Wednesday, August 19, 2015

Geneviéve - Bevryding (Deel 5)


Bevryding
“Wat kan ons doen as om stil te wees, bitter te swyg en wag, stom, op die wraak van ons broers wat moet kom?”
N.P Van Wyk Louw, “Die Halwe Kring”
1937

Op 6 Junie 1944, maande later, bevry die Amerikaanse magte die klein Franse kusdorpie, Ste Mere Eglise.  D-dag se eerste sukses! Geneviéve kyk met gemengde gevoelens na die gewonde soldate wat in rye verby haar stroom.
Die Amerikaanse soldate wat agtergelaat word om kommunikasielyne te herstel en die dorp te beset word op die hande gedra deur die plaaslike bevolking.

Dit blyk dat hul bevelvoerder gewapen gekom het met volledige kennis van Geneviéve se rol as spioen en hoewel baie van die dorpsmense haar steeds op ‘n afstand hou, het sy minstens enkele grade in aansien gestyg.  Steeds ‘n hoer, maar ten minste ‘n patriotiese een...
Sy is haastig om terug te keer na Arromanches en Pierre, maar  hulle wil haar nie toelaat om te reis, voordat die hele area nie beveilg is nie en al die troepe nie geland het nie.  Daar is, is sy meegedeel, vyf strande wat beveilig moet word, vanwaar die geallieerde troepe na die binneland moet ontplooi. Dit beloof ‘n bloedige geveg te wees wat voorlê.
‘n Groot getal van die Duitse troepe het teruggeval na die binneland toe dit duidelik word dat die Geallieerde troepe die oorhand kry in St. Mere Eglise.  Een van die offisiere wat sy pos tot op die laaste beman het, is Dieter, met die gevolg dat hy haar nou as krygsgevangene van langs ‘n Willy’s Jeep moet groet.
"Jy is waarskynlik een van die mense wat meegewerk het om ons val te bewerkstellig, maar ek was nie vir een oomblik spyt dat ek jou by my gehad het die laaste jaar nie. En ek sal ook nooit wees nie."
Sy sluk aan die knop in haar keel. “En ek sal jou ewig dankbaar bly dat jy my van gewisse dood, of veel erger ... gered het, Dieter.  Dankie.”
Met 'n melancholiese glimlag om sy lippe haal hy ‘n eenvoudige goue troupand uit sy sak en steek dit stadig aan sy ringvinger.  “So het ons almal maar ons geheime.”
Geneviéve se oë rek geskok.  “Dieter...!”  Hoe kon hy dit aan sy vrou doen ?
Dieter glimlag hartseer toe hy die skok op haar gelaat vertolk. " Sy sal, natuurlik, nooit weet nie. Dit is nou deel van die verlede .... 'n Verlede wat die toekoms, vir my, onherroeplik verander het."  Hy sit sy hand sag op haar wang. “Jy sien Geneviéve, toe ek jou daardie dag na my kamer geneem het, het ek dit sonder enige voorbedagte rade of beplanning gedoen.  Ek kon net nie toelaat dat jy nog ‘n slagoffer van die Gestapo rampokkers word nie.  Maar ek het nooit ooit voorsien dat ek ... dat ek my hart op jou gaan verloor nie. Ek is lief vir jou Geneviéve, en ek sal altyd wees.”
            Trane loop nou skaamteloos oor haar wange.  Sy leun oor en soen hom sag op sy mond. "Vir ons is die oorlog nou amper verby.  Wees goed vir jou vrou ... soos jy vir my was ... Ek wens ... ek wens ek kon vir jou sê dat ek jou ook liefgekry het, soos wat jy my liefhet, maar ek kan nie, Dieter.  ‘n Donkerkop man het met my hart saamgeneem toe hy Frankryk verlaat het. Hy was ‘n SOE agent wat vir  ses maande in Arromanches gestasioneer was."  Dit is die eerste keer dat hulle enige persoonlke inligting uit hul verlede met mekaar deel.

Die Duitser klim in die wagtende voertuig.  Hy lig sy hand stadig en salueer informeel toe die Willy’s Jeep begin beweeg. Die lawaai en stof omvou hom en sy bewaarders.
Sy weet nie hoe lank sy daar gestaan het nie.  Nat traanspore op haar wange.  Uit 'n nabygeleë huis kom die vrolike klanke van musiek en gelag. Glasies wat klink.
Sy draai verwese om en stap na die huis wat sy met Dieter gedeel het. 'n Franse meisie verdwyn laggend in een van die kamers saam met 'n Amerikaanse soldaat.
Is sy beter as ek? Ten minste slaap sy nie saam met die vyand nie .  Die Amerikaanse soldaat is maar net nog 'n man ... Sy klap die deur van die kamer toe. 'n Slet is 'n slet. 'n Man bly 'n man ... Duitser of Amerikaans ... of Suid Afrikaans ... Sy huil haarself aan die slaap.

‘n Maand later stap sy  haar huisie met gemengde gevoelens binne wat deur Pierre in stand gehou is in haar afwesigheid. Hy oorhandig die foto wat Conrad vir haar gelaat het sonder ommehaal van woorde.
En die lewe keer stadig terug na normaal. Haar gedagtes wentel om maniere om Conrad te kontak, hom op te spoor. Die man wat sy korter geken het as vir Dieter en op wie sy haar hart verloor het.  Onherroeplik, soos die verlede. Sy bêre sy foto versigtig in haar Bybel.
'n Week later bevestig die plaaslike geneesheer haar vermoede.  Sy is swanger.

So het haar en Dieter se verlede saam  ook haar toekoms onherroeplik verander...  En sy neem Conrad se foto en plaas dit in ‘n kartondosie met ‘n rooi lint wat daardie deel van haar verlede wegsluit.

            Op die dag wat Die Baba gebore word reën dit sag en aanhoudend buite. Die baba het Dieter se oë, Dieter se blonde hare en Dieter se mond.  Sy noem die seuntjie Conrad ...

Deel 6 - Die Weersiens ...

No comments:

Post a Comment