Friday, August 14, 2015

Geneviéve - Vaarwel (Deel 3)


Vaarwel
“Dit is nie net soldate wat oorlog toe gaan nie.”
Spaanse Spreekwoord

Ure later ontwaak Conrad stadig met 'n kloppende hoofpyn.  Hy kreun toe hy regop kom en sy hand vlieg onmiddellik na die pynlike knop teen sy slaap.  Hy steier orent en dan tref nog ‘n hou hom. Dié een van onthou.  Hy hardloop met die trappe na bo, gryp terloops sy hemp van die bed, kyk rond en haas hom dan na buite, waar die selfvoldane haan dagbreek uit volle bors aankondig.
Michelle is weer in die kombuis, besig om brood vir die Duitsers te bak,  toe hy die huis binnestorm.  "Jy het nie gisternag huistoe gekom nie. Ek het vir jou gewag ..."        
            Sy staar hom verdwaas agterna toe hy die trappe twee-twee neem oppad na bo, sonder om haar te groet.
            Haar hande val verwese, lam langs haar sye.  Hy verkies haar steeds bo my ...

Pierre skud sy kop verstom. "Elke oggend het ek op hierdie tyding gewag ... elke oggend. "  Die ou man sak vermoeid neer op die  rusbank, trane in sy oë.  “Die dag toe die Duitsers haar grond met die wingerde en die groot herehuis wat sy by haar ouers ge-erf het, opgekommandeer het, het sy gesweer dat sy alles in haar vermoë sal doen om elkeen te help wat teen die onderdrukkers baklei, al is dit die laaste ding wat sy doen. En dit mag nou die laaste ding wees wat sy doen ...”
Conrad byt op sy tande. Sy hart klop met moeite harde stadige houe in sy borskas.  "As hulle haar martel, kan sy praat ..."
Pierre kyk stadig op, ongeloof gebeitel op sy hartseer gelaat. "Is dit al waaroor jy bekommerd is?"
Conrad gaan sit langs die ouman.  "Luister Pierre, dit is oorlog.  Almal weet dat hulle 'n risiko loop om betrokke te raak  en Geneviéve het dit geweet.  Jy het dit geweet.  Die realiteit is dat sy moontlik op hierdie oomblik gemartel word en die ander koue realiteit van hierdie vuil speletjie is dat ons 'n verraaier in ons midde het!  Ek wil net so graag soos jy vir Geneviéve uit hierdie drek se kloue kry, en ek gaan alles binne my vermoë en in die tyd tot my beskikking doen om dit reg te kry, maar ons moet realisties wees. "
Pierre laat sak sy oë voor dié van die soldaat se argument.  "Sy is lief vir jou .... vanaf die eerste oomblik wat jy hier ingestap het." Die beskuldiging lê vlak en slaan hard.
Conrad laat sak sy kop in sy hande. En hy wens dit was net sy hart wat gebreek het en nie hare ook nie. Hy lig sy kop. “Pierre, London het my herroep.  Hulle sal my vanaand laat weet wanneer hulle voorraad en ‘n vliegtuig stuur. So ek weet nie hoe lank het ek om Geneviéve te help nie.  Jy sal my moet help.
Pierre knik.  “Goed.  Wat het jy in gedagte?”
"Ons weet nie wie ons kan vertrou en wie nie, so hoe minder mense ons betrek by hierdie operasie hoe beter.  Ek en jy sal na die beste van ons vermoë die  hele ondergrondse  beweging in Arromanches en St. Mere Eglise moet beveilig.  Dit is prioriteit.  Intussen kan jou vrou vanoggend na die Duitsers se hoofkwartier gaan.  Miskien kan sy uitvind waar hulle Geneviéve hou en hoe dit met haar gaan."
Die ou man knik afgetrokke.  "Ja, ja.... Ek stuur haar dadelik."

Teen laatoggend is elke weerstandsbeweginglid van die dreigende gevaar in kennis gestel en  wapens, planne, kaarte en radios is beveilig.  Teen middagete het Pierre se vrou steeds nie teruggekeer nie. Conrad stap soos 'n gehokte  leeu, op en af, voor die venster in Pierre se voorkamer.  Elke minuut draal soos ‘n leeftyd.   Hy wend hom na Pierre wat verdwaas, doodstil op die rusbank sit. “Waar bly sy!”
Op hierdie oomblik, asof georkestreer vir ‘n drama, stap 'n snikkende en selfbejammerende mevrou Pierre die huis binne.  "Hulle het net geweier! Hulle het my maak wag - die heel oggend!  Net sodat hulle my nou kon vertel dat ek haar nie mag sien nie!  Dit is verskriklik!"  Sy sak, hande voor haar gesig op die bank langs Pierre neer.  "Ek het die vreeslikste geweeklaag gehoor.  Ek is seker hulle martel haar.  Die arme kind ..." Hierop bars die vrou in 'n volskaalse geweeklaag van haar eie uit, wat Conrad se reeds rou senuwees martel soos hy vermoed hulle martel Geneviéve.  Hy maak sy oë toe.  Magteloos!
Pierre skud haar aan haar skouer, erg ontsenu. "Madame! Staak onmiddellik hierdie gegrensery!  Het jy die wagte getel?"
Met erge verbasing in haar oë kyk sy verskrik na Pierre, vlieg op en hardloop  uit die vertrek, net sodat hulle haar hartverskeurende snikke vanagter die toe kamerdeur kan aanhoor.
Pierre wend hom na Conrad, wat sy eie angs onder beheer probeer kry, deur stip deur die venster na buite staar, waar ‘n ligte briesie die laventelblomme roer. “Wat gaan ons doen?”
            Conrad draai om. “Ons gaan niks doen nie.  Ek gaan doen wat ek kan. Ek is opgelei hiervoor.  Jy gaan vir my ‘n Duitse uniform kry. Enige een.”
            “Maar M’sieur! Die Geneevse Konvensie ...!”
            “Doen wat ek sê.”

Teen laatmiddag stap 'n Duitse SS-Hauptsturmführer (Duitse SS paramilitêre rang gelykstaande aan Kaptein) met 'n flambojante swart krulsnor oor die straat na die Duitse Hoofkwartier.  Conrad gaan die gebou moeitevry binne, nadat hy een laaste keer aan die vervlakste vals snor gedruk het.  Niemand steur hulle egter aan die  SS-Hauptsturmführer nie.  Die laaste paar weke daag hier gereeld tydig en ontydig nuwe offisiere op.
Duitse administratiewe personeel skarrel rond.  'n SS-Schutze (troep) kom van voor af met 'n skinkbord en Conrad haal diep asem.  Hy kan vier tale foutloos praat. Afrikaans (sy moedertaal), Frans, Engels en Duits.  Laasgenoemde met ‘n vae aksent.   "Waar is daai mooi Franse slet? Die een wat van sabotasie verdink word, wat gisternag gearresteer is?"
Die troep kyk verskrik na die offisier wat onverwags met hom praat. Conrad strek homself tot sy volle 1.8 meter.  "Moenie net daar staan en my aangaap nie, Troep.  Praat!  En staan regop wanneer 'n offisier met jou praat!"
Die troep sluk sodat sy adamsappel verbouereerd spring, trek sy skouers terug en stammer: "Ja Kaptein. Sy is hieronder, Kaptein."
Kripties. Hy kyk vinnig na die trappe, links agter die troep.  Hy grinnik wreedaardig vir die vreesbevange jongman.  "Dit is beter. Ek sal daardie skinkbord na haar neem." Hy neem dit daadwerklik uit die vreesbevange ventjie se hande.
"Maar, Kaptein, dit is nie vir ..."
"Praat jy teë?"
"Nee Kaptein.  Dankie Kaptein."  Hy verdwyn af met die gang, maar te dankbaar om uit die teenwoordigheid van die dreigende Korporaal te kom.

Conrad klim die trappe stadig na onder.  Hy sluk as hy die gevangenes in die selle aan sy regterkant die een na die ander deurkyk, soos wat hy met die gang af beweeg.  Hul staar terug, onverbloemde haat in hul oë.
Hy stap verby Geneviéve se sel en  laat val byna die skinkbord toe hy haar herken.  Sy sit gehurk, agter in die hoek van die sel.  Haar arms styf teen haar liggaam vasgeknel en wasbleek.  Haar lang swart krulle hang in slierte half oor haar gesig.
Sy staar reguit na hom, deur hom, na ‘n wêreld wat net sy kan sien.
Hy maak sy oë momenteel toe.  Hoeveel keer het hy al hierdie optrede in slagoffers gesien. "Geneviéve ...?"
Sy staar in stilte.
“Geneviéve ...”  Hy tel die beker water op die skinkbord op en skiet die inhoud tot in haar sel.  Sy knip haar oë en kom stadig orent.
"Geneviéve, dit is ek ... Conrad."
Sy kom stadig na die tralies. "Conrad?" Haar slanke vingers vou krampagtig om die traliewerk.  “Wat soek jy hier!?”
Hy plak die skinkbord op die grond neer. Sy groot hande sluit warm om hare.
"Geneviéve, luister na my. Weet jy wanneer hulle jou weer kom haal?"  
Sy skud haar kop, haar oë twee groot poele groen vloeistof in ‘n genadelose wit landskap.
"Geneviéve, ek gaan alles binne my vermoë doen om jou hier uit te kry."  
Sy maak haar een hand los uit sy greep en sit dit deur die tralies teen sy wang.  “Ek weet London het jou reeds herroep.  Daar is nie tyd nie.  Ek verstaan ...”
Die geluid van swaar stewels op die trappe ego die hopeloosheid van die situasie. Beide van hulle kyk vinnig in daardie rigting.  "Jy moet nou gaan Conrad..."  ‘n Traan loop oor haar wang.
“Geneviéve, ek wil ... Dit was nie net seks nie. Nie vir my nie ...”  Hy wens hy kon haar styf teen hom vastrek.
Sy glimlag deur haar trane.  “Ek weet Conrad.  Gaan nou asseblief!”  Sy retireer stadig na die agterste hoek van haar sel, waar sy weer ineengetrek gaan hurk.  Conrad bal sy vuiste magteloos langs sy sye.  Dit is, benewens al sy wedervaringe as spesiale SOE agent, die moeilikste bevel wat hy nog moes uitvoer.

Pierre wag hom handewringend in.  Die pyp op die tafel lank reeds vergete.  "Het jy haar gesien?"
Conrad knik en sak moeg op die houtstoel langs die kombuistafel neer.  "Hulle het haar geslaan ... en ..."  Hy weet nie wat nog alles nie en byt die res van sy woorde terug.

Tydens radio kontak daardie nag kom die langverwagte bevel.  Môrenag. Pierre kan nie die omvang hiervan begryp nie. "Waarom? Wat van Geneviéve? Gaan jy haar net so los?"
Conrad se kop sak moeg in sy hande.  "Ek het nie 'n keuse nie Pierre .... Ek het nog nooit 'n keuse gehad nie ..."  Hy kyk stadig op en wat Pierre in die jongman se oë lees sal hom altyd bybly. Die algehele gevoel van magteloosheid, moegheid en verslaenheid.  ‘n Verlies so groot hy kan dit net hanteer deur aktief te bly in dit waarin hy opgelei is, in die wêreld waar hy hom kan onttrek van die realiteit van sy emosies.
Pierre maak sy keel skoon.  "Dit is ses ure se ry na die optelpunt.”
Conrad kyk dankbaar na die tengerige mannetjie. "Ek sal kyk wat ek kan doen voor môreaand."  Hy stap stadig terug na sy blyplek waar hy vir Michelle met al die vaardighede in sy arsenaal, vermy.

Hy maak seker dat niemand hom sien toe hy in die vroeë oggend-ure uitsluip nie.  Dit is nog stikdonker buite en hy gebruik die agterstraatjies tot by die ou klipkasteel, wat deur die Duitsers as kwartier gebruik word.  Aan die agterkant, byna teen die gebou, groei 'n oeroue boom en Conrad klouter behendig op.  Tussen die digte lower voel hy veilig en bespied die omgewing deur sy verkyker.  Hy het geen plan nie.  Hy hoop dat een sal ontwikkel sodra hy oor meer inligting beskik.
'n Lig in ‘n vertrek, op die tweede verdieping word aangeskakel.  Conrad kyk vanuit sy  skuilplek reg in die vertrek.  'n Vrou word binne gesleep deur twee troepe en ru na 'n stoel gestamp.  'n Offisier praat met haar, maar dit is te ver vir Conrad om te hoor wat  gesê word.  Hy slaak ‘n dankbare sug toe hy nie die slagoffer herken nie.
Die soldaat se hand skiet uit en die vrou se kop ruk agteroor. Sy is maer en haar bloese het geen knope aan nie.  Conrad pers op sy tande toe hy sien dat sy ook nie meer onderklere onder die ontblotende bloes aan het nie.  Dit lyk asof sy om genade smeek, maar die drie mans lag.
Conrad maak sy oë toe en kyk weg.  Hy wil nie weet wat daarbinne gebeur nie.      "Liewe Vader! Is dit Geneviéve se voorland?", prewel hy saggies en sien haar weer ineengekrimp in die koue sel.

Dit is vroegmiddag toe hy uiteindelik onverrigter sake terugkeer na sy blyplek.  Hy kon geen spoor van Geneviéve vind nie! Waarheen het hulle haar geneem?
Daar is niemand by die huis nie.  Hy kyk stadig rond in sy kamer en neem niks saam nie ...

Die ou Ford Merger trok laat een groot rookbol agter  sover hulle ry. "Gaan hierdie ding dit maak?"
Pierre glimlag wrang.  "Hierdie trok het dit al meer as een keer na verder destinasies gemaak."
Die atmosfeer in die trok is gespanne en morbied. Conrad weet die ou man neem hom kwalik.  Hy neem homself kwalik en dink oor en oor dat daar iets moet wees wat hy kan doen, maar elke keer kom hy tot dieselfde gevolgtrekking.  Niks.  Sy het net spoorloos verdwyn.
Hulle nader die verlate vliegveld vanuit die suide en wag totdat dit tien minute voor een in die oggend is voordat hulle 'n vuur aan die begin en eindpunt van die vliegveld aansteek.  In stilte kyk hulle hoe die DC 3 Douglas land.
Die vure word geblus, nog voordat die vlieënier uitklim.
"Conrad! My goeie vriend!" Edward steek sy hand na Conrad uit en omvou hom in 'n vinnige omhelsing toe dié ook sy hand uitsteek.
"Edward!"
Pierre staan stil eenkant, sy gesig uitdrukkingloos.  Conrad draai om.  "Edward, ontmoet Pierre.  Hy gaan jou regterhand wees." Pierre kom nader, hand uitgesteek.
Edward omvou die klein oumenshandjie in sy grote.  "Aangename kennis Pierre."
"Het jy ammunisie gebring?" Pierre se oë soek-soek na die vliegtuig.
"Ja, ons sal moet begin aflaai." Hy kyk bekommerd na die donker lugruim.
In stilte word die kratte oorgelaai na die Ford. Edward oorhandig die vliegbril, serp en leerbaadjie aan Conrad. "Alle voorspoed my maat."
Conrad glimlag wrang.  "Dieselfde vir jou. Jou eerste en belangrikste taak is om vir Mamselle la Rouchefoult uit die Duitsers se kloue te bevry ..." Edward rek sy oë vraend en Conrad verduidelik vinnig, bewus van die reëls waaronder hy dien. "Sy is Pierre se regterhand en die radio-operateur. Belowe my?"  Edward ken Conrad al jare en sien meer as wat hy te kenne gee.
"Ek gee jou my woord."  Hulle skud hand en Conrad wend hom na Pierre. 

"Jy kan vir Edward met jou lewe vertrou."  Hy vroetel in sy sak en oorhandig 'n foto aan Pierre.  "Gee dit vir haar ... en sê vir haar ek sal terugkom ..."  Sy emosies laat hom in die steek en hy bestyg die vliegtuig sonder 'n verdere woord.

Deel 4 - Die Duitser ...

No comments:

Post a Comment