Friday, August 21, 2015

Geneviéve - Weersiens (Deel 6)


Weersiens
“’n Ding soos oorlog kom in ‘n mens soos ‘n siekte. Waar so baie sterf, begin elkeen ‘n bietjie sterf; elkeen raak vereensaam soos ‘n sterwende loslaat alles wat buite is, in homself keer.”
N.P. Van Wyk Louw
“Die Pluimsaad waai ver.”(1964)

Geneviéve se erfgrond is verwaarloos teen die tyd dat sy dit weer in ontvangs neem.  Die huis is in redelike toestand, maar alles verg werk om dit weer in hul eertydse glorie te herstel.  Maar sy is gelukkig.  Sy het ‘n pragtige gesonde seuntjie om na om te sien, om lief te hê ... Iets wat sy weet hare is en vir altyd hare sal wees.
            Elke minuut wat sy nie aan haar seun spandeer nie, spandeer sy aan die opbou en uitbou van haar wynplaas.  Conrad se erfgrond.
            Teen die tyd dat hy ses jaar oud is, is L’Avenir se wyne bekend in Parys, London en New York.  Die twee mans uit haar verlede is haar konstante metgeselle.  Sy sien elke dag vir Dieter in sy seun.  En elke keer wanneer sy of iemand anders   hom aanspreek krimp haar hart ineen by die aanhoor van Conrad se naam.  Haar groot, verlore liefde.
            Die twee mans uit haar verlede, wat haar toekoms onherroeplik verander het. Sy is ingekeer in haarself, meng met min mense.
Sy plaas die verbleikte foto van Conrad terug in die kartondosie voordat sy sugtend opstaan en haar handtas toeknip. Sy en Conrad gaan na Parys vir hul eerste vakansie.  Besigheid is die eintlike doel van die besoek, maar Pierre het haar oorreed om ‘n vakansie daarvan te maak en vir Conrad saam te neem.
Sy het  'n suite in die elegante Hotel de Paris bespreek en Conrad is behoorlik uit sy vel van opgewondenheid.  Hy is ‘n spontane vriendelike kind wat maklik met vreemdelinge geselsies aanknoop en 'n spieëlbeeld van sy aantreklike Duitsa pa.  As hy slaap en sy kyk na hom dink sy soms aan Dieter en wonder ... wat as...?  

Op die voorlaaste dag van hul terugkeer na Arromanches ontmoet Conrad ‘n dogtertjie van ongeveer sy eie ouderdom by die swembad.  Geneviéve hou hulle glimlaggend dop, vanonder haar koeltehoekie, ‘n koerant voor haar.  Die meisie se moeder lê ‘n entjie van Geneviéve onder ‘n sambreel en sy wink vir Conrad en haar dogter nader, nadat sy aan die kelner iets gesê het.  Geneviéve stap nader toe die kelner ‘n groot pienk melkskommel voor elke kind neersit.
"Bonjour madame.  Ek bied verskoning aan.  Dit is die eerste keer wat my seun homself in Parys bevind en  ..."
Die ou vrees kom lê vlak in haar keel toe die mooi vrou Frans met ‘n swaar Duitse aksent praat.  Geneviéve ruk haarself vinnig reg. Sy het seker gemaak dat Conrad Duitse klasse neem en hy praat die taal goed en sy self skakel ook oor na Duits toe sy agterkom die vrou sukkel om haar te verstaan.
"O nee!  Hy maak glad nie  ‘n oorlas nie.  Ek en my dogter geniet die jongman se geselskap!  Ons reis baie saam met my man op besigheid en Mathilde raak maar eensaam so in die hotelle! Ons is maar te dankbaar vir sy sjarmante geselskap!”  Die Duitse vrou glimlag stralend op in Geneviéve se verbaasde gesig.  Sy het nog nooit in haar lewe so perfekte popmooi vrou gesien nie.
Geneviéve kan nie help om terug te glimlag nie. "Laat my ten minste toe om vir die drinkgoed te betaal." Sy vroetel in haar jurk se sak en bring ‘n paar note te voorskyn.
Mathilde se ma glimlag stralend. “Op een voorwaarde! Dat u en u seun ons gaste is vanaand. Conrad het ons vertel dat dit jul laaste aand in die hotel is!”
"Ja, ek moes ook vir besigheid kom, maar nou is dit tyd om terug te keer. Ek het 'n wynplaas om te bestuur en hy moet teruggaan skool toe." Sy huiwer.  Aandete saam met mense wat sy skaars ken, en Duitsers ...
Conrad se hand kruip saggies in hare, en toe sy afkyk in haar kind se oë ruk haar hart. 
Si’l de plait, Maman?”
Mathilde se moeder glimlag verlig.  “Dan sien ons julle so agt uur?”

Geneviéve glimlag gedwee toe sy sien hoeveel moeite Conrad met sy voorkoms doen vir aandete en op die ingewing van die oomblik haal sy die splinternuwe swart satyn rok wat sy eergister gekoop het uit die hangkas.  Die duursame materiaal vou vleiend om haar slanke figuur en sy draai haar hare in ‘n elegante rol agter haar kop.
In die hotel se eetkamer steek sy huiwerig vas in die deur.  Conrad sien egter vir  Mathildede raak en trek haar opgewonde in die rigting van hulle tafel.  “Daar is hulle Maman!”
Mathilde se vader, wat met sy rug na hulle gekeer sit, staan stadig op toe hy Conrad se stem hoor.  Hy draai met ‘n glimlag om sy lippe om en Geneviéve versteen in haar spore.  Haar vingers om Conrad se hand vlieg oop.
Hy maak sy mond oop maar geen woord kom uit nie. Sy groot, bekende hand omklem die stoel se ruglening, sodat sy kneukels wit deurslaan.  Dit neem al Geneviéve se wilskrag om nie om te draai en te vlug nie.
Die porseleinpop vrou glimlag innemend. “Madame! Welkom. Dit is my man, Dieter Löbe.”  Dieter staar steeds geskok na Geneviéve, sy rug na sy vrou gekeer.  Geneviéve forseer ‘n glimlag om haar mooi mond en knik haar kop effens.  My vrou sal natuurlik nooit weet nie... 
“Goeienaand M’sier Löbe.” Sy steek haar hand na hom uit.  “Geneviéve Le Rouchefoult. En dit is my seun, Conrad.”
Hy vou haar hand toe in sy grote.  Sy stem is grof en sy kan sien dat dit vir hom net so groot inspanning verg om normaal op te tree as vir haar. “Aangenaam.  Dit is my vrou, Greta.  Sy het my meegedeel dat sy en u nooit julself vanmiddag by die swembad aan mekaar voorgestel het nie, met die kinders wat so gebabbel en gespeel het nie.”
            Greta beduie vir haar om te kom sit.  “Dit was onvergeeflik van my, natuurlik. Maar ek was so verlig dat Mathilde en Conrad mekaar se geselskap so geniet het, dat ek bevrees is ek my maniere skoon vergeet het!”
Geneviéve glimlag en sak bewerig neer in die stoel wat Dieter vir haar uittrek.  Sy mompel haar dank en hou haar oë neergeslaan want in sy oë kan sy die onuitgesproke vraag lees wanneer hy na Conrad kyk.
            Die twee kinders babbel aanmekaar en Geneviéve benut die geleentheid  om onderlangs die Duitse vrou van haar voormalige minnaar te bestudeer.  Sy is pragtig, elegant en spontaan.
            Sy kyk vinnig in Dieter se rigting toe hy sy mes en vurk met militêre presisie langs mekaar op sy bord neersit. Hoeveel keer het ek hom dit al sien doen?! En vir die eerste keer die aand tuimel die verlede soos los berggruis om haar neer.
Hul oë ontmoet oor die tafel.  "U eggenoot, Madame?"  Maar wat hy eintlik wil vra is, is dit my seun?
Sy maak haar keel effens skoon, maar voordat sy kan antwoord klink Conrad se helder stemmetjie op.  "Hy was 'n held, oom Dieter. Hy was ‘n soldaat in die oorlog."
Geneviéve kyk pleitend na die groot aantreklike Duitser.  Dood, soos die verlede.  Los dit!
Greta se hand vlieg na haar keel. "Ek is so jammer !"
Geneviéve glimlag weemoedig.  "Dit was lank terug ..."  Sy kyk stip na Dieter. "Ten minste het hy my 'n seun gegee om hom te onthou. En nou moet ek en hy gaan, ons vertrek vroeg môre oggend. Baie dankie vir u gasvryheid en die heerlike maaltyd."  Sy staan op en plaas haar servet langs haar bord.
"Geen nagereg nie?" Dieter klink hoopvol.
"Nee dankie."  Vasberade. 
Conrad volg haar traag na hul suite.

Nadat hy aan die slaap geraak het laat vaar sy alle pretensie, val neer op die groot bed en laat haar hand oor die koue satynlakens vee.  Soos een dag lank gelede maak die trane twee nat spore oor haar wange.  Daardie dag in die stowwerige pad in St. Mere Eglise, het sy haarself beloof dat dit die laaste trane is wat sy sal stort vir ‘n man.  En vanaand het die verlede, wat haar hele toekoms verander het, weer soos ‘n dief in die nag gekom, en nog ‘n keer haar toekoms kom omdolwe.
Dieter het die ou verlange na Conrad wakker gemaak. En soos altyd hamer die vrae in haar brein.  Is hy getroud met eie kinders?  Leef hy nog?  Waarom het hy nooit na haar kom soek nie?  Kon sy so verkeerd wees?  Jou hart wou glo wat jou brein geweet het bestaan nie!  Hy het jou nodig gehad. Hy het self so gesê... En Dieter?  Vir die groot blonde Duitser sal sy altyd ‘n spesiale plekkie in haar hart hê, daar waar niemand kan sien  nie.
Sy staan sugtend op, vee die trane sommer met die agterkant van haar hand weg en stap na die deur, toe 'n staccato klop daarteen klink.
"Dieter ..."
"Kan ek inkom?" Pleitend.
Sy staan teësinnig opsy.
“Jy het gehuil?”  Dit lyk asof hy haar wil toevou in sy arms, maar instede druk hy sy hande in sy broeksakke.  Sy kyk weg.
“Dit was net onverwags ... Ek het gedink ek gaan jou nooit weer sien nie.”
Hy knik.  “Conrad ....”
"Ja, Dieter. Hy is jou seun ..."
Hy sak swaar in die leunstoel by die deur neer, sy kop tussen sy hande.  Toe hy opkyk is daar trane in sy oë.
"Is jy nooit getroud nie? "
"Nee."
            "Die man waarvan jy my daardie  laaste dag vertel het, die man wat jou toekoms onherroeplik verander het? "
Sy glimlag hartseer. "Jy het onthou ..."
Hy staan op en stap tot voor haar, sit sy groot hande sag op haar skouers.  “Geneviéve daar het nie ‘n dag verby gegaan dat ek nie aan jou gedink het nie.  Toe ek gesê het jy is deel van my verlede wat my toekoms onherroeplik gaan verander, het ek nie geweet hoe waar my woorde werklik was nie. “
Sy glimlag wrang.  “En Conrad Dupont het toe nie so groot invloed op my toekoms gehad as wat ek gedink het hy gaan hê nie.  Dit was toe jy ... jou seun ...” Sy laat die ongestorte trane van jare onbeheers oor haar wange stroom.
Hy vee dit af met sy duim.  "Mag ek hom sien ...?"
"Hy slaap."
"Ek ... ek sal hom nie steur nie."

Conrad lê uitgestrek op sy rug en slaap, die kombers akuins oor hom getrek.  Dieter kniel langs die bed, sy hand huiwerend bo dié van sy seun.  Hy kyk op na Geneviéve wat onseker in die kamerdeur huiwer.
            “Hy is my ewebeeld...” Met hierdie woorde stap hy stadig verby haar, uit by die hotelkamer se deur.  En weer uit my lewe.
            Sy staar hom oorbluf agterna en druk die deur sag toe.  Moeg vir alleen wees, moeg gehunker na ‘n man wat verdwyn het, en moeg gehunker na samesyn met ‘n man wat sy eie lewe en eie gesin het...

Terug op L'Avenir dwaal sy die eerste week doelloos deur die wingerde en vertrekke van die ou herehuis.  Dan maak sy ‘n doelgerigte besluit om ‘n slot op die kis van die verlede te plaas en dit nooit ooit weer oop te maak nie.  Haar wynbou is ‘n klein, maar suksesvolle besigheid. Conrad moet eerste kom – Dieter en Conrad Dupont is nou amptelik deel van die verlede, ‘n verlede waarin sy nie meer wil leef nie. Sy wil nou in die hede leef en streef na ‘n gelukkige toekoms saam met haar seun. Ja, HAAR seun!  In die verlede het baie gebeure plaasgevind waaroor sy miskien geen beheer gehad het nie, maar nou het sy beheer oor haar lewe en gaan sy seker maak dat dit so bly.
Sy gaan besoek gereeld vir ou Pierre, wat botweg weier om by haar in die herehuis te kom intrek. Sy vrou is jare terug oorlede en hy bly sielalleen in dieselfde huisie waar sy vir Conrad Dupont ontmoet het.  Sy weet nie presies hoe oud hy nou al moet wees nie, want hy was al oud in die oorlog.  Maar hy lyk dieselfde, net sy rug is meer geboë, as wat sy onthou en die oumensvlekke op sy hande meer.
            Pierre gaan sit stadig agter die tafel in die kombuis.  “Ek hou van my huis.”
            “Ek en Conrad het jou nodig.”
"Jy moet  trou. Dis nie goed vir Conrad om so sonder pa groot te word nie."           Sy staar ingedagte  by die venster uit na Michelle se huis oorkant die straat.  "Ek weet .... daar is net niemand nie..."
"Is dit steeds Conrad Dupont?"
Sy draai weg en verwyder die kokende ketel van die gasstoof.  “Ek wil nie meer in die verlede leef nie.”

"Gaan na Michelle my kind. Miskien weet sy hoe om hom te kontak. Sy sê hy het alles net so gelos toe hy weg is ....  Kry antwoorde en bêre dan die verlede.”
Deel 7 - Die verraaier ...

No comments:

Post a Comment