my vertel van sy
plaas in Suid Afrika. Dit was bestem dat
ons nooit saam moet wees nie. Ons was
twee pionne, saamgegooi deur die oorlog. "
Nadat sy seker gemaak het Pierre is tevrede met sy
slaapkamer en hy saam met Conrad na die wingerde is gaan sit Geneviéve agter
haar lessenaar. Sy sit nog en staar nikssiende na die ou man en seun in die
wingerd toe die huishoudster saggies klop. "Hier is iemand om u te sien, Mamselle."
Geneviéve sug. "Wie is
dit?"
"Ek weet nie Mamselle.
Hulle wou nie sê nie."
Deel 8 - Die Opoffering ...
No comments:
Post a Comment