Sunday, August 23, 2015

Geneviéve - Die Verraaier ( Deel 7)


Die Verraaier
“Wat die mens is, word hy deur die beweegredes wat hy sy eie gemaak het.”
Karl Jaspers
(1838 tot 1969)

Michelle lyk veel ouer as haar jare.  Sy is besig om wasgoed agter die huis op te hang.  Sy het gewig opgetel.
Sy luister uitdrukkingloos na Geneviéve en lag dan krakerig.  "Dink jy nie ek sou hom self kontak as ek geweet het hoe nie?"  Sy tel die leë wasgoedmandjie op en stap by die kombuis in.  Nadat sy die mandjie op die skoongeskropte houttafel neergesit het klim sy die trappe na die kamer waar hy geslaap het. Geneviéve is geskok as sy besef dat Michelle alles werklik net so gelos het.
Die gekreukelde hemp, wat sy daardie laaste aand aangehad het, voor die Gestapo haar kom haal het, lê op die voetenent van die bed , net waar hy dit die laaste keer gegooi het.  ‘n Eensame paar skoene staan verlate onder die bedkassie.  En niks persoonliks nie.  Nie ‘n notaboek, bybel of foto nie. Niks.
            Geneviéve steek haar hand stadig na die hemp uit, en die nostalgiese stilte bars aan skerwe.
            “Nee los! Jy raak aan niks nie!”  Michelle pluk Geneviéve aan haar arm weg van die bed.
"Hy het my liefkoos op daardie bed toe ons saam ..."  Sy bly abrup stil. "Toe verdwyn hy net sonder 'n woord.  Sonder om totsiens te sê.  Nes my man.  Ek het gedink as die Gestapo jou in hul kloue gehad het sou hy hom na my wend, van jou vergeet ..."
Geneviéve kyk verbaas na die verwaarloosde vrou met die stukkende siel.  "Jy! Jy het my verraai? En al die sabotasiepogings?"
Die verslete, lewensmoeë vrou trek haar skouers nonchalant op.  "Dit was oorlog. Ek was lief vir hom.  Hy het my nie eens raakgesien nie, behalwe daardie een aand ... Hy het net oë gehad vir jou.  Altyd na jou teruggekeer.  Selfs na die oorlog ... Ek het vir hom gesê jy is dood, sodat hy kon vergeet ... So mooi man. Gesond, aantreklik.  Dis nie reg dat sy oë so hartseer moet wees nie."
Geneviéve kan nie langer luister nie.  Sy hardloop snikkend na buite waar die son vrolik op die geel madeliefies voor die deur skyn maar in haar brein speel die mal vrou se skril stem oor en oor, soos 'n gekrapte plaat: " Ek het hom gesê jy is dood. Ek het gesê jy is dood...."  
Sy soek vertroosting in Pierre se oumenshuisie en maak haar hart oop, ook oor Dieter en Parys.  Hy skud net sy kop.  “Ja my kind.  In ‘n oorlog is daar nooit rerig net reg en verkeerd nie.”  Hy steun swaar op sy kierie en staan kreunend op.  “Jy beter my help om my tas daar bo-op die kas af te kry.  Het jy vir my ‘n kamer reg daar op die plaas?”
Geneviéve spring op en gooi haar arms om sy nek.  “Daar is vyf slaapkamers waaruit jy  kan kies!”
“Hoekom een mens ook so baie vertrekke nodig het ...”
"Dit is Conrad se erfgoed Oom.  Kom help my hier."  Sy sleep die tas deur die voorhuis na Pierre se kamer en begin van sy klere inpak.  Die ou man staar haar peinsend aan vanaf die deur.
"Hoekom gaan soek jy hom nie? "
            "Waar begin ek?  Ek dink in elk geval nie hy is na Engeland na die oorlog nie.  Hy het my vertel van sy plaas in Suid Afrika.  Dit was bestem dat ons nooit saam moet wees nie.  Ons was twee pionne, saamgegooi deur die oorlog. "

Nadat sy seker gemaak het Pierre is tevrede met sy slaapkamer en hy saam met Conrad na die wingerde is gaan sit Geneviéve agter haar lessenaar. Sy sit nog en staar nikssiende na die ou man en seun in die wingerd toe die huishoudster saggies klop.  "Hier is iemand om u te sien, Mamselle."
Geneviéve sug. "Wie is dit?"

"Ek weet nie Mamselle. Hulle wou nie sê nie."

Deel 8 - Die Opoffering ...

No comments:

Post a Comment