Monday, August 24, 2015

Geneviéve - Die Opoffering (Deel 8)


Die Opoffering
“Daar kom ‘n tyd wanneer die leuenaar ook ontdek dat die waarheid sy beste vriend sou wees, maar dan vind hy hy het hom vervreem.”
C.J Langenhoven
“Ons weg deur die wêreld”  (1913)

Geneviéve steek vas in die sitkamer se deur.   Haar hand fladder na haar keel.  Voor die groot venster, met die prentjiemooi uitsig op die wingerde voor die huis, staan Dieter, met sy rug na haar gekeer.  Sy vrou sit op die leunstoel voor die kaggel, haar hande senuagtig in haar skoot saamgeklem.
            “M’sier Löbe ...” Haar stem is sag en huiwerig.  Hy draai stadig om. Sy vrou kyk op.
"Geneviéve.”  Hy stap na sy vrou toe en plaas sy hand op haar skouer.  “Ek het Greta alles vertel. "  Geneviéve sak op die rusbank neer.  Greta staan stadig op.
"Dis verby.  Ek blameer jou nie ... Dit was oorlog en wel ... dit is nou verby en ons almal moet voortgaan met ons lewens."
Geneviéve knik, laat sak haar kop en sluk aan die trane . Dieter kom kniel voor haar.  "Ek moes net my seun weer sien.  Ek is jammer ek is weer terug in jou lewe.”
Sy kyk op.  Sy blou oë rus met soveel emosie op haar.  Oë wat sy vrou nie kan sien nie.
“Ek en Greta het gewonder of ... of Conrad hierdie Kersfees by ons kan spandeer?"
Geneviéve hou sy oë gevange met hare waarin woede stadig opstoot. Hoe durf hy dit wat hare is nou van haar wil wegneem?  
Maar dan sien sy die liefde in sy oë en  weet dat hy nooit vir Conrad van haar sal wegneem nie.  En sy besef dat dit nie sy is wat die grootste opoffering maak nie.  Dit is Greta, onwetend.  En terwyl sy diep in Dieter se oë kyk weet sy – hy het sy vrou nie alles vertel nie. Greta weet nie van sy liefde vir haar, Geneviéve nie.
Sy staan stadig op en stap om Dieter, weg van sy veelsprekende oë. "Wat sê ek vir hom ...?"
"Die waarheid ... My seun moet weet wie sy pa is. Die res laat jy in my en Greta se hande. Hy is my kind ook Geneviéve, ek sal niks doen om hom te na te kom nie.”
Sy knik.  "Ek weet...”  Sy stap deur toe.  “Gee my asseblief eers geleentheid om met hom te praat.  Ek sal jou laat weet.”
“Is môre te gou?”
Sy skud haar kop.  “Verskoon my.”

"Laat hom gaan kind.  Dit is die regte ding om te doen.  Hy sal terugkom ...."  Pierre staan met beide hande gevou bo-op sy kierie langs Geneviéve, waar sy arms gevou staan en kyk hoe Pierre met sy hond op die gras baljaar.
            “Ek is bang om hom te sê.”
Pierre sit sy hand op haar arm.  “Enige seun wil graag ‘n vader hê.  En hy het reeds vir Dieter ontmoet.  Ek dink jy onderskat jou seun.”

Conrad hou die paadjie wat tussen die wingerde deur kronkel opgewonde dop.  “Hoe laat kom hulle, Maman?”
            Sy kom staan agter hom en sit beide hande op sy skouers.  “Hulle sal nou enige oomblik hier wees.”  Sy vee vinnig die trane wat uit haar ooghoeke pers af en gaan sit op die leunstoel by die kaggel.  Conrad het eers geen reaksie getoon toe sy hom vertel het nie.  Hy het voor hom uitgestaar en haar toe begin peper met vrae.  Sy het elke oomblik van die hele beproewing getwyfel of sy die regte ding doen.  Nadat sy hom van antwoorde en verduidelikings na die beste van haar vermoë voorsien het, het hy sy hond geroep en vir die res van die dag verdwyn.  Toe hy gisteraand aan die etenstafel verskyn was daar traanspore op sy wange en haar hart wou breek.  Vanoggend was hy ‘n ander kind.  Uitgelate.  Opgewonde.  Omdat hy ‘n Pa het.
“Daar kom hulle, Maman!”  Sy kan sien hy vind dit moeilik om stil te staan.  Ma en seun kyk woordeloos hoe die voertuig tot stilstand kom.  Dieter is alleen.
Conrad se hand kruip stadig binne in hare en saam wag hulle dat Dieter by die sitkamer instap.  Hy steek in die deur vas toe hy hulle daar voor hom sien staan.  Die gesin wat syne kon wees ...  Conrad se seunskind-ogies groot met afwagting en Geneviéve se hele wese ‘n prentjie van miserie.
“My Ma sê jy is my Pa.  Sy sê jy was baie goed vir haar in die oorlog, en toe is jy gevang en sy het gedink jy is dood.  Sy het nie vir my gejok oor jou dood nie. Of dat jy ‘n held was nie.”
Geneviéve sien hoe Dieter sluk en sy byt met mening haar trane terug.  Hy knik ernstig, kom nader en steek sy hand na sy seun uit.  “Dit is die waarheid, “ jok hy. Conrad huiwer en dan skud hy die aangebode hand.  Hy trek sy handjie uit dié van die groot man en dan gooi hy sy arms om Dieter se nek. 
“Jy is my Pa! Sjoe ek kan dit amper nie glo nie!”
Geneviéve kan nou nie meer die trane keer nie.  Selfs Dieter se oë swem in trane, daar waar hy kniel, met die seuntjie in sy arms.
Sy sluk, probeer haar stem so normaal as moontlik hou.  “Sy skool sluit oor twee weke.  Dan mag hy maar saam met jou, julle gaan.”
Dieter maak sy oë ‘n oomblik toe en maak homself los uit sy seun se omhelsing.
"Dankie. Dankie Geneviéve.  Ek wens ek kon jou vergoed vir jou
goedhartigheid ... ek wens daar was ‘n manier om jou te vergoed vir elke verkeerde daad wat jou aangedoen is in die oorlog."
            Sy druk haar hand voor haar mond en verwens elke vet traandruppel wat vinniger as sy voorganger oor wange rol.
            “Maman! Kan ek vir ... M’Sier Löbe ... vir my Pa, my hond gaan wys?”
            Sy kan net knik.

Geneviéve huil haarself elke aand aan die slaap sedert Dieter 'n week gelede vir Conrad kom oplaai het.  Sê nou hy hou hom in Duitsland? Wat as Conrad self nie wil terugkom nie ...  sê nou! Wat as!
Die dae sleep verby en sy loop draaie om die Kersboom wat ou Pierre en Tinette, die huishoudster,  in die eetkamer staangemaak het. Dit sal Conrad se eerste Kersfees weg van die huis wees!

'n Week voor Kersdag lui die telefoon.  Sy raap dit opgewonde op, verwag haar seun se uitbundige stem.  
Maar dit is Dieter. "Conrad mis jou! Waarom kom jy nie vir die Kersvieringe na London nie?"
"Ek dag julle is in Munich ..."

"Nee! Ons het op die ingewing van die oomblik besluit om hierdie jaar Kersfees by Greta se ouers te vier.  Hulle het hierheen getrek na die oorlog.  Sê jy sal kom. " En effens sagter.  "Ek mis jou ook."
Deel 9 - Restitusie, Epiloog en Nota

No comments:

Post a Comment