Thursday, August 27, 2015

Geneviéve - Die Einde (Restitusie, Epiloog en Nota)


Restitusie
“Dink jy ‘n mens sal liefde ook kon restoureer?”
Fanie Olivier
“Skimmelig” (1987)

In London is dit ‘n grou, mistige dag.  Geneviéve vryf haar hande dankbaar toe sy haar snoesige suite in die hotel binnestap.  Sy sit haar handtas op die tafel by die deur neer en vou die nota wat die klerk by ontvangs aan haar oorhandig het, oop.
           
Dear Mamselle
Mister Löbe asked me to convey his regtrets for not being able to meet you.  He and his family had some last minute  shopping to do.  However, they are looking forward to having dinner with you this evening at eight.
Yours truly
Edward Hometown (manager)

Sy vou die nota teleurgesteld toe. Sy is angstig om haar kind te sien. Geneviéve kyk op haar horlosie en byt haar onderlip nadenkend.  Nog ‘n uur en ‘n half!  Sy stap na die slaapkamer, waar die portier haar tasse op die banke neffens die kas neergesit het en pak haar klere tydsaam uit.   Sy hang die sjampanjekleurige satyn rok teen die kasdeur op en staan terug om dit krities te bekyk.  Sy plaas ‘n paar swart stilletos soos verlore voete, by die rok se soom en drapeer ‘n lang string pêrels om die hanger se draadnek.  Perfek.
            Nog ‘n uur.
            Sy draai die bad se krane oop en sak minute later behaaglik af in die warm water.  Stoom omskep die kliniese vertrek in ‘n fantasiewêreld.  Sy maak haar oë toe en haar gedagtes stap ver.  Eers na Conrad Dupont, altyd eers Conrad, en dan na Dieter en laastens na haar seun, die spil waarom haar lewe wentel.  As daar een belangrike lewensles is wat sy in haar lewe geleer het dan is dit, dat die lewe te kosbaar, en te kort is, vir verwyte en spyt.  Jy moet altyd die beste maak van dit wat jou toegedeel word.  En die manier hoe jy op jou hand kaarte reageer, is ‘n skets vir almal om te sien,  wie jy werklik is.
            Sy klim uit die bad en maak reg vir ete, saam met haar seun en sy nuwe familie.
Stiptelik om agt stap sy die eertkamer binne.  Die hoofkelner stap haar dadelik tegemoet.  “Miss La Rouchefoult?  Please follow me?”
            Die tafel is effens versteek agter ‘n groot varing, in die hoek van die eetkamer.  Daar sit  een man by die tafel.  Sy hoof is gebuig en sy rug na haar. Sy wil omdraai, maar dan kyk die vreemdeling op...  
Hy glimlag vir haar.
Sy voel hoe die aarde onder haar voete beweeg en gryp na die stoel voor haar se ruglening.
Hy staan op.
“Geneviéve...”
            “Conrad!”  Haar uitroep is niks meer as ‘n fluistering nie.  Hy glimlag steeds en hou sy arms na haar uit.
            En sy stap, soos die heel eerste keer, gewillig, sonder enige vrae in sy omhelsing in.  Hy ruik na son en wind.  Sy nestel haar kop teen sy borskas.  “Conrad Dupont...”
            Hy stoot haar ‘n entjie weg.  “Kom sit.  Ek wil alles hoor van jou lewe.”
            Sy neem bewerig plaas op die aangebode stoel.  “Hoe het jy geweet ...? Wat doen jy hier?”
            Hy lag saggies.  “Jy het blykbaar ‘n baie goeie vriend onder die Duitsers gemaak!  Ene Dieter Löbe het my opgespoor deur hoogs uitsonderlike kontakte en weermagrekords.  Ek het amper nie gekom nie!”  Sy gesig versomber.  “Ek het gedink jy is dood.”
            “Sy vee die trane wat oor haar wange stroom ongeduldig af.  “Ek weet.  Michelle het my gesê.”
            Hy skink vir elkeen ‘n glas van die vonkelwyn op die tafel, en lig sy glasie.  “Op die toekoms!”
Sy glimlag en klink haar glas teen syne.  Sur l'avenir.” Onseker.  “Daar is
baie wat jy nie weet nie... Conrad, ek het ‘n seun ...”
            Hy lag.  “Jy gaan my alles vertel, maar nie nou nie.”  Hy staan op en hou sy hand na haar uit.  “Kom!”

Tientalle kerse brand gesellig in sy hotelkamer.  ‘n Bos rose hou ‘n bottel vonkelwyn en twee glase geselskap. 
Hy vou haar hand toe in syne en soen dit sag.  "Jy is selfs mooier as wat ek onthou ...."

Epiloog

Vivian kry haar ouma met trane op haar oumenswangetjies.
"Grandmére! Wat is fout? Hoekom huil jy?"  Sy kniel ontsteld langs haar ouma en neem die foto.
"Wie is dit?"
"Dit is jou oupa my kind ... Hierdie foto is in London geneem met die begin van die oorlog."
Vivien neem die foto by die ou vrou. "Hy was ‘n aantrekliek derduiwel! Wel, jy kan nie die heelaand hier sit en tranerig na ou vergeelde fotos van Oupa staar nie.  Oom Conrad gaan nou hier wees en ma en pa wag al in die sitkamer by die Kersboom."
Geneviéve lag en sien voor haar geestesoog haar klein borrelende seuntjie wat deesdae 'n suksesvolle dokter is. "Nou kom ons gaan wag dan maar saam." Sy staan moeilik op en haar tweede seun se dogter help haar geduldig op.
"Weet ouma, ek gaan ook 'n dokter wees, nes oom Conrad."
"En wie gaan na die wynlandgoed omsien as jou Pa wil aftree?"
"My broer.  Hy en oupa was die heeldag in die kelders besig met daai botteltjies en goed!" Sy trek haar neusie vieserig op.

Geneviéve lag en vou haar vingers beskermend om die verlede in die boksie.  

In die sitkamer val Conrad se oog dadelik op die houertjie toe hy stadig sy vrou tegemoet stap.
"Wat het jy daar?"
Sy glimlag en vir hom lyk sy soos die eerste dag wat hy haar gesoen het.
"Ons verlede my skat."  Sy draai die rooi lint versigtig om die houertjie en saam knoop hulle dit stewig toe.  Op die stoep begin die honde blaf toe Dr Conrad Le Rouchefoult Löbe se motor stilhou.


NOTA
Alle karakters en name in hierdie mini roman is fiktief.
            Die Britse Spesiale Operasie Uitvoerende Gesag (British Special Operations Executive – SOE)  is gestig tydens die Tweede Wêreldoorlog ( in die somer van 1940), kort nadat Duitsland groot dele van Europa beset het.  Die agente moes hoofsaaklik toesien tot die toerus, oplei en bystand verleen aan die plaaslike weerstandsbewegings.  Die SOE agente is gestuur na vyandelike gebiede en in groepe van twee tot dertig ontplooi, om nou saam met die plaaslike inwoners te werk ten einde die Duitse oorlogpoging in so groot mate moontlik te saboteur (veral fabrieke, kommunikasielyne en kraglyne).
            Conrad Dupont sou dus nie alleen ontplooi gewees het in Arromanches nie, maar ten minste saam met ‘n radio operateur.
            In die verhaal is Geneviéve die radio operateur.  So ‘n posisie sou in alle waarskynlikheid gevul gewees het deur ‘n meisie vanuit FANY (First Aid Nursing Yeomanry) wie opgelei was as radio operateur ( soos byvoorbeeld Jacqueline Nearne en Odette Sansom).
            Dit was alombekend dat die Gestapo hul gevangenes gemartel het – soos in die geval van Odette Sansom (sy was die radio operateur vir Peter Churchill. Beide is as SOE agente in Frankryk ontplooi en is hulle deur ‘n lid van die weerstandsbeweging verraai, waarna hul deur die Gestapo ondervra is en in ‘n konsentrasiekamp beland het. Hulle het getrou na die oorlog). Violette Szabo was nie so gelukkig nie. Sy is erg gemartel deur die Gestapo nadat sy gevang is en is op 26 Januarie 1945 tereggestel.  Geneviéve was dus gelukkig om uit die Gestapo se kloue gered te word deur die SS Majoor, Dieter Löbe.  Hulle verhaal is natuurlik blote fiksie.
            Die verwysing na die Geallieerde lyk wat uitgespoel het, kompleet met briewetas vol “belangrike” inligting is gebaseer op ‘n werklike gebeurtenis, georkestreer deur die SOE en OSS (Office of Strategic Services van Amerika.  Die SOE en OSS het sedert 1943 saamgewerk.)  om die Duitsers van vals inligting te voorsien kort voor D-dag (operasie Overlord).
            Streng gesproke sou Conrad Dupont oor sy eie radio beskik het – die SOE agente is byvoorbeeld voorsien van ‘n sogenaamde “biscuit tin” radio (MCR-1). Die radio waarna ek verwys in die verhaal, welke Geneviéve beman het sou ‘n sogenaamde “suitcase radio” (Tipe B MK II of Tipe A MK III) gewees het.  Eersgenoemde het slegs opvangsgebied van 800 kilometer gehad, maar onder goeie omstandighede dubbel soveel.  Die radio beheerkamer sou ook nie onder werklike omstandighede in ou Pierre se beskeie woning gewees het nie, maar eerder in ‘n hut of afgeleë area omring deur groot antennas om te verhoed dat die Duitsers nie die seine met hulle sogenaamde radio direction finding vehicles kon opspoor nie.
            Nietemin – waarheid is soms vreemder as fiksie.  Niks wat hierbo beskryf is so verregaande, dat dit nie werklik net so kon plaasvind nie...
             'n Spesiale woord van dank aan my goeie vriend VvV (ex-soldaat), vir die deurgaan en korrigeer van militêre inligting.  Alle foute is steeds my eie.

DIE EINDE



No comments:

Post a Comment